Regsaksie dreig oor doodskis-2 se parool

Oosthuyzen (links) en Jackson tydens ‘n hofverskyning. Foto: Phillip Bruwer

Theo Martins Jackson en Willem Oosthuyzen se regsverteenwoordiger is gereed om hom tot die hof te wend om sy kliënte op parool vrygelaat te kry.

Die twee mans se vrylating op parool is in Februarie deur die paroolraad goedgekeur. Jackson is op 27 Februarie vrygelaat en Oosthuyzen sou op 5 Maart vrygelaat word. Volgens Marius Coertze, die mans se regsverteenwoordiger, is Jackson ʼn week later “in die middel van die nag” weer by sy huis in hegtenis geneem. Oosthuyzen is nooit op parool vrygelaat nie.

Volgens Coertze moes hulle deur die media verneem dat die mans se vrylating op parool deur die paroolraad hersien word. Hy sê daar is geen redes verskaf oor hoekom die saak hersien word of hoe lank dit gaan vat nie.

Jackson (in die voorgrond) en Oosthuyzen tydens ‘n hofverskyning. Foto: Landi Malan

Coertze het Maandag ʼn skrywe aan die paroolhersieningsraad gestuur en redes versoek oor hoekom die saak sloer. Volgens Coertze sal hy volgende week ʼn hofaansoek bring indien daar teen daardie tyd nog geen antwoorde gekry is nie.

Die hersiening van Jackson en Oosthuyzen se parool kom teen die agtergrond van pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging in Desember dat hy die straf van sekere kategorieë gevonniste oortreders gaan verminder. Verlede week het Ramaphosa goedgekeur dat byna 19 000 gevangenes voortydig op parool vrygelaat word in ʼn poging om die verspreiding van die nuwe koronavirus in die land se korrektiewe sentrums hok te slaan.

Jackson (in die voorgrond) en Oosthuyzen in die hof. Foto: Phillip Bruwer

Volgens Coertze is sy kliënte reeds voor Ramaphosa se aankondiging verlede week parool toegestaan en word hulle beskou as laerisikogevangenes. “Daar is geen fisieke distansiëring in gevangenisse vir Covid-19 nie.

“My kliënte leef in onmenslike toestande aangesien geen besoeke toegelaat word nie en nodige basiese behoeftes nie aangespreek kan word nie.” Oosthuyzen ly volgens Coertze aan asma en hy ontvang nie medikasie nie. “Sy mediese toestand maak hom kwesbaar vir die virus aangesien hy reeds aan ʼn respiratoriese toestand ly.”

Jackson en Oosthuyzen se appèl teen hul skuldigbevindings en vonnisse het begin Desember in die appèlhof in Bloemfontein geslaag.

Oosthuyzen. Foto: Landi Malan

Jackson en Oosthuyzen is in 2017 gevonnis op ʼn reeks aanklagte, insluitend poging tot moord, nadat bevind is hulle het Victor Mlotshwa aangerand en in ʼn doodskis ingedwing. Oosthuyzen en Jackson is onderskeidelik tot effektief 11 jaar en 14 jaar tronkstraf gevonnis.

Die appèlhof het egter die aanklag van poging tot moord ter syde gestel en die mans skuldig bevind aan aanranding met die doel om ernstig te beseer en ontvoering. Die hof het hulle tot effektief vyf jaar tronkstraf gevonnis en die vonnisse is terugwerkend tot 25 Augustus 2017.

Jackson en Oosthuyzen het ten tyde van die appèlhof se uitspraak reeds twee jaar en drie maande van hul vonnis uitgedien, wat beteken dat hulle minstens teen April vanjaar vir parool in aanmerking moes kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Juffrou ·

Hoe belaglik. Nog ń voorbeeld van hierdie magsbeheptheid van ons regering. Steur hulle niks aan hof uitsprake nie. Maar 19,000 kriminele hol buite rond en ons gehoorsame burgers, word toegesluit!

Oomniklaassevriend ·

Al wat in die pad staan van hulle parool is sieklike vooroordeel.

minnie muis ·

tipies o ek vergeet hul is wit!!!!!!!!!!!!!!!! maak mens siek

Scalla ·

Laat hulle vry soos die ander, volgens die kriteria voldoen hul mos aan die vereiste, wat van die metro cops wat die minderjarige gedreig het en die pa in hegtenis geneem het by hul huis vanaf die strand, kom mos op dieselfde neer, wette wat afgedwing word slaan beide kante toe en daar is nie plek vir dubbelde standaarde nie.

Nie Verbaas ·

Ek wonder of die regering die 19000 kriminele se slagoffers ook toestemming gevra het of dit reg met hulle is om die gevangene vry te laat. Dit was mos wat hulle aangevoer het toe die man weer gearresteer is nadat hy op parool vrygelaat is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.