Regsaksie dreig oor gebrek aan sertifikate vir onderwysers

(Argieffoto/Unsplash)

Solidariteit gaan dringend met sy regsadviseurs vergader om regsaksie teen die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders (Saro) te oorweeg. Dit volg nadat dit aan die lig gekom het dat Saro traag is met die uitreik van Saro-sertifikate, wat tot gevolg het dat talle onderwysers nie kan registreer om hul beroep te kan beoefen nie.

Volgens Solidariteit is die stelsel by Saro gebrekkig. Van sy lede wag al langer as ʼn jaar vir hul sertifikate sonder dat hul navrae beantwoord word of enige terugvoer van Saro ontvang word. Hierdie lede kan dus nie wettig as onderwysers praktiseer nie omdat hulle nie sonder hierdie sertifikate aangestel kan word nie.

“Dit is belaglik om te dink dat die liggaam wat onderwysers in staat moet stel om hul rol in die samelewing te vervul, juis die instansie is wat weens uiterse onbevoegdheid ’n struikelblok daartoe is,” sê Anton van der Bijl, hoof van regsake by Solidariteit. “Daar is reeds ’n wesenlike tekort aan onderwysers. Om te verhoed dat nog onderwysers die arbeidsmark betree deur hul aanstellings met onbevoegde administratiewe rompslomp te belemmer, is teenproduktief.”

Solidariteit voer verder aan dat Saro ʼn statutêre verpligting het om hierdie sertifikate aan onderwysers uit te reik. Verskonings om dit nie te doen nie druis teen hierdie verpligting in en kan nie geduld word nie. Die instelling moet eerder sy prosesse beter beheer en die take verrig wat van hom vereis word.

“Saro se swak administrasie lei daartoe dat die behoefte aan gehalte onderwys nie vervul kan word nie. Ons sal nie toelaat dat nog ʼn vervalle staatsinstelling mense, en in hierdie geval onderwysers, wat alles van hulle kant af doen om te kan werk, verhoed om dit te doen nie. Uiteindelik is dit nie net die onderwyser wat daaronder ly nie, maar die publiek, wat insluit skole, leerders en ouers wat belasting op hul swaarverdiende geld moet betaal en wat geen opbrengs daaruit ontvang nie,” sluit van der Bijl af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Wilma ·

Dit is nie net onderwysers nie, my man het 3 jaar terug gekwalifiseer , hy het nog steeds nie sy sertifikaat gekry nie, hy het ‘n goeie kans op ‘n goeie werk verloor omdat hy nie behoorlike serifikaat het nie. Mpy’e wil nie werk (en dit verstaan ek) op die dokument wat uitgereik was om te sê dat jy jou kurses met hoogste lof geslaag het nie. Hy werk op die oomblik vir ‘n salaris wat regtig ‘n skande is, selfs hulle kan (wil) nie sy salaris op stoor voor hy nie serifikaat het nie.

Mieke ·

Ai tog… dis baie sleg! Kan julle nie dalk na hulle kantore toe gaan en dan daar bly staan totdat jy kry wat jy nodig het!!

Jakes ·

Noem net een ding waarin hierdie mense bevoeg is om iets ordentlik te vermag?

Hennie J ·

Dit is waarmee ons daagliks te doene het. Useless kaders met smart jobs wat net weet waar die voerkrip is.

Elize ·

Hulle hou dit terug want dan kan hulle se daar is nie genoeg onderwysers nie en dan het hulle meer rede om hierdie sg onbevoegde “assistente” aan te stel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.