Regsaksie dreig oor Poskantoorwerkers se mediese dekking

(Argieffoto)

Duisende lede van MEDiPOS, die Poskantoor se mediese fonds, kan binnekort sonder enige mediese dekking sit omdat die Poskantoor sedert April versuim om lede se bydrae aan die fonds oor te betaal – selfs al word dit steeds van lede verhaal.

In ʼn kennisgewing aan lede sê MEDiPOS ʼn beduiende gedeelte van die algehele bydrae van R213,3 miljoen wat die Poskantoor tussen 1 April en 30 September moes betaal, is steeds uitstaande. Die skema betaal intussen steeds eise, maar waarsku hy gaan dit nie onbepaald kan doen nie.

MEDiPOS sê indien die agterstallige bydrae nie teen 31 Desember betaal word nie, gaan hy lidmaatskap op 1 Januarie opskort.

Talle lede van die fonds is pensioenarisse.

Een van hulle is ʼn 76-jarige vrou. Haar dogter het op voorwaarde van anonimiteit aan Maroela Media gesê die grootste gedeelte van haar bejaarde ma se pensioengeld word aan mediesefondsbydrae bestee. Die geld wat oorbly, word aan haar uitbetaal.

Sedert April trek die Poskantoor die geld oudergewoonte maandeliks van haar pensioen af, maar dit word beslis nie aan die fonds oorbetaal nie. Sy kry steeds net die balans nadat die aftrekking gedoen is terwyl die mediese fonds nou dreig om haar lidmaatskap op te skort.

Die vrou is doof en haar dogter sê indien haar ma op haar ouderdom wél deur ʼn ander mediese fonds aanvaar word, die paaiement bes moontlik onbekostigbaar gaan wees. Die situasie is ook besig om haar emosioneel af te takel.

“Hulle is besig om die mense se geld te steel,” het die vrou gesê.

Die vakbond Solidariteit stem saam en dreig die Poskantoor nou met regstappe as hy nie gehoor gee aan ʼn aanmaning om sy kontraktuele verpligtinge na te kom nie. Volgens die vakbond behels die probleem boonop nie net mediesefondsbydraes nie, maar ook die betaling van belasting en pensioenbydraes namens sy werknemers.

“Miljoene rande is sedert April van werknemers se salarisse verhaal, maar nie ’n sent daarvan is deur die posdiens aan die betrokke fondse oorgedra nie. Dit kan as niks anders nie as diefstal beskryf word,” sê Anton van der Bijl, hoof van arbeidsregsdienste by Solidariteit.

“Die Poskantoor se versuim veroorsaak dat sy werknemers se ledebydrae aan mediese- en pensioenfondse agterstallig is, wat erge implikasies inhou en tot die beëindiging van hierdie werknemers se ledevoordele kan lei – iets wat Solidariteit nie kan toelaat nie.”

In sy aanmaning aan onder meer die Poskantoor en die minister van kommunikasie en digitale tegnologie, Stella Ndabeni-Abrahams, eis Solidariteit bewys en bevestiging van die Poskantoor dat alle geld wat by werkers afgetrek is, aan die betrokke instellings oorbetaal is.

Solidariteit sê die versuim om die oorbetalings te doen is uiters nadelig, onregmatig en moontlik selfs onwettig.

Hy het die Poskantoor tot Maandag gegee om op sy aanmaning te reageer. Indien hy dit nie doen nie, sal Solidariteit hom tot die hof wend.

“Solidariteit het nog nooit net toegekyk hoe staatsverval tot gevolg het dat staatsinstellings hul werknemers benadeel en ten koste van hulle optree nie. Ons sal ook hier die belange van ons lede beskerm en alles in ons vermoë doen om te verhoed dat hulle die slagoffers van wanbestuur deur die staat word,” sê Van der Bijl af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

domheks ·

Niks, maar niks is meer snaaks in die nuwe sa nie! Korrup tot op die been, en nog verrot ook. Hoe kan jy geld aftrek maar nie oorbetaal nie??? Kaders het weer vingers in die koekie blik. Waar is die naledi-abrams vrou, kan sy nie kyk wat aangaan nie? Of is die vingers ook daar?

Persheks Adri ·

Dis teen die wet om geld af te trek en nie oor te betaal nie! Nogals medies, pensioenfonds en UIF! Ja nee kyk alles waaraan die ANC vat is ‘n gemors vanaf 1994. Ons kort ‘n nuwe kaptein aan die stuur van sake soos in lankal al totaal en al onbevoeg

Pieter ·

Gaan orals in afrika so maar hulle sal weer vir die ANC sirkus stem.

Nie Verbaas ·

Nou wonder n mens met n funksionerende brein, waar is al die poskantoor se geld heen onbevoegde plunderende ANC?

Anel ·

Nou is ons staatspensioene volgende. Weet nie hoekom teken die pensioenarisse nie aftrekorders vir hul medies nie. As jy op pensioen gaan het die poskantoor eintlik nie meer sê oor jou nie. Dan weet jy jou medies word betaal.

Angeline ·

Die ding is die pensionarisse het hul lewe vir die organisasies gewerk. Hul alles gegee en vandag kry hulle stank vir dank. Die mense wat nou daar werk kan ander werke gaan soek maar die pensionarisse is geskrew. Die groot rede vir die goed is bedrog het niks met inkomste verliesse tydens die Covid-19 te doen nie soos daar ou beweer word nie. My ma sit in dieselfde situasie en sy gaan dit nie maak as ons haar hiervan moet verwittig nie. Ons steek dit nog weg vir haar en bid dat dit regkom voor dit te laat is.

Henry ·

Solidariteit en Agriforum blaf ook nie het die meer as n maand terug aan hulle geraporteer en geen reaksie gekry nie

Stefan ·

Staak maar weer, na die laatste groot staking gemors gebruik baie min nog die poskantoor, gebruik nie privast koerierdienste, baie meer betroubaar.

Elize ·

Genugtig ek het nie geweet daar bestaan nog poskantore nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.