Regsaksie om toppresteerders van onafhanklike skole te erken

Zoey Adlam se matriekuitslae was van die beste in die Oos-Kaap, maar sy is nie deur haar distrik vereer nie, aangesien sy matriek aan ’n semi-private skool behaal het. (Foto: Verskaf)

Zoey Adlam (19) is nie vanjaar as een van die toppresteerders in die Sarah Baartman-distrik in die Oos-Kaap erken nie, al het sy matriek met 92,7% geslaag, veel meer as van die leerders wat wel erkenning gekry het. Dit is glo omdat sy matriek aan ’n semi-private skool voltooi het, hoewel sy presies dieselfde kurrikulum as leerders in openbare skole gevolg het.

Dit was nie net ’n reuseteleurstelling vir Adlam, nou ’n eerstejaarstudent aan die Universiteit Stellenbosch (US), nie, maar het ook haar hoop op ’n studiebeurs – soos wat aan menige ander toppresteerders toegeken is – in die wiele gery.

Adlam het in haar matriekjaar sewe vakke gehad waarvoor sy onderskeidings in elkeen behaal het. Sy was ook die skool se hoofmeisie en is as dux-leerder aangewys. Sy het matriek aan die Global Leadership Academy in Jeffreysbaai behaal.

Die burgerregteorganisasie AfriForum Jeug het in die lig hiervan Donderdag ’n aanmaningsbrief aan die Oos-Kaapse onderwysdepartement gestuur om die nasionale departement se rekord van besluitneming, asook die geskrewe redes waarom onafhanklike skole en hulle leerders uitgesluit word van provinsiale erkenning, te versoek. Dit is nou onafhanklike skole wat, nes openbare skole, die KABV-kurrikulum volg.

Die jeugorganisasie voer aan dat só ’n besluit onredelik is, siende dat hierdie leerders dieselfde kurrikulum as openbare skole volg en dieselfde eksamens skryf. Boonop het die departement versuim om met lede van die publiek oor dié besluit te beraadslaag en dit dan aan onafhanklike skole oor te dra.

Zoey Adlam het in haar matriekjaar sewe vakke gehad waarvoor sy onderskeidings in elkeen behaal het. (Foto: Verskaf)

 “Die kwessie is deur die leerder se familie en skoolpersoneel by die departement aangemeld, maar die departement het versuim om voldoende met hulle te korrespondeer,” het René van der Vyver, AfriForum Jeug se woordvoerder, gesê.

“AfriForum Jeug eis nou dat die departement die amptelike akademiese plasing van die leerder, asook die lys van toppresteerders in die Oos-Kaap aanstuur.”

AfriForum Jeug versoek ook ’n vergadering met die nasionale departement van onderwys om die besluit dat onafhanklike skole en hul leerders uitgesluit word by die erkenning as toppresteerders te bespreek.

“Namate die regeringskapasiteit verval, word gemeenskappe al hoe meer gedwing om self verantwoordelikheid te neem vir hulle kinders se onderrig. Ons kan nie toelaat dat hulle weens oplossings hiervoor, soos die stig van onafhanklike skole, te na gekom word nie.”

Groot teleurstelling as werk nie beloon word

Zoey Adlam studeer tans BRek aan die Universiteit Stellenbosch. (Foto: Verskaf)

Adlam, wat nou BRek aan die US studeer, sê sy hoop dat dié regstappe sal verhoed dat toekomstige leerders onder dieselfde onregverdigheid deurloop.

“As jy sien jy is nie eerste nie, aanvaar jy dit so, maar toe ek in die koerante sien ander kinders het laer punte as ek, maar ek kry geen erkenning nie, was ek baie teleurgesteld.”

Adlam sê daar is nooit aan hulle gesê dat leerders van onafhanklike skole nie oor dieselfde kam geskeer word nie. Haar broer, Zander, is nou 16 en in dieselfde skool as waar sy was en volgens Zoey presteer hy selfs beter as wat sy destyds het. Die gesin oorweeg dit egter nou om Zander na ’n ander skool te skuif sodat hy die nodige erkenning vir sy harde werk kan ontvang.

Die Adlams sê die skool ontvang subsidies van die staat en dat die hoof selfs na ’n gala-geleentheid genooi is waar die provinsie se toppresteerders vereer is. Leerders van die Global Leadership Academy se prestasies is egter nie by hierdie geleentheid erken nie.

Adlam se pa, Riechardt, het aan Maroela Media gesê hy is nie ’n welgestelde ouer nie en dat ’n studiebeurs vir sy dogter beslis handig te pas sou kom.

Riechardt het onder meer verwys na die leerder (van ’n openbare skool) wat as toppresteerder in die distrik aangewys is, en sê dat dié kind ’n vol studiebeurs asook subsidies vir verblyf ontvang het.

Hy meen dit is ook sleg dat sy meisiekind – wat deur die departement geëvalueer is en aan al die vereistes voldoen het – met leë hande moet wegstap terwyl ander leerders beloon word.

Adlam sê sy weet van toppresteerders wat vroeër jare ook, benewens beurse, ander hulpmiddels soos skootrekenaars ontvang het.

“Universiteit is so duur en dít is alles goed wat ’n groot verskil maak as jy wil studeer. Toe dit nou nie vir my gebeur nie, moes ek ’n plan B kry. Ek het toe aansoek gedoen om hulp vanaf die finansiële hulpskema vir studente (NSFAS), en is gelukkig om ’n NSFAS-beurs te gekry het.

Adlam sê sy is nou “op ’n goeie plek” en dryf die saak nie ter wille van haarself nie, maar vir toekomstige leerders wat ook hard werk om te presteer.

“Ek was hartseer, maar ek het dit aanvaar en dis nou agter my. Ek hoop net om ’n verskil te kan maak vir ander kinders wat in private skole is, sodat hulle dieselfde regverdige kans kan kry as kinders in openbare skole.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

domheks ·

Dame, jou kleur is nie reg nie! Sterkte vorentoe, sonder ‘n beurs!

Republikein in die Wes Kaap ·

Jong dame, jy kan bly wees Stellenbosch University het jou aanvaar as student. Sterkte met jou studies. Voltooi jou graad, werk as ‘n kelner en verlaat dan hierdie gekkeparadys.

Frank John ·

Rasisme ja, Demokrasie werk nie dis ‘n klug. Demokrasie breek af en bou nie op nie. As dit beter was, hoekom is die land in dié toestand wat dit is. Dit sê my dat baie het geveg en gesterf om Demokratiese beleid te hê maar hulle wou eintlik apartheid hê maar net anders om as wat dit was.
Hulle wou net alles hê verniet, vir niks werk of betaal nie. Net grootskaalse diefstal pleeg.
Vat wat hulle nie verdien het nie.
Vat wat hul nie voor gewerk het nie.
Luiheid is die orde van die dag.

Althes ·

Dankie Afriforum Jeug dat jul die saak opgeneem het. As ons hul nie gaan stuit in hul diskrimerende rassistiese gedrewe agendas nie, gaan hul oor ons loop en vertrap.
Me Adlam ek glo jy sal ñ verskil maak met jou studies.
Suid-Afrika behoort aan almal wat wettig hier is, en ons sal nie gee pad nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Hoë inkomste lande sal haar met ope arms verwelkom. In die werkplek sal sy nie benadeel word op grond van haar etnisiteit nie. Eendag sal haar kinders vryheid geniet. Dis hoe dit is.

Anna84 ·

Ek sê julle nou, daar is net een rede en dit is omdat die regering nie stukkie van die pastei in die skool het nie. Pateties, die meisie het net so hard gewerk, maar geen erkenning word gegee nie.

Pierre ·

Verstaan nie waarom kla julle nie, Privaat skole is privaat en het niks met die staat te doen nie, dan ook is dit so belangrik om in die nuus te wees?

kaplyn ·

Sy was aan ‘n onafhanklike skool, nie ‘n privaat skool nie. Die onafhanklike skool ontvang dan subsidie van die staat af. Gaan lees weer. Privaat skole ontvang nie subsidie van die staat af nie en hulle beurse word privraat hanteer. Daar is baie mense in die land wat privaat beurse borg vir privaat skole se leerlinge wat presteer.

Hennie Biebouw ·

Spandeer eerder die geld wat jul op prokurowers wil spandeer vir die sinnelose regsaksie, op die kind se studies. Ons moet ons self help. Ons wil niks van die ANC hê nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.