Regsfirmas wat Tshwane-metro verteenwoordig ‘onder vergrootglas’

Hof

Foto ter illustrasie. (Foto: Pixabay)

Die VF Plus het tydens ʼn onlangse raadsvergadering van die Tshwane-metroraad versoek dat die gehalte van die eksterne regsfirmas waarvan die metro gebruik maak, onder die vergrootglas geplaas moet word.

Volgens Sakkie du Plooy, burgemeesterskomiteelid vir gesondheid, kom dié versoek ná aanleiding van ʼn verslag van die metro se portefeuljekomitee vir korporatiewe dienste wat op 30 November voor die raad gedien het.

“Luidens die verslag is ʼn paneel van 15 regsfirmas vir die periode van 1 Junie 2021 tot 30 Junie 2022 aangestel en is dit intussen nog nie weer hersien nie.

“Uit ʼn totaal van 108 hofsake waarin die metro betrokke was, het die metro net in 21 geslaag en 74 verloor. In 13 hofsake is ʼn skikking bereik.”

Hy sê die regskoste vir die 74 sake wat verloor is, het die metro meer as R1,5 miljoen uit die sak gejaag.

“Die vraag ontstaan dus of die regsfirmas bekwaam genoeg is om die metro te verteenwoordig.

“Dit blyk ook uit die verslag dat vyf van die regsfirmas waarvan die metro gebruik maak, nie binne die grense van Tshwane geleë is nie,” sê Du Plooy.

“Die party is van mening dat die metro eerder van plaaslike regsfirmas se dienste gebruik moet maak en dat die huidige paneel hersien moet word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.