Regspan hoop op tweede kans vir ‘US-urineerder’

Universiteit Stellenbosch. (Foto: Facebook)

Theuns du Toit, die student wat in Mei op sy medestudent Babalo Ndwayana se besittings by een van die Universiteit Stellenbosch (US) se manskoshuise geürineer het, wag nog om te hoor wat sy toekoms by dié universiteit inhou en die moontlike straf wat hy hiervoor sal moet uitdien.

Du Toit se regspan hoop egter dat die universiteit se tugkomitee hom ʼn tweede kans sal gun om sy studie te hervat.

Du Toit het op 22 Junie voor die US se sentrale dissiplinêre komitee, bestaande uit vier onafhanklike komiteelede wat ingevolge die universiteit se dissiplinêre kode aangewys is, verskyn. Die uitspraak is egter voorbehou.

“Van die begin af was dit my oogmerk dat hy net nog ʼn kans gegun word om hierdie jaar met sy studie voort te gaan of volgende jaar weer te begin,” sê William Fullard, Du Toit se regsverteenwoordiger.

“Hy is al vir twee maande geskors en dit op sig self is reeds ʼn straf.”

Fullard verwag wel dat Du Toit een of ander soort straf opgelê sal word.

“Ons verwag ʼn tipe sanksie van die universiteit af, soos ʼn straf waarin hy óf skriftelike om verskoning moet vra óf gemeenskapsdiens moet doen. Die swaarste straf wat opgelê kan word, is dat hy permanent geskors word. Ons het egter geargumenteer dat hierdie soort straf nie geregverdig kan word nie, aangesien dit sy eerste oortreding is.”

Indien Du Toit skuldig is aan wangedrag en permanent geskors word, bestaan die moontlikheid wel dat hy elders in die land kan studeer, afhangend van daardie universiteit se oorweging en goedkeuring.

Du Toit het tydens die tugverhoor ʼn volledige skriftelike pleitverduideliking ingedien oor die betrokke aand se gebeure.

“By die verrigtinge het ons nie ontken dat hy op die lessenaar geürineer het nie, maar ons het wel ontken dat dit rasgemotiveerd was,” sê Fullard.

Du Toit het in sy verduideliking gebieg dat hy voor die voorval baie alkohol ingeneem het.

Slagoffer onttrek

stellenbosch urineer video

‘n Skermgreep uit die video van die voorval.

Ndwayana, op wie se besittings geürineer is, het kort nadat die tugverhoor begin het, van die verrigtinge onttrek – boonop sonder om ʼn mondelinge getuienis oor die voorval te gee.

Fullard sê Ndwayana het die oggend voor die verhoor saam met twee prokureurs van Unisa af opgedaag. Die prokureurs wou deel wees van die verrigtinge en namens Ndwayana optree.

“Die probleem is egter dat die universiteit se dissiplinêre kode wat hierdie soort tugverhore betref, nie voorsiening maak vir ʼn vergunning soos dié nie. Die tugverhoor verloop amper soos met ʼn kriminele saak waar die getuienis nie hul eie prokureurs kan hê nie. Dit is dus net die staatsaanklaer, in hierdie geval die getuienisleier, en ek as die verdediging, wat kon deel wees van die verrigtinge,” sê Fullard.

Ndwayana en sy prokureurs het toe besluit om te onttrek en die verrigtinge te verlaat.

“Ndwayana het nie voor die paneel getuienis afgelê nie, maar wel twee verklarings ingedien wat hy voor die verrigtinge afgelê het.”

Volgens Fullard wag albei partye nog op terugvoer oor die uitspraak, aangesien daar nie ʼn datum vir die uitspraak aan hulle bekend gemaak is nie.

Kriminele klagte

Ndwayana het enkele dae ná die urine-voorval strafregtelike aanklagte van huisbraak, opsetlike beskadiging van eiendom en crimen injuria teen Du Toit aanhangig gemaak.

Fullard, wat deurlopend met die ondersoekbeampte in die saak in verbinding is, sê Du Toit het reeds sy verklaring vir die polisie gegee.

“Die polisie is egter nog besig met die ondersoek. Die dossier is reeds na die senior aanklaers in Kaapstad gestuur, waar hulle nou moet besluit of hulle vervolging wil instel.”

Indien Du Toit strafregtelik vervolg word, sal ʼn dagvaarding op hom beteken word om in die hof te verskyn. Dit is egter nog nie duidelik wanneer die aanklaers terugvoer in hierdie verband sal gee nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Althes ·

Elke persoon verdien ñ tweede kans. Ek glo hy sal nou in sy spoor trap indien hy weer toegelaat word. Sy optrede het groot skade berokken veral as gevolg van sy genetika (mooi gestel)

Marcello ·

Wie van ons maak nie foute nie??, om hom te skors is baie drasties, is dit omdat sy ras nie toegelaat word in hierdie land om foute te maak nie. Sterkte aan du Toit en sy regsverteeenwoordiger.

VaalDonkie ·

Nee hy MOET leer om nie ‘n vark te wees nie. Dit hoef nie sy hele lewe te verwoes nie, maar hy MOET leer dat daar gevolge is, al is jy ook jammer. Die les sal eers vasgevang wees wanneer hy vir ‘n ruk lank nie mag studeer nie. Laat hom maar in 2023 weer sy studies hervat.

Johan ·

Ek hou van die voorstel in jou laaste sin. Om nét ‘n jammer aan te bied is nie voldoende teregwysing nie, maar as hy gestraf word om sy studies eers volgende jaar te mag hervat sal dit hom stof tot nadenke gee !

Harley Davidson ·

Dit is nogsteeds lagwekkend en net bedoel om rasse spanning te bevorder deur die media se sensasie soekery.

annie ·

Die vraag is steeds wat sou die Matie so kwaad gemaak het dat hy nou in tamatiestraat sit. Die rede waarom dit stil gehou het is seker ‘n menseregte-geheim vandaar dat die lydende party so ‘n show opskop. Die pyn moet erg wees. Dat die arme lyer al die pad uit die Oos-Kaap verby naderliggende universiteits moes strompel na US om daar so verontreg te word. Sjoe hoe pyn my ou liddoring ook nou.

Swerwer ·

Sò belaglik. Dit is nou tipies wanneer ouers inmeng en rassisme aangeblaas word tot voordeel van die ouers. Die 2 jong seuns kon lankal dit tussen hul 2 op ‘n volwasse manier opgelos het en die ouers van beide kon ook met mekaar in verbinding gewees het en dit opgelos het. Maar sodra Rassisme en regsspanne ingeroep word ontaard dit altyd in ‘n onnodige rassehaat. Dit was bloot ‘n wan optrede van
Theuns terwyl hy onder die invloed van drank was en tien teen een uitgedaag was deur een van sy makkers

JohanR ·

My ou jy moet bietjie die brandewyn, bier en wyn los, of net 15 glase elke aand drink en nie 50. Urine is al klaar stink maar as daar alkohol in die mengsel is dan is dit eers stink……daai arme skootrekenaar!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.