Regstappe kom ná drank waarop polisie ‘beslag lê’ verdwyn

Polisielede besorg die drank terug nadat die hooggeregshof bevind het daar is onregmatig daarop beslag gelê.

Die eienaars van ʼn gewilde kuierplek in die ooste van Pretoria beoog siviele regstappe teen die polisie nadat daar tydens die afsonderingstydperk sonder rede op drank ter waarde van duisende rande beslag gelê is.

Mark Eybers, een van die eienaars van Padstal, sê die polisie het op 15 Julie by die onderneming opgedaag.

Volgens Eybers het ʼn man kort tevore by die kuierplek aangekom en ʼn kroegman gevra om twee bottels drank te koop. Die verkoop van alkohol was ingevolge die afsonderingsregulasies onwettig. Die kroegman het egter op sy eie besluit om twee bottels drank uit ʼn stoorkamer te gaan haal en het dit sonder die medewete of toestemming van die eienaars aan die persoon verkoop.

Minute later het talle swaargewapende polisielede op die perseel toegeslaan.

“Die polisie het gesê hulle gaan die kroegman in hegtenis neem, wat heeltemal billik was, en is daarna in ons stoorkamer in waar hulle besluit het om op die drank beslag te lê,” het Eybers gesê.

“Hulle het egter nie op al die drank beslag gelê nie, maar uitgesoek wat gekonfiskeer moes word. Dit was asof hulle besig was om inkopies te doen.”

Eybers sê die polisie het eindelik drie bakkies en twee motors stampvol drank gelaai. Die eienaars van Padstal is egter in geen stadium toegelaat om ʼn inventaris van dít waarmee die polisie wou vort gaan, op te stel nie. Volgens Eybers het die polisie op die perseel self oënskynlik ook geen lys opgestel van drank waarop beslag gelê is nie.

Die polisie het gesê Padstal se eienaars kan hulle na die Silverton-polisiestasie volg, waar die drank in die bewysstukstoor gehou sou word. Daar, sê Eybers, is hulle egter nie eens in die polisiestasie toegelaat nie en met inhegtenisneming gedreig.

Die kroegman wat die drank aanvanklik verkoop het, is ingevolge ʼn oortreding van die Wet op Rampbestuur aangekla. Die persoon wat die drank by hom gekoop het, het intussen spoorloos verdwyn. Geen klag is teen die eienaars van Padstal aanhangig gemaak nie.

Polisielede besorg die drank aan padstal terug.

Eybers sê etlike dae later het hulle einde ten laaste ʼn lys van die polisie ontvang van die drank waarop die polisie – volgens die polisie se inventaris – beslag gelê het. Dit was volgens Eybers egter aansienlik minder as die hoeveelheid drank waarmee die polisie oorspronklik weg is.

Eybers sê hulle het ʼn dag voor die beslaglegging ʼn volledige voorraadopname van die drank op die perseel gedoen. Twee dae ná die beslaglegging het hulle weer ʼn voorraadopname gedoen en ʼn groot verskil gevind.

Nic Loubser, Padstal se regsverteenwoordiger, sê hulle het op 23 Julie ʼn dringende aansoek in die Pretoriase hooggeregshof gebring en gevra dat die drank terugbesorg word omdat dit onregmatig gekonfiskeer is.

Die hof het op 14 Augustus in Padstal se guns beslis, bevind dat die beslaglegging onregmatig was en beveel dat die drank binne 48 uur aan Padstal terugbesorg moet word. Die polisie het dit Maandag gedoen, nadat die spertyd reeds verstryk het.

Eybers sê die voorraad wat die polisie terugbesorg het, verskil egter weereens van die lys van drank wat die polisie self opgestel het.

Van die geseëlde bokse is boonop oopgemaak en drankbottels word uit verskeie daarvan vermis.

Volgens Loubser doen hulle in hierdie stadium ʼn berekening van watter voorraad vermis word, asook van wat die verlies aan inkomste weens die beslaglegging was om vir skadevergoeding te dagvaar.

Volgens Eybers het die afsonderingstydperk en die verbod op die verkoop van alkohol hulle onderneming swaar getref en die beslaglegging was ʼn verdere terugslag.

“Dit was omtrent soos ʼn gewapende roof. Die polisie was geklee in onluste-uniform en met gewere gewapen. Dit was geweldig intimiderend.” het hy gesê.

“Ons gaan die saak nie daar laat nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Androclus ·

Moenie daardie saak daar laat nie,want in daardie tyd wat hulle die drank kom vat het ,het hulle alleen dronk geword van daardie drank almal klomp skelms.

twaalfboor ·

Ou af vingertjie….. ek is self ñ polisieman, al vir 35 jaar, en stem heelhartig met Androclus saam.

Wondermaarnet ·

Die polisie het floreer op drank en sigarette wat afgevat was. Het cele regtig gedink sy manne en vroue gaan alles konfiskeer?

Trotse Boervrou ·

Indien mens net kyk na AL die korrupsie gedurende die inperking dan is hierdie nie meer ontstellend nie. Daar is duisende sulke gevalle waar dit maar te lekker gegaan het. Dit is hoe ons regeer word en die “nuwe normaal” indien jul reg onthou. Wat my grief is dan word ouers in hegtenis geneem omdat hul dogtertjie op die strand op hardloop. Hoe maak dit sin. Mense se geduld is op. Patetiese Regering.

Adeline ·

Soos ek al verskeie kere gesê het – die sap(diens) is net so voos vrot korrup soos enige ander staats departement en ja veral geniaal in die beplanning en uitvoer van hierdie korrektheid… soos voorheen sal die saak ook ‘n stille dood sterf sonder rekenskap van wat verkeerd gedoen is teenoor die wettige RZA burgers…. die wet is bokant die wet!!

Ansie ·

Ek hoop die eienaars kan die polisielede identifiseer en ek hoop hulle stel ‘n skadevergoedingseis teen daardie polisielede persoonlik ook in.

MPI ·

Hierdie klink vir my beslis soos “Entrapment”. Die persoon wat kom drank koop het was gestuur deur die einste polisie om die lokval te stel.

Genis ·

Jy is heeltemal reg, dit was n gewapense roof… lekker man lekker… Mos bo die wet, en skelm..

JohanR ·

Kan ons dan se die enigste dronkies in Suid Afrika vanaf 26ste Maart was polisiemanne. Sou ons met party die verskil kon sien in en voor Covid-19?

Henk ·

Gerugte aangaande drankhandel deur persone wat voorraad vanaf ongeïdentifiseerde SAPS lede sou ontvang het in die Silverton-Eersterus-Waltloo area doen geruime tyd reeds die rondte. Of daar waarheid daarin steek sal ons seker soos met die meerderheid ander gevalle van beweerde korrupsie nooit regtig weet nie. Mens kan seker maar dink wat jy wil …

Nienie ·

Ag asseblief, hier gaan weer niks van kom nie. Dit is soos die regerende party wat sy eie amptenare aanstel om korrupsie te ondersoek in sy eie party. Daar gaan absoluut niks weer van dit kom nie. Dit was in alom bekend dat die meeste van die “swart mark handel” gedoen was deur amptenare

Nonnie ·

DIE SAPD IS DIE GROOTSTE KRIMINELE ORGANISASIE IN DIE LAND…….

Scalla ·

Ek sal nie verbaas wees as Hoedeman se persoonlike drankkabinet aangevul was met duur veresnitte nie!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.