Regter-president kry weer hou in hof

Die Wes-Kaapse regterpresident, John Hlophe. (Foto: judgesmatter.co.za)

Die Wes-Kaapse regter-president, John Hlophe, is nog ʼn hou in die hof toegedien nadat sy aansoek om sy skuldbevinding op growwe wangedrag te hersien, van die hand gewys is.

Die Gautengse hooggeregshof het Donderdag elkeen van Hlophe se bewerings verwerp en tot die gevolgtrekking gekom dat die Regterlike Dienstekommissie (RDK) reg was om hom skuldig te bevind.

Dié kwessie gaan nou voor die parlement gebring word om te besluit of die senior regter toegelaat moet word om in sy amp voort te gaan.

Johann Kriegler, vername oudregter en voorsitter van Freedom Under Law, verwelkom die hof se stelling dat daar geen ruimte is vir die parlement om opnuut oor die regter se skuld te besluit nie en dat sy skuldbevinding slegs berus op die RDK se feitebevindinge.

Die regterlike gedragstribunaal het Hlophe meer as ʼn jaar gelede eenparig skuldig bevind aan growwe wangedrag. Dit volg nadat hy in 2008 twee regters van die Konstitusionele Hof probeer beïnvloed het om hul ampseed te skend en in oudpres. Jacob Zuma se guns te beslis tydens ʼn saak wat hom betrek het.

Volgens Kriegler het Hlophe hom net tot die hof gewend ná die skuldbevinding in die hoop dat sy vervolging vertraag sou word. Dit is egter nou van sleutelbelang dat Hlophe so gou moontlik vervolg word.

“Dit is duidelik in die belang van geregtigheid en die oppergesag van die reg dat hierdie vervolgingsproses sonder enige verdere vertraging onderneem word,” sê Kriegler.

“Byna 14 jaar het verloop sedert Hlophe probeer het om die verloop van Zuma se strafpleging te verdraai. Die Wes-Kaapse afdeling van die hooggeregshof moes al te lank met Hlophe as hoof voortsukkel.”

Volgens Kriegler het Freedom Under Law, ʼn organisasie sonder winsoogmerk, al jare lank onsuksesvol daarop aangedring dat, soos die Grondwet dit toelaat, Hlophe uit sy amp geskors word terwyl die proses teen hom voortgaan.

“Ons het dit al menigmale voorgestel, maar geen reaksie daarop gekry nie,” sê hy.

Die besluit of Hlophe inderdaad geskors sal word, berus uiteindelik by pres. Cyril Ramaphosa op advies van die RDK en die parlement. Kriegler wou egter nie bespiegel of die moontlikheid bestaan dat Hlophe wel geskors sal word nie.

“Ons sal enige verdere pogings deur of namens Hlophe om die vervolgingsverrigtinge teen hom te belemmer of te vertraag, teenstaan.”

Die Kaapse Forum is ook verheug oor die uitspraak en sê die Kaapse regbank kan nie langer bekostig om met ʼn regter-president opgeskeep te sit wat skuldig is aan onbehoorlike optrede nie.

“Soos Zuma al telkens met ernstige klagtes teen hom gedoen het, het Hlophe verseker dat optrede teen hom tot nou vertraag is. Dit het ongetwyfeld ʼn negatiewe uitwerking op die geloofwaardigheid van die Kaapse regbank om Hlophe toe te laat om belangrike sake te verhoor,” sê Heindrich Wyngaard, uitvoerende voorsitter van die Kaapse Forum.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

JohanR ·

Agh asseblief tog laat die ou tog nou @Voertsak! Werk al jare vir die ANC in die hodfe, soe hy sal nie uit werk wees as hy @Voertsak nie!

Samuel ·

Om vir Ramaphosa te wag om ‘n besluit te neem is om jare te wag. Hy sal eerder ‘n kommissie aanstel om aanbevelings te doen as om self te besluit. Hy is ruggraatloos.

Pieter9 ·

Hoe gouer hierdie man uit die sisteem verwyder word, hoe meer hoop is daar dat daar aan die regsstelsel gewerk kan word om hul onafhanklikheid en integriteit te bevestig en in stand te hou.

Sobymykoolkop ·

Siestog, en as almal klaar hul menings ens uitgespreek het is hy met pensioen.

Pietertjie ·

Ly Hlope nou ook aan die Jacob-Zuma-sindroom? Van die simptome is ‘n ernstige aversie vir die howe, en skielike gesondheidsaanvalle op verskyningsdatums.

My siening ·

Die ANC regter moet nou vir eens ontslae geraak van, hy is korrup en help alle skelms in die Kaap! Ons het nie gemors soos hy nodig nie!

Jr ·

Die sirkus tent in Pretoria gaan nou vind dat sy vrou nie direkte familie van hom is en DUS is hy onskuldig ala gesondheid mini – star

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.