Regulasies versterk saak teen ramptoestand

Foto ter illustrasie. (Foto: Mariana Proença/Unsplash)

Solidariteit sê dat die regulasies wat minister Nkosazana Dlamini-Zuma gister uitgereik het, sy saak teen die regering oor die ramptoestand in verband met die kragkrisis versterk.

Volgens Solidariteit kon al die maatreëls wat in die regulasies vervat is by wyse van bestaande wetgewing uitgevoer word en moes dit ook al gebeur het.

“Hierdie regulasies en die ramptoestand is eerder ʼn tree terug in die stryd teen die kragkrisis. Dit bevestig ook ons aanvanklike posisie dat alles wat die regering met die ramptoestand wil doen al lankal gedoen kon wees met die bestaande instrumente tot sy beskikking,” verduidelik dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Maroela Media het vroeër berig Dlamini-Zuma het, byna drie weke nadat pres. Cyril Ramaphosa die nasionale ramptoestand afgekondig het om die voortslepende kragkrisis te pak, die spesifieke regulasies wat daarmee verband hou, in die Staatskoerant bekend gemaak.

Solidariteit wys verder daarop dat die regulasies hoegenaamd nie die weg baan vir goeie bestuur van die krisis nie en dat die verslapping van oorsigmaatreëls wel die risiko van swak bestuur drasties verhoog.

Solidariteit sê ook dat die hoeveelheid mag wat aan die minister van samewerkende regering verleen word, uiters kommerwekkend is.

“Die onderliggende idees is ’n mengsel van sleg, baie sleg en waansinnig, en al was daar goeie regulasies sou die feit dat feitlik alle beheer oor die bestuur van die krisis ingevolge hierdie regulasies onder minister Dlamini-Zuma val, selfs dít ongedaan maak. Die regulasies het eintlik net al die verantwoordelikhede van die regering en Eskom rondom een van ons mees bedenklike ministers gesentraliseer. Al hierdie dinge moes al lankal gebeur het; daar is egter geen rede om te dink dat dit vinniger gaan gebeur omdat minister Dlamini-Zuma nou beheer neem oor die hele proses nie,” voeg Hermann by.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

annie ·

Nee, die ware redes vir die ramptoestand het ons nog nie gehoor nie… Dis toekomsgerig vir ingeval die ANC en veral die top-kaders dit nodig sou kry sou hul posisies bedreig word bv in 2024 wanneer die ANC se stempersentasie dalk val wat reeds die angsvlakke laat styg. Om sowat twee miljard se lekkerlewe sommer prys te gee? Nooit!

anko ·

Is daar dan nêrens n moontlikheid dat n heeltemal onafhanklike van waar ookal, wat geen bande het met huidige regering, Eskom kan ondersoek nie.

Christine ·

Daar was ‘n private ondersoek deur ‘n Amerikaanse maatskappy wat wereldwyd na kragtoevoer in lande kyk, hier wat betrokke was die afgelope drie jaar. Hulle het uitgewys dat die korrupsie by Eskom so groot is soos ‘n ,eindelose put, maar het ook gesê hulle is besig om die net stywer te stel om die skuldiges. Dalk is dit deel van die De Ruyter en Daily Maverick ondersoeke wat nou uitkom .

Christine ·

Die ANC-regering is een groot ramptoestand en Dlamini-Zuma een groot ramp opsigself. Ek voel dis ingestel met die De Ruyter-blootstelling van die waarheid en enige moontlikheid van hooggeplaaste korruptes wat moontlik hul poste gaan verloor en wat hul mafia en moord kartelle kan loslaat in terroriste aangeleenthede. Die ANC gaan nog teen hul eie kaders draai wanneer elke ou gaan baklei vir homself, dis maar hoe karma werk. Ek hoop hulle brand hulself uit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.