Reguleerder wil regsmening kry oor WhatsApp

Suid-Afrika se Inligtingsreguleerder oorweeg dit om regstappe te doen oor WhatsApp se planne om gebruikersdata met Facebook te deel.

WhatsApp-gebruikers is vroeër vanjaar in kennis gestel dat hulle moet toestemming gee tot ’n nuwe beleid vir die gebruik van data wat dit moontlik maak om meer private inligting met Facebook te deel vir advertensie- en e-handelsdoeleindes.

Die Inligtingsreguleerder het in Maart gesê die nuwe privaatheidsbeleid oortree die land se wette rakende die beskerming van persoonlike inligting.

Die reguleerder het intussen ’n versoek aan WhatsApp gerig en gevra om sy privaatheidsbeleid in Suid-Afrika te hersien volgens die standaard wat in die Europese Unie (EU) gebruik word.

In ’n verklaring Donderdag het die reguleerder gesê dat hy tot dusver “geen ooreenkoms” van WhatsApp ontvang het nie.

“Onder die omstandighede het die reguleerder advokate in kennis gestel om ’n regsmening op te stel oor die pad vorentoe betreffende litigasie.”

Die reguleerder het ook die portefeuljekomitee vir justisie en korrektiewe dienste gevra om verteenwoordigers van Facebook Suid-Afrika en WhatsApp te versoek om in die parlement oor hierdie aangeleentheid te verskyn.

“Ons is as die reguleerder verplig om die beskerming van alle Suid-Afrikaners se persoonlike inligting te verseker en nakoming van die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (Popia) deur verantwoordelike partye te monitor,” het adv. Pansy Tlakula, voorsitter van die reguleerder, gesê.

WhatsApp het gebruikers tot 15 Mei gegee om die nuwe privaatheidstellings te aanvaar nadat die sperdatum aanvanklik 8 Februarie was.

WhatsApp het egter ook gesê dat hy nie onmiddellik gebruikers sal afskop wat nie die nuwe bepalings aanvaar nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Fedup ·

I can always give a bit of advice of what exactly you can do with whattsapp if this policies want personal data.

Pietertjie ·

Hoera! Iets positiefs is op die horison! Hoeveel mense besef dat die astronomiese pryse wat ons betaal vir goedere, hulle oorsprong het by die astronomiese winste uit advertensies? Waar kom YouTube, Twitter en Facebook se inkomste vandaan? Samevoeging gee mens ‘n idee…

Ansie ·

YouTube, Twitter, Facebook, ens. is gratis apps tot gebruikers se beskikking. Dit gaan jou niks kos nie, so wat is die probleem? Ek kan nie verstaan waarom mense kla as die skeppers van apps geldmaak daaruit nie – jaloesie? Gun hulle dit, daar sal niks van jou weggeneem word nie.

Anoniem ·

Verduidelik dan asb hoe maak Facebook en Twitter dan geld Ansie?

JanSt ·

Ag jinne outjies. Daai skip het geseil toe Facebook toegelaat is om WhatsApp te koop. Op daardie oomblik behoort daardie data in elk geval aan die koper. Hierdie is net om dit formeel te maak dat facebook sigbaar jou data kan gebruik. Hulle gebruik jou data klaar om jou te profile en advertensies te wys.

Cherokee ·

Ek het totsiens gesê vir WhatsApp en gebruik Telegram wat identies is, met ietwat meer verbeeldings aktiwiteite.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.