Reisagent skuldig aan diefstal

(Argieffoto: Marianne Styan)

Die eienaar van ʼn Kaapstadse reisagentskap is Donderdag skuldig bevind aan sewe aanklagte van diefstal nadat sy die geld vir verskeie kliënte se eilandvakansies geneem het, maar nooit die besprekings vir hulle gedoen het nie.

Crescenda Meyer (50) het in die Pretoriase handelshof skuldig gepleit op die aanklagte teen haar.

Lumka Mahanjana, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het gesê Meyer het ʼn reisagentskap genaamd Style Breakaway Travel bedryf.

In 2018 het sewe Gautengse egpare haar gevra om hul groep se reisreëlings vir ʼn vakansie na Zanzibar te hanteer.

“Meyer het die groep voorsien van ʼn reisplan en fakture en hulle het afsonderlike betalings met ʼn gesamentlike geheelbedrag van R214 000 gemaak.

“Meyer het die geld geneem, maar dit vir haar kêrel geleen,” het Mahanjana gesê.

Met hul aankoms by die lughawe voordat hulle met hul eilandvakansie sou vertrek, het die groep besef geen besprekings is gedoen nie.

Hulle het ʼn saak van diefstal by die polisie aanhangig gemaak en Meyer is in Junie verlede jaar in Kaapstad in hegtenis geneem.

Adv. Patrick Tinyiko Nkuna, staatsaanklaer, het die skuldigbevinding verwelkom en gesê dit gaan openbare vertroue in die vervolgingsgesag help herstel.

Meyer word op 3 Desember gevonnis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Scalla ·

Hoekom vat dit 2 jaar vir vonnisoplegging, , sake word te veel uitgestel.

Stofdonkie ·

Want die regstelsel is ‘n groot klug. Hulle maak net so nou en dan ‘n voorbeeld van ‘n wit vrou om vertroue in die NVG te “herstel”, maar daar is ernstige sake wat vir jare en jare voortsleep. Dit is nie meer ongewoon vir ‘n saak om tot 15 jaar te draai nie, en die NVG doen niks om sake af te handel nie.

ES ·

Scalla, ek stem saam met jou. Die regter doen ook navorsing vir sy / haar beslissing deur joernaal artikels, handleidings en ander hofbeslissings te oorweeg wat deel maak van die hofstuk en hul uitspraak. Dit kan lank vat, maar beslis nie 2 jaar nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.