Reserwebank trap rem; regering sê, ‘gee vet’

Die Suid Afrikaanse Reserwebank (Foto: AP)

Suid-Afrikaners kan maar verwag dat die regering vorentoe selfs nóg meer politieke druk op die Reserwebank gaan plaas in ’n poging om inflasie nóg verder op te jaag.

Die regering glimlag breed wanneer inflasie opgestoot word aangesien inflasie die waarde van geld en natuurlik die waarde van (staat-) skuld erodeer. Intussen ween Suid-Afrikaners op pad bank toe.

Die ekonoom Dawie Roodt het vir die Reserwebank in die bresse getree wat verlede week tot miljoene Suid-Afrikaners se misnoeë besluit het om die rentekoers wéér op te stoot.

Ja, die jongste (en hoeveelste) verhoging van die rentekoers gaan beteken dat Suid-Afrikaners elke sent nóg ’n keer omdraai. Werkloosheid gaan toeneem, armoede gaan toeneem en maatskaplike spanning gaan toeneem.

Dít is presies wat die Reserwebank wil bereik, sê Roodt.

Hy verduidelik dat indien die Reserwebank verlede week besluit het om nie die rentekoerse te verhoog nie, die gevolg selfs hoër inflasie sou gewees het “wat erger is as hoë rentekoerse”.

“Aangesien die staat te veel skuld het en die regering al meer wil bestee (in nominale terme), is die enigste logiese opsie vir die regering om druk op die Reserwebank te plaas om inflasie te laat loop.

“Verwag daarom selfs meer politieke druk op die bank; dreigemente om dit te nasionaliseer of om sy mandaat te verander. Dit is alles pogings om die sentrale bank te dwing om ʼn minder beperkte monetêrebeleidsbenadering te volg en gaan tot gevolg hê dat inflasie handuit ruk.

“Dit beteken monetêre beleid en ander makro-ekonomiese beleid sal voortgaan om in teenoorgestelde rigtings getrek te word en daar kan net een verloorder wees – die ekonomie.”

Roodt verduidelik dat die fiskale rekeninge, waarvoor die minister van finansies verantwoordelik is, onvolhoubaar geword het bloot omdat die staat te veel geld bestee.

“En meer besteding stook die vraag in die ekonomie aan, presies wat die Reserwebank wil vermy.

“So, ons het die sentrale bank wat die rem trap om inflasie laer te kry terwyl die minister van finansies die petrol trap met buitensporige besteding. Dit alles gebeur in ʼn onmededingende makro-ekonomiese omgewing wat deur die ANC-regering geskep is.

“Moenie die bank blameer vir hoër rentekoerse nie, blameer die ANC-regering vir die skep van ʼn onmededingende makro-ekonomiese omgewing met sy onbevoegdheid en korrupsie.”

Inflasie is proses, nie gebeurtenis

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die Reserwebank se monetêre beleidskomitee het die rentekoers verlede Donderdag met nóg 50 basispunte tot 8,25% verhoog. Dit bring die prima uitleenkoers op 11,75% te staan.

“Dit werk só,” verduidelik Roodt. “Ons ken almal die vraag- en aanbodteorie: Verminderde vraag beteken pryse daal of styg stadiger. As alles volgens plan werk, sal die inflasiekoers uiteindelik tot binne die teikenband van die bank val, maar dit gaan ʼn lang en pynlike proses wees.”

Roodt sê dit is belangrik om te verstaan dat inflasie nie ʼn gebeurtenis is nie, maar ʼn proses.

“Die styging in die prys van petrol is byvoorbeeld nie inflasie nie. Dit word ʼn proses wanneer hierdie aanvanklike prysskok van een ekonomiese agent na ʼn ander oorgedra word. Almal probeer om die pyn van hoër pryse te ontsnap deur dit na iemand anders in die ketting van ekonomiese gebeure te probeer verskuif en hul eie pryse te verhoog.

“Deur rentekoerse te verhoog, smoor die bank die vraag na krediet, wat dit moeiliker maak vir ekonomiese agente om die pyn oor te dra. En indien dit uiteindelik slaag om inflasie laer te dwing, sal dit die swakste ekonomiese agent(e) in hierdie ekonomiese ketting van gebeure wees wat gedwing sal word om die pyn te absorbeer wanneer hulle self nie meer prysstygings kan oordra nie.”

Die “swakste” ekonomiese agente is diegene sonder die mag om prysstygings verder af in die ekonomiese ketting van gebeure aan te stuur en dit is gewoonlik die armes, werkloses en klein sakeondernemings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Kokerboom ·

Nog ‘n manier waarop onbevoegde ANC regering die ekonomie vernietig..dit wat oor is.en land verarm

lodewyk ·

Dus wat gebeur as jy Rusland ondersteun en jou kragnetwerk laat in duie stort-Welgedaan cANCer ,julle het die mense van SA verarm en alles opgefoeter,gun wonder Afrika is waar hulle is vandag nie,niks oor ne…..

henndrik ·

Ek verstaan dat die rentekoers moet opgaan om inflasie te probeer stuit en dat dit negatiewe gevolge het. Ek verstaan dat die hoer rentekoerse bedoel is om mense te probeer terughou om skuld te maak maar ek verstaan nie dat mense in die proses hulle huise moet verloor nie. Kan daar nie vir die mense wat ‘n verband het op ‘n eiendom, wat deur die persoon bewoon word, ‘n plan gemaak word om rente verhogings te beperk tot ‘n maksimum van 2% nie.

Gert ·

Kan dit dalk die pad na die “Great reset wees” Op die ou end sal die wat nog hul huise kan afbetaal gesmoor word met buitensporige krag en water rekeninge sowel as levys of grondbelasting wat huidige gemiddelde huis paaiemente oorskry. Hierdie tendens is besig om wereldwyd sy kop uit te steek. Met Putin se besoek aan SA en ons huidige wankelende ekonomie dink ek SA gaan volgende jaar baie anders lyk as nou. Begin solank skrop vir tuinmaak.

Pierre ·

en om te dink voor 1994 was ons rand vs dollar BAIE sterker en het ons byna geen skuld gehad nie.

Sean ·

Our people gaan sonder werk sit Hoop iemand se oë gaan oop en stem reg volgende jaar

apollonio ·

Ons sal bo-uit kom! Ons sal mekaar bystaan – die ANC bewys dat jy nie ‘n brein nodig het nie. Let the fat cats eat the cream – gewoonlik word jy na ‘n tyd naar. Die onvermoee is lagwekkend en daar is ‘n einde aan gierigheid.

Manie ·

‘n Mens moet baie mooi tussen die lyne lees wat die regering se plan kan wees. Ongekende werkloosheid, groter afhanklikheid van die staat vir toelaes, burgerlike oproerigheid, afkondiging van ‘n noodtoestand, stemming word onbepaald uitgestel en die ANC koop sodoende nog ‘n termyn.

JohanR ·

Die ANC kan nie wag om hulle hande op die Reserwe Bank te kry nie. Hy sal soos ‘n 500ml Coke leeg gesuig word!

annie ·

Ja iu Dawie desimaal se geld lê alles in die Reserwebank se pienk varkie. Of, of, sê Ot, bring kos, goue ponde, nou dadelik!

RICHARD ·

Sommige ekonome sukkel om die proses van inflasie te verstaan…..sal stap vir stap vir hulle moet verduidelik…..kyk net hoe suksesvol is Zim en Venezuela agv hoë inflasie……..????????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.