Restaurateurs vas oor ‘gesteelde perlemoen’

Die bokse perlemoen in Kraaifontein (Foto: SAPD)

Die eienaars van ʼn braairestaurant in Bloekombos in Kraaifontein in die Wes-Kaap is Woensdag in hegtenis geneem vir die besit van vermoedelik gesteelde perlemoen. Dit volg nadat die polisie by die restaurant op ’n gekaapte vragmotor met ’n vrag perlemoen ter waarde van meer as R1 miljoen afgekom het.

Kol. Andrè Traut, polisiewoordvoerder, sê lede van die Kraaifontein-polisie was op patrollie in die Bloekombos-omgewing toe hulle ingelig is oor die vragmotor wat omstreeks 09:00 in Neptune-straat in Paardeneiland deur drie mans gekaap is.

“Die vragmotor het bokse vol gevriesde perlemoen vervoer,” sê Traut.

Die polisie het die vragmotor met behulp van ’n opsporingstoestel by ʼn braairestaurant in Lesibane-straat in Bloekombos opgespoor.

“Toe die beamptes daar aankom, het hulle gesien die vermeende kapers is besig om ’n vrag af te laai. Hulle het gevlug toe hulle die polisie gewaar.”

Die polisie het 200 van die 437 bokse perlemoen, wat reeds van die vragmotor afgelaai was, in die restaurant aangetref.

Die eienaars van die restaurant, ’n 36-jarige man en sy 24-jarige vrou, is in hegtenis geneem vir die besit van vermoedelik gesteelde goedere.

Die gekaapte vragmotor (Foto: SAPD)

Die egpaar sal binnekort in die hof verskyn.

Volgens Traut is die kapers steeds op vrye voet.

In ʼn afsonderlike voorval het die Valke Woensdag op perlemoen – ook ter waarde van meer as R1 miljoen – by ʼn perseel in Montague Gardens in Kaapstad gevind en daarop beslag gelê.

Zinzi Hani, woordvoerder van die Valke, sê ’n 44-jarige verdagte is in hegtenis geneem.

“’n Gesamentlike span wat uit lede van die Valke en beamptes van die departement van bosbou en natuurlewe bestaan, het op die perseel in Derdestraat toegeslaan en dit deursoek,” sê Hani.

“Die span het op 88,6 kg nat perlemoen en op gedroogte perlemoen van 966,07 kg afgekom.”

Die geskatte straatwaarde van die perlemoen is sowat R1,4 miljoen.

Die verdagte sal na verwagting Vrydag in die Kaapstadse landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Cherokee ·

Selfs gevaarlik om ‘n perlemoen te wees in Suid Afrika.

Coolbanana ·

Skandalig….so stroop hulle die kus….stuur hulle terug Oos-Kaap toe ( of Sjina ? )

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.