Reus in die Afrikanerkultuur sterf

Theuns en Ena de Wet (Foto: Verskaf)

Die Afrikaner-kultuurleier Theuns de Wet is Saterdagaand in die ouderdom van 81 jaar in sy slaap oorlede.

De Wet was van 1989 tot 1997 die Transvaalse gebiedsleier van Die Voortrekkers voordat hy saam met ander Voortrekkerlede weggebreek het om die Afrikaner Volks Kultuurbeweging (AVKB) te stig.

Hy het ook ʼn leidende rol gespeel in die totstandkoming van die Beweging vir Christelike Volkseie Onderwys (BCVO), wat onafhanklike Afrikaanse skole landwyd opgerig het. Hy was ook ʼn stigterslid van die destydse Radio Pretoria en het vir jare die kultuurdagboek vir Pretoria FM se Klankkoerant-program saamgestel.

Hy was ten tyde van sy dood woonagtig in Huis Hermon in Pretoria-Noord, waar hy in die versorgingseenheid vir bejaardes tuisgegaan het. Hy het jare lank in Kleinfontein, ’n Afrikaner-nedersetting naby Pretoria, gewoon voordat hy etlike weke gelede na Huis Hermon verhuis het.

In ʼn huldeblyk aan De Wet op Pretoria FM het Willie Spies, uitvoerende voorsitter van Pretoria FM, De Wet beskryf as ʼn “toegewyde en onselfsugtige stryder vir sy taal en mense”. Spies en De Wet se paaie het gekruis deur hul betrokkenheid by die radiostasie en onderwys.

“Ek het Oom Theuns leer ken as een van die ou strydrosse van die destydse Radio Pretoria. Hy was ʼn persoon wat altyd kontak sou maak om te gesels oor ʼn beter Afrikaanse woord of mooier Afrikaanse uitspraak. Hy het altyd bemoeienis gemaak met sy volk, mense en taal. Dit was vir hom baie belangrik,” vertel Spies.

Volgens Spies het De Wet ʼn suksesvolle loopbaan gehad en was hy goed gekwalifiseerd in bestuurswese. Hy het ʼn senior pos beklee by IBM, ʼn internasionale rekenaarmaatskappy.

“Vir hom was die werk nie van soveel belang as wat sy mense vir hom was nie. Hy het soms die glans, groot salarisse en korporatiewe voordele opsy geskuif ter wille van sy mense, taal en kultuur.”

Ds. Sarel Roets, die huidige hoofleier van die AVKB, wat destyds saam met De Wet in die kultuurbeweging betrokke was, sê De Wet het geleef vir dit waarin hy glo.

“De Wet, ek salueer jou as ʼn volksman, jeugman en voormalige hoofleier van die AVKB,” sê Roets.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, se pad het reeds middel 1970’s in die Transvaalse Voortrekkers met De Wet sʼn gekruis. Hy sê De Wet het ʼn dinamiese en sterk leidende rol in Die Voortrekkers gespeel.

“Hy het sterk daaroor gevoel om Die Voortrekkers as Afrikaner-jeugbeweging te behou, wat slegs op kultuur gefokus is en waar politiek nie nagevolg word nie. Hy wou ook die AVKB ongeskonde as kultuurjeugbeweging hou,” vertel Van Zyl aan Maroela Media.

Volgens Van Zyl het die Afrikanervolk ʼn groot kulturele anker verloor, met sy wesenlike bydrae tot die Afrikaanse kultuur en sy diepgewortelde Christelike waardes wat ook ander beïnvloed het.

“Hy was ʼn beginselmens en het nie teruggedeins vir die waarheid nie. Hy het vasgestaan in dit wat saak maak.”

Volgens Van Zyl sal De Wet ook onthou word vir die sterk rol wat hy gespeel het in die vorming van die Afrikanerjeug as goeie Christen-Afrikaners. “Hy het baie tyd en energie ingesit om ʼn anker vir die jeug te wees.”

Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, was ʼn jeuglid toe De Wet die gebiedsleier van die Transvaalse Voortrekkers was. Hy het ook sy presidentsverkenningstoets onder De Wet gedoen.

Volgens Langner het De Wet ʼn diep liefde vir die Afrikaner en ʼn onwrikbare vertroue in die vermoë van die Afrikanerjeug gehad.

“Hy was ʼn oortuigde Afrikaner. Hy het sy lewe gegee om die Afrikaner se kultuur, taal en geskiedenis te bevorder,” sê Langner.

“Hy was ook lief vir geskiedenis en sy geloof was vir hom belangrik. Hy het geglo die Here het vir ons ʼn roeping in hierdie land gegee om ligdraers en sy getuies te wees.”

Die AVKB en BVCO het op hul Facebook-blad ook hul medelye met De Wet se familie betuig.

De Wet se vrou, Ena de Wet, is ʼn paar jaar gelede oorlede.

ʼn Roudiens vir De Wet word Donderdag om 11:00 in die AP Kerk Kleinfontein gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

kaplyn ·

Baie dankie De Wet vir jou onbaatsugtige bydrae tot die Afrikaner kultuur, jeug en taal. Jy het diep spore getrap. Stil broers, ‘n groot seder het geval.

Realis Thailand ·

Ek het Theuns vi die afgelope 75 jaar geken en sy pad was reguit en Vol liefde vir sy land en mense en n ware Afrikaner
Hy en sy vrou het baie opgeoffer vir die Afrikaner
Hy was my neef maar wie ook my broer was daar ek nooit broers gehad het nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.