Richard Wood: Boesemvriend beken skuld

Richard Wood (Foto: Verskaf)

Richard Wood se boesemvriend uit sy kinderjare, Christopher van der Westhuizen (23), het vandeesweek in die Pretoria-Noord-landdroshof skuld beken op aanklag van strafbare manslag in verband met sy vriend se dood twee jaar gelede.

Van der Westhuizen het Maandag saam met Marchant Bredell (32) vir die soveelste keer in die hof verskyn. Die regter het egter beslis dat Bredell voorlopig vrygespreek word van die moord aangesien hy nie aandadig vir die destydse aanranding gehou kan word nie. Die aanklag teen Van der Westhuizen is ook van moord na strafbare manslag gewysig.

Maroela Media het vroeër berig die 26-jarige Wood is op 5 November 2017 op die sypaadjie buite ʼn kuierplek in Pretoria opgemerk waar hy erg beseer gelaat is. Hy is na bewering tydens ʼn rusie erg deur sy vriende aangerand en vir dood agtergelaat.

Wood is ’n week later, op 13 November, in die hospitaal dood nadat hy ’n breinoperasie ondergaan het in ’n poging om sy lewe te red. Die verhoor het sedertdien gesloer ná herhaaldelike uitstel.

Maryna Wood, Richard se ma, vertel Van der Westhuizen het in die hof erken dat hy Wood wel daardie nag met die vuis geslaan het, wat eindelik tot sy dood gelei het. Wood het ná die hou geval en sy kop gestamp. Van der Westhuizen het voorheen ontken dat hy aan sy vriend geslaan het.

Hy het ook erken dat hy destyds vir Wood se ma gejok het toe hy gesê het hy weet nie waar Wood is nie, nadat hy hom in ʼn bedenklike toestand by die kuierplek agtergelaat het. Die twee het voor die voorval saam gewoon.

Vonnisoplegging sal nou op 6 Februarie plaasvind.

“Môre is dit twee jaar sedert Richard se dood. Ek dink dis tyd dat ons afsluit. Ons sal berus met dít wat die hof besluit. Dit sal ’n tydjie neem, maar tyd sal genees en ons is bly dit kom nou tot ’n einde,” het Wood se ma gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

oop oge ·

Diegene wat met die swaard slaan sal ook met die Swaard geslaan word…op `n tyd wat jy dit die minste sou wou verwag.
Wat jy aan `n ander doen, sal 7 voudig terugkeer na jou, deur die Hand van die Oppergesag van Lewe…ten goede of ten slegte…Sela

Sakkie ·

So ope oog wat lekker die bybel aanhaal, my vraag is het jy nog nooit enige iets in jou lewe verkeerd of iets wat tot skade van ander is gedoen nie. Mense soos jy wat met die bybel onder die arm loop.

Tina du Toit ·

Tragies dat dit twee jaar vat om na vore te kom. Ek kan net sê “sterkte” aan sy ouers. Geregtigheid sal seëvier.

Lollie ·

Mag hy swaar gestraf word. Met sulke vriende het mens beslis nie nog vyande nodig nie!
Familie wat in rou gedompel is en vir 2 jaar lieg sy beste “vriend” daaroor.
Magtig waar gaan die wêreld heen!?

Ek ·

Daar is baie sulkes wat lieg omdat hulle bang is vir tronk toe gaan en dan word onskuldige mense in die trink gedompel omdat die “beste vriend” gewoonlik bang is dan blameer hy dit op iemand anders. Hoeveel keer al gesien hoe dit gebeur en dis tragies dat hul gewete hul nooit pla nie.

Blommie ·

vriend. dink julle gebruik die verkeerde bewoording.
Geen vriend sal dit doen nie.
Eerder meer n kennis as jy my vra.
Die mannetjies van vandag, swaai mos vinnag vuiste.

CHAPPIES ·

Hoe verskriklik tragies, baie sterkte aan beide families! Wil ons mense, nie TOG maar leer, om liefs WEG vanuit die kuierplekke, met hul rojale alkoholverbruik en misbruik te bly, waar die meeste FIGHTS hulle oorsprong het asi lawaaiwater mens STERK, DAPPER EN BAIE SLIM maak…

Denise ·

Is dit hoe vriende maak dan bly ek liefs sonder n vriend baie hartseer. Sterkte aan Wood se Moeder.

Martin ·

N sogenaamde Beste Vriend slaan nie sy beste vriend met die vuis teen die kop net omdat hulle n geskil het of kwaad raak oor n geskil nie. Dan is jy agterbaks.

lanie ·

Dankie vader hy is nie my vriend nie. Met sulke vriende het jy nie vyande nodig nie. Hoop hy sit vir ewig in die tronk en vrot.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.