Richard Wood: Verhoordatum eindelik bekend

Richard Wood (Foto: Verskaf)

Ná sowat twee jaar lange herhaaldelike uitstel is daar eindelik Maandag op ’n verhoordatum besluit vir die moordsaak op die 26-jarige Richard Wood.

“’n Mens het in ’n stadium verlore gevoel. Nou het ons uiteindelik ’n verhoordatum,” het Maryna Wood, Richard se ma, aan Maroela Media gesê nadat sy vanoggend vir die soveelste keer in die Pretoria-Noord-streekhof gesit het gedurende die verskyning van die twee vriende wat teregstaan vir die moord op haar seun.

Christopher van der Westhuizen (23) en Marchant Bredell (32) het vanjaar reeds vier keer vlugtig in die hof verskyn op aanklag van moord in verband met die dood van Wood.

Landdros Pieter Nel het eindelik 11 en 12 November op die hofrol geplaas vir die afhandeling van die verhoor.

“Die dag daarna is dit presies twee jaar,” het Maryna gesê.

Maroela Media het vroeër berig Richard (26) is op 5 November 2017 op die sypaadjie buite ʼn kuierplek in Pretoria opgemerk waar hy erg beseer gelê het nadat hy tydens ʼn rusie na bewering deur sy vriende erg aangerand en vir dood agtergelaat is.

Richard is ’n week later, op 13 November, in die hospitaal dood nadat hy ’n breinoperasie ondergaan het in ’n poging om sy lewe te red.

Volgens Maryna wou Van der Westhuizen en Bredell aanvanklik ’n pleitooreenkoms aangaan. Daar kon egter nie tot ’n ooreenkoms gekom word nie en hul regsverteenwoordigers het hulle tot die direkteur van openbare vervolgings (DOV) gewend om te beslis of daar genoegsame rede is om die aanklagte van moord teen hulle na strafbare manslag om te skakel.

Die DOV het teen vanoggend egter nog geen terugvoer gelewer nie waarna Nel beslis het dat die saak nie langer uitgestel kan word nie.

“Ek en my man is so verlig. Ons is net bly dié ding begin na ’n kant toe beweeg. ’n Mens kry nie afsluiting wanneer jy emosies opbou vir elke hofverskyning net om weer uitgestel te word nie. Elke uitstel is soos ’n mat wat onder jou voete uitgeruk word. So het dit twee jaar aangegaan.”

Maryna hoop dat ’n verhoor moontlik sommige vrae rakende haar seun se moord sal kan beantwoord.

“Ons weet nie hoekom hulle gedoen het wat hulle gedoen het nie. Ons weet nie hoekom hulle hom daar gelos en nie gehelp het nie. Ons weet tot vandag toe nie. Geregtigheid moet geskied. ’n Mens moet verantwoordelikheid aanvaar vir jou dade,” vertel ’n emosionele Maryna.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

lvdh ·

Baie Tragies! Om so deur jou “vriende” vermoor te word. Ek hoop vir die ouers se
Onthalwe dat hierdie saakbeskadiging vinnig tot n einde kom en dat reg sal seëvier.

Dolla ·

Met sulke vriende het jy nie vyande nodig nie. Sterkte mag geregtigheid seevier.

lh ·

Baie sterkte Maryna en gesin, dit is al manier hoe julle berusting sal vind.

Richard :( ·

Maryna, ons ken mekaar nie maar ek BID dat God uiteindelik vir jou vrede sal gee; Richard was ‘n pragtige en welopgevoede jong man – mens kan dit sommer sien! dis tragies dat hy sò moes doodgaan. Ek glo geregtigheid sal geskied. Sy twee moordenaars moet tronk toe gaan. Klaar. Ek bid vir jou vir berusting en behou die wonderlike memories wat jy van Richard het. Praat met hom; huil oor hom; dit help.

LS ·

Dit was verseker ‘n marteling vir Ouers wat ‘n kind in raaiselagtige omstandighede verloor as ‘n saak so lank duur om afgehandel te word. Maar ek kyk met ander oë hierna. Die sogenaamde Vriende het in ‘n oomblik van opgeboude emosies / frustrasie of wat ook al oorgegaan na geweld wat gelei het tot ‘n onodige vooortydige dood van ‘n mooi jong man. My seun is ook nou 26 en ek sal stukkend verby wees as so iets met hom moet gebeur. Die siening wat ek hieruit verkry is dat hopelik het die tyd wat verloop het, die
“Vriende” tot hul sinne laat kom en dus nou besef dat hulle in ‘n oomblik van onwysheid, ‘n moord gepleeg het en daarvoor moet boet. Baie sterkte aan Richard Wood se naasbestaandes. Mag julle ietwat vertroosting vind in al die mooi herineringe aan hom.

Magaretha van heerden ·

Hoe tragies. Drie lewens verwoes plus die van die naasbestaandes wat oorbly met haat en wrok. Ek bid die naasbestaandes sal vergewe en vryspreek. Ter wille van hulself. Nou is die tyd om te wys hoe n Christen leef. Dis nie maklik nie. Jare terug is ons as ouers deur die moeilike tyd van boelies wat ons kind so verwoes het dat hy n fraktuur van die femur, tibia en fibula, asook ulna en radius gehad het. Hy kon dood gewees het. Hy was n gebroke kind. Die groot besluit was om die wereld te wys hoe n Christen met Jesus se hulp deur dit kom. Ek voel so jammer vir die ouers van die twee onwyse jongmanne. Hulle het hul eie stryd. Kom ons bid vir die twee jong manne dat hulle by Jesus kan uitkom. Moenie vergeet daar is vergifnis vir almal. Dink so baie aan ons geliefde Paulus wat ook n moordenaar was. Koning David ook.

Nv ·

Daai Richard was saam my op skool…. Was altyd met die verkeerde goed betrokke en al saak van aanranding ook gehaat. Sterkte vir sy ouers , niemand verdien dit nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.