Rioolpyp-tragedie: DA pak skuld op swak dienslewering

Argieffoto (Foto: Pixabay)

Die Demokratiese Alliansie (DA) gaan aan die LUR vir samewerkende regering, Gordon Kegakilwe, skryf en hom versoek om dringend in te gryp om te verseker dienslewering en goeie bestuur in die munisipaliteite word herstel. Dit volg na vier mans die afgelope naweek dood is toe hulle deur rioolgasse oorval is terwyl hulle ’n verstopte rioolpyp in Koster in Noordwes probeer herstel het.

Cheryl Phillips, die DA se kiesafdelingshoof van die Rustenburgse plaaslike munisipaliteit, sê die tragiese dood van die vier mans is ’n direkte gevolg van die munisipaliteit se versuim om dienslewering aan die mense van Kgetlengrivier in die Noordwes te bring.

“Dienslewering bestaan glad nie meer nie. Inwoners sit voortdurend sonder water. Vullisverwydering is wisselvallig en instandhouding van infrastruktuur bestaan nie,” sê Phillips.

Die vier mans, Johannes Pretorius (74), Cornelius Cloete (62), Lenox Thobeni (56) en Mpho Melatho (25), het verlede week Vrydag aanvanklik probeer om ’n verstopte drein op een van hulle se erf op die dorp met chemikalieë oop te spoel.

Volgens Phillips was die drein al vir ʼn ruk verstop en het glo ondraaglik begin stink. Daarom het die mans besluit om die drein sommer self te probeer regmaak.

Maroela Media het vroeër berig die mans kon glo nie daarin slaag om die probleem op die erf op te los nie waarna hulle na ’n rioolgat elders in die dorp is om ondersoek in te stel. Hulle het by die rioolgat een vir een met trappe na onder in die rioolgat geklim waar die rioolgasse hulle oorval en hulle hul bewussyn verloor het.

Cloete en Thobeni is op die toneel dood, terwyl Pretorius en Melatho later in ’n hospitaal beswyk het.

Die voorval volg op die dood van Johan Rossouw in Koster nadat hy deur ’n voertuig raakgery is. Die voertuig het hom getref toe hy Rissikstraat in Koster probeer oorgesteek het. Inwoners vra al vir jare dat ’n vierrigtingstop of spoedbrekers by hierdie kruising aangebring word.

Die DA in Kgetlengrivier in die Noordwes het sy hartseer uitgespreek oor die vier mans wat tragies gesterf het.

“Ons betuig ons innige meegevoel aan hul families en vriende en wens hulle sterkte toe in hierdie moeilike tyd. Die oorledenes het geleef en gesterf om hul gemeenskap te dien en is plaaslike helde wat ons sal onthou,” sê Phillips.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Scalla ·

Hoekom sit hul nog in die poste as daar niks gebeur nie, ontvang net salaris, geen skaamte

Michael 1 ·

Dieselfde gebeur in Pretoria waar die DA in beheer is ry net n bietjie deur die moot area veral Rietfontein en Villieria.

henndrik ·

Ek reken hier moet ‘n hof aksie gedoen word en verantwoodelike amptenare moet in persoonlike hoedanigheid aanspreeklik gehou word. As dit hulle sakke raak sal hulle agterkom hulle moet liewer hulle werk doen

Magda ·

mmm en dan is kopdoek bekommerd oor sigarette – maar hulle swak diens veroorsaak meer sterftes as enige virus.

Pieter ·

Dit is tyd om op te hou praat ons moet standpunt in neem. Dit is van al die gepraat dat ons in die gemors sit.

Simoné ·

Ek stem saam! Almal kerm, maar niemand kan saamwerk om die klomp op hulle plek te sit nie. Ek glo, sou ons “wat die ekonomie dra”, op ‘n manier ons eie “provinsie of land” kan kry en ons almal van daar af saam werk om van voor af ‘n nuwe bestaan te maak, sal ons beter af wees. Dit is ook die enigste manier hoe die ander hulself sal uitwis, want ongelukkig weet bittermin van hulle hoe om hulself te dra, en wat dit is om vir jouself iets te moet opbou, hulle ken net van vat.

Raadslid ·

DA in Pretoria het selfde probleem, nog net nie sterftes nie.
Dienslewering bly ‘n probleem by ANC en da.
Stem in 2021 vir die oplossing.

Marius ·

Die groot ding is dat die goed alles net as n probleem gesien word , dit is lankal verby die stadium van n probleem en is nou n krisis . Hou die persone wat verantwoordelik is vir die swak diens persoonlik verantwoordelik , en hulle moet alle omkostes self betaal . Kla hulle ook aan vir manslag vir die dood van die vier mans , dit is egter hulle werk wat hulle nie gedoen het nie . Klaar gepraat nou , tyd vir begin doen .!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.