Rise Mzansi se Vuyiswa Ramokgopa: ‘Ons wil SA herbou, verenig’

Vuyiswa Ramokgopa (38), Rise Mzansi se voorsitter en premierskandidaat vir Gauteng. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Rise Mzansi is ʼn nuwe speler in die politieke arena en een wat vinnig groot golwe begin maak.

Die jaar oue party, wat deur voormalige nuusredakteur en sakeman Songezo Zibi gelei word, sal in vanjaar se nasionale verkiesing meeding, asook in al nege provinsies.

Vuyiswa Ramokgopa (38), Rise Mzansi se voorsitter en premierskandidaat vir Gauteng, het vandeesweek met Maroela Media gesels oor die drome en planne wat die party vir Suid-Afrika koester, en in die besonder vir Gauteng. Dié provinsie gaan ongetwyfeld ʼn kwaai betwiste provinsie in vanjaar se verkiesing wees en gaan heel moontlik voortaan ook nie deur een party alleen regeer word nie.

“Vanjaar se verkiesing is ʼn waterskeidingsverkiesing. Vandaar ook ons slagspreuk ‘2024 is ons 1994’. Daar was, sedert 1994, nog geen groter en belangriker verkiesing as hierdie jaar sʼn nie.”

Ramokgopa sê dit is dus belangrik dat elke geregistreerde kieser op 29 Mei hul kruisies trek.

Dié sakevrou, entrepreneur en ma van drie jong kinders sê Suid-Afrika sit tans met ʼn reuseleierskapsprobleem – met politici wat Suid-Afrikaners verdeel en die land vernietig.

Sy kom nie uit ʼn politieke familie nie (ondanks haar aangetroude van) en beskou haarself – en ook Rise Mzansi se leierskap – as gewone mense wat Suid-Afrika vir volgende generasies wil herbou.

“Die besef dat ʼn mens, as landsburger, nie net agteroor kan sit en toekyk nie, is een van die groot redes waarom Rise Mzansi tot stand gekom het.”

Sy sê Rise Mzansi bestaan boonop uit gewone mense, sommige uit die akademie en ander uit die sakesektor of burgerlike samelewing, wat besluit het dit is tyd om hand op te steek.

Vuyiswa Ramokgopa (38), Rise Mzansi se voorsitter en premierskandidaat vir Gauteng. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

“Ons het onsself afgevra ‘wat kan ons doen?’. Dis nie goed genoeg om net suksesvol [in ʼn beroep] te wees nie. Ek is ʼn ma, ek het drie kinders. Ek wil hê my kinders moet die geleentheid hê om veilig in Suid-Afrika groot te word en toegang hê tot die pragtige land waarin ek self grootgeword het.

“En ongelukkig begin dit ál minder moontlik lyk,” sê Ramokgopa.

“Daar is ʼn gevoel van dringendheid onder ons [Rise Mzansi] om die politieke leierskapskrisis op te los, en jy kan dit nie doen van buite die vertrek nie.”

Ramokgopa sê die land het ʼn ingrypende omkeer nodig en leiers – selfs in ʼn koalisieregering – wat daartoe verbind is om die land weer op te bou.

Gauteng is SA se ‘goue eier’

Sy is voorts oortuig dat Gauteng die beste wegspringplek is om die land weer op koers te kry.

Ramokgopa verduidelik dat Gauteng, met sy 16 miljoen mense, tot groot mate steeds die ekonomiese enjin van die land is. Dié provinsie het die digste bevolking in die land en dit is hoofsaaklik ʼn stedelike bevolking.

Dit is ook die plek waar landwye probleme soos werkloosheid, haweloosheid en behuisingstekorte die hardste gevoel word, aldus Ramokgopa.

Dit is egter ook die plek waarheen mense keer om ʼn nuwe lewe en nuwe geleenthede na te streef.

“As ons die land wil omkeer, moet ons by Gauteng begin. Gauteng is dus kritiek belangrik in hierdie verkiesing. Natuurlik ook KwaZulu-Natal.”

Daar is by Ramokgopa geen twyfel nie dat Gauteng in die provinsiale verkiesing uiters verdeeld gaan wees.

“Wat ons ten alle koste wil vermy, is die chaos wat ons in metro’s soos Johannesburg en Ekurhuleni gesien het. Ons, as Rise Mzansi, glo dat ons as middelgrootte-rolspeler ʼn anker kan wees vir ʼn stabiele koalisieregering ná 2024.”

Sy sê die provinsie én land het nou etiese leiers met integriteit “soos Rise Mzansi” nodig.

Nasiebou hoog op agenda

Rise Mzansi wil ook ʼn tuiste vir alle Suid-Afrikaners wees; die doelwit om ʼn nierassige Suid-Afrika te vestig is dus hoog op die party se prioriteitslys, sê Ramokgopa.

“Oor die afgelope tien tot 15 jaar is die projek van nasiebou grootliks agterweë gelaat. Ek was gelukkig om ʼn kind in 1994 te wees, toe demokrasie gebore is.

Vuyiswa Ramokgopa (38), Rise Mzansi se voorsitter en premierskandidaat vir Gauteng. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

“In die afgelope jare het ons egter gesien hoe nasionale trots en identiteit verbrokkel. En politici buit dit uit. Hulle floreer op verdeeldheid. Rise Mzansi is egter verbind tot die beginsel van nierassigheid en wil dit in die politieke diskoers hervestig. Dit is immers die kern van Suid-Afrika en wie ons is: Ons is divers. Dit is ons sterkpunt, ons superkrag.”

Ramokgopa sê sy het die voorreg gehad om tussen mense van verskillende kulture, rasse, geslagte, klas en status groot te word en steeds in dié diversiteit te leef – sy het waardering vir verskille en sien die mooi daarin raak.

Oppenheimers skenk groot

Benewens ʼn diverse leierskapstruktuur, het die party reeds steun van baie verskillende mense en organisasies daarbuite.

Maroela Media het vroeër berig dat Rise Mzansi tussen 1 Oktober en 31 Desember verlede jaar meer as R16,7 miljoen in skenkings ontvang het, waarvan Rebecca Oppenheimer, kleindogter van die mynmagnaat Harry Oppenheimer, R15 miljoen geskenk het.

Oppenheimer het vantevore al soortgelyke skenkings aan partye soos die DA en ActionSA gedoen.

Ramokgopa sê die party is ongelooflik dankbaar vir hierdie skenkings, aangesien finansiering ʼn reuseverskil aan ʼn party se veldtog, projekte en vermoë om steun te werf, maak.

Dit gaan natuurlik gepaard met goeie leierskap en eerbare bedoelings, sê sy.

“Jy kan die nodige finansiële hulpbronne hê, maar as jy nie ʼn lewensvatbare en uitvoerbare politieke aanbod het nie, sal dit platval. Geld alleen gaan jou nie oor die wenstreep kry nie, jy moet ook die goeie idees en goeie mense hê wat deur hierdie hulpbronne gesteun word.”

Die nasionale en provinsiale verkiesings vind vanjaar op 29 Mei plaas. Meer as 27 miljoen mense is geregistreer om aan die verkiesing deel te neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.