Rivier op Tuinroete gesluit weens riool

Vakansiegangers sal tot verdere kennisgewing nie hiér kan swem of roei nie. (Foto: Lisa van der Westhuysen)

Die bekende Touwsrivier wat deur Wildernis op die Tuinroete vloei is Vrydag noodgedwonge vir vakansiegangers gesluit nadat riool glo daarin beland het.

Hierdie rivier word veral deur vakansiegangers tydens die somermaande gebruik vir allerlei wateraktiwiteite.

Die George-munisipaliteit het in ʼn verklaring gesê dat geen wateraktiwiteite tot verdere kennisgewing in hierdie rivier mag plaasvind nie. Die Wildernis-strandmeer en die gebied rondom die Ebb-and-Flow-ruskamp is ook tydelik gesluit.

Luidens die verklaring het ʼn rioolpomp by Ebb-and-Flow gebreek wat moontlik riool in die rivier kan lek.

“Ingenieurspanne is tans op die toneel en gebruik riooltenkwaens om te help om die inkomende riool op te suig.

“ʼn Kontrakteur is ook op die perseel om die nodige herstelwerk te doen.”

Die munisipaliteit sê dit is nog nie duidelik wanneer die rivier weer oopgestel sal word nie.

“Die behandeling en ontsmetting van die geraakte gebiede sal so gou moontlik begin en die waterkwaliteit in die rivier sal deurlopend gemonitor word.

“Lede van die publiek sal ook in kennis gestel word sodra dit weer veilig is om in die rivier te swem of aan ander wateraktiwiteite deel te neem.”

Die munisipaliteit het om verskoning gevra vir die onvoorsiene gebeurtenis en het die publiek verseker dat alles moontlik gedoen word om rivier so spoedig moontlik oop te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.