Rob Packham: Hof verwerp aansoek om teen skuldigbevinding te appelleer

Rob Packham tydens ‘n vroeëre hofverskyning. (Foto: Armand Hough/African News Agency/ANA)

Die veroordeelde moordenaar Rob Packham se aansoek om teen sy skuldigbevinding te appelleer, is Vrydag in die hooggeregshof in Kaapstad van die hand gewys.

“Daar is geen billike vooruitsig dat die voorgestelde appèl teen die skuldigbevinding van die beskuldigde gaan slaag nie en daar is geen ander dwingende rede hoekom die appèl aangehoor moet word nie,” het regter Elize Steyn in ʼn geskrewe uitspraak bevind.

“Die aansoek om te appelleer teen die skuldigbevinding van die beskuldigde, word gevolglik van die hand gewys.”

Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het die uitspraak verwelkom.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die NVG, het gesê die staat is oortuig daarvan dat niemand anders nie as Rob Packham vir Gill se dood verantwoordelik is.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die NVG. (Skermgreep: ANA)

Ntabazalila het gesê sou Packham nou besluit om hom tot die appèlhof te wend, die staat sy aansoek ook daar gaan teenstaan.

Packham is in Junie vanjaar 22 jaar tronkstraf opgelê vir die moord op sy vrou, Gill.

Die Packhams was amper 30 jaar lank getroud, maar weens sy ontrouheid het die egpaar huweliksprobleme ondervind, voordat sy op 22 Februarie verlede jaar verdwyn het.

Sy het op dié dag nie soos gewoonlik om 07:30 by die werk opgedaag nie en haar liggaam is later in die kattebak van haar uitgebrande BMW naby die Dieprivierstasie gekry.

Steyn het afgewyk van die minimumvonnis van 15 jaar vir die moord, en die 58-jarige sakeman van Constantia gevonnis tot 20 jaar tronkstraf vir die moord op Gill, asook vier jaar tronkstraf vir regsverydeling. Twee jaar hiervan is opgeskort.

Steyn het Packham se weergawe van gebeure, dat Gill moontlik die slagoffer van ʼn kaping was, verwerp. Sy het bevind Packham is ʼn vernuftige leuenaar en het met die staat saamgestem dat sy optrede “onverstaanbaar” en ʼn aanduiding van skuld was.

Rob en Gill Packham. (Foto: Facebook)

Steyn het gesê Packham het met Gill se liggaam in die kattebak van die motor rondgery nadat hy haar in hul eie huis vermoor het. Hy het die registrasienommers verwyder en die voertuig aan die brand gesteek, “die laaste, moreel afstootlike daad”.

Hy het nie een keer gesê dat hy sy vrou mis of jammer voel vir sy kinders se verlies nie, maar het eerder ʼn afwysende houding in die hof geopenbaar en geen empatie gewys nie.

Die regter het gesê Packham het nooit ʼn motief verklap vir die moord op sy vrou nie, maar dat dit lyk of hy haar uit “woede en frustrasie” doodgemaak het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

waarheid ·

Jy moet maar bly sit – daar is geen uitkoms nie!
Jy het jou bed self gemaak – slaap daarin.

Osie ·

Gooi die sleutel weg! Net baie hartseer vir sy dogters wat nou hul ma EN pa verloor het…Net soos # Rhoode

Zorro ·

Ek was nog altyd onder die indruk dat daar BEWYSE moet wees in ‘n kriminele saak. Deesdae lyk dit my hulle weeg eerder elke ou se storie op en besluit dan wie waarskynlik die waarheid praat.

oop oge ·

…gelukkig is daar darem common sence ook, Zorro
Sekere dinge het nie noodwendig konkrete “bewyse” nodig nie. Die verloop van die storie en getuienisse spreek vanself ….

Nettie ·

En die les hieruit te leer?

SKEI MAAR EERDER – dis dalk op die korte duur ‘n bietjie van ‘n duur saak, maar dis beter as om 15+ jaar te kry vir moord.

PJC ·

Zorro daar was wel sekere bewyse maar ook sogenaamde omstandigheids getuienis. So as ń mens nie meer jou getroue eggenoot van 30 jaar wil hê nie skei haar liewers want moord is nie ń opsie nie. Sit gaan jy sit en vir lank.

Magaretha van heerden ·

Wat het van die mensdom in SA geword? Ons was nooit so n hatige, moorddadige volk nie. Waar is die Christelikheid van die volk? Vir my is selfs 20 jaar te min vir n lewe.

Gert van Wierdapark ·

Rob maak nou so is die skelm politici. Hardloop van die een na die volgende hof in die hoop dat erens iemand hul twakstorie sal glo. Hy het ongelukkig reeds in sy hoop getrap en moet gehoorsaam wees en bly sit soos die regter beslis het!!

Ekke ·

Dink almal hulle kan sommer net die straf minder maak!!! DON, ROB, RHODE, VAN BREDA…so kan ons nog baie byvoeg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.