‘Roekelose besluit’ om gr. 8’s by laerskole te plaas

(Argieffoto: Verskaf)

Solidariteit is diep bekommerd oor die uitwerking op leerders as die Gautengse departement van onderwys voortgaan met sy besluit om gr. 8-leerders van ʼn oorvol hoërskool in Kempton Park na laerskole in die omgewing te verplaas.

“Om nou só ʼn besluit te neem is eenvoudig roekeloos,” sê Johan Botha, adjunkhoofsekretaris by Solidariteit.

“Dit spreek boekdele van onbekwame leierskap en bestuur in die departement, wat leerders en werknemers se welstand in die gedrang plaas.”

Volgens Solidariteit gaan sommige Engelssprekende leerders van Hoërskool Birchleigh nou by Afrikaanse parallelmediumlaerskole ingeneem word. Laerskole is laat Dinsdagaand in kennis gestel dat mobiele klaskamers by die skole afgelaai gaan word vir hierdie hoërskoolleerders.

Botha sê nou moet dié laerskole, wat reeds hul beplanning vir onder meer hul veiligheidsmaatreëls afgehandel het, vergoed vir die departement se gebrekkige beplanning.

Melanie Buys, hoof van ontwikkeling aan Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum (SOS), is ook bekommerd oor die gebruik van mobiele klaskamers omdat dit bouregulasies oortree.

“Dit is boonop nie in die beste belang van die huidige en nuwe leerders nie,” sê sy.

Volgens Buys kan die huidige situasie net aan “vrotsige beplanning” toegeskryf word.

“Die departement weet al maande lank van hierdie probleme, en nou, net drie dae voor die skool begin, is dit skielik ʼn krisis.”

Buys wys daarop dat dit prakties onmoontlik is vir laerskole om gr. 8-leerders by bestaande skoolroosters in te pas. Volgens haar is die besluit om dié “oplossing” op skole af te dwing sonder om die beskikbaarheid van onderwysers, hulpbronne en geriewe in ag te neem, onaanvaarbaar.

“Solidariteit se onderwysernetwerk sal ingryp en skole ondersteun wat hierdeur benadeel word,” het Botha onderneem.

“Ons wil ook skole aanmoedig om stappe te doen teen die departement se minagting van veiligheidsmaatreëls vir leerders en onderwysers.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

annie ·

Moenie worry nie. Die leerders en hul mommy’s gaan die saak tackle en dit gaan nie mooi wees nie. Daai klaskamers sal voete kry die straat af na die hoërskole toe. 2024 is oa die jaar van groot sports.

Natasja ·

Wat n grap! Waar verwag hulle moet die nodige onderwysers vir al die vakke wat n Gr.8 leerder het vandaan kom?

Johan ·

Niks is permanent in die onderwysstelsel, behalwe die tydelike geboue……

Albert ·

Ek is self n’ inwoner van Kempton Park en die probleem is al reeds in 2010 (indien nie vroeër nie) geidentifiseer. Elke jaar is dit n’ kwessie waar om al die kinders te plaas. Nietemin, het ons nog nie een enkele nuwe skool gesien wat gebou is nie. Spoeg en plak regering en onderwys!

electricmango ·

Dink nou realisties, hoe dommer die samelewing hoe langer bly die anc aan bewind. Hulle gee nie n vlenter om vir opvoeding nie, gaan net oor mag en geld.

Marous ·

Alles verwoes deur magsbehepte plunderaars. Niemand sal dit kan omkeer nie .

skurweberg ·

Ons moet ophou om rampe wat op die jeug van ons land wag in watte of mooi woorde toe te draai.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.