Rooftog tydens erediens ten sterkste veroordeel

polisie, betogers,

(Argieffoto: SA Polisie)

Die Moral Regeneration Movement (MRM) in Noordwes het ʼn voorval die afgelope naweek, toe gewapende rowers vermom met klapmusse gemeentelede by ʼn kerk in Klerksdorp beroof het, ten sterkste veroordeel.

Die polisie het ʼn soektog gelas nadat vyf gewapende aanvallers Donderdagaand in Jouberton op ʼn kerk toegesak en gemeentelede beroof het. Lt.kol. Amanda Funani, polisiewoordvoerder, het gesê een van die gemeentelede was buite die kerk met ʼn oproep besig toe die aanvallers hom met ʼn vuurwapen gedreig en die kerk binnegedwing het.

Die kerkgangers is beveel om op die grond te lê, waarna hulle van hul geld, handsakke en selfone beroof is. Die aanvallers het daarna te voet gevlug.

Die MRM sê die aanval is nie net ʼn “skande” nie, maar ʼn “barbaarse daad” wat Goeie Vrydag en die Paasnaweek ontheilig het.

Pastoor Lesiba Kgwele, sameroeper van die MRM, sê opportunistiese misdaad soos dié wat op kerkbyeenkomste en ander plekke van aanbidding gemik is, bedreig gemeentelede se grondwetlike reg op vryheid van byeenkoms.

“Niemand gaan veilig wees totdat hierdie hartelose, plunderende bende agter tralies is nie. Ons doen ʼn beroep op alle gemeenskappe om die polisie in die soektog na die rowers en die ondersoek wat gedoen word, te help,” sê Kgwele.

Hy het ook by mense gepleit om saam te staan teen misdaad en bendebedrywighede wat in dié buurt heers.

“Die poging om die vlaag bendebedrywighede in Matlosana te pak, moet versterk word deur ʼn sterk vennootskap met ons gemeenskappe sodat die oppergesag van die reg en mense se vertroue in strafregstelsel weer herstel kan word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Amelia ·

Jy is reg is n skande maar kom ons kyk maar wie is dit In suid afrika is dit nie die eerste keer wat n kerk en gemeente beroof word nie Strawe is hoopeloos te lig as krimenele uit tronk kom doen hul dit maar net weer Hoeveel van daardie mense sukkel dalk self indien hul gevang word verkoop al die skelms se besitings en gee vir die wat beroof is

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.