‘Rower’ wat juweliers teister ná jare vas

(Foto ter illustrasie: Unsplash)

ʼn Vermeende rower wat juwelierswinkels sedert 2014 teister, is Dinsdag eindelik aangekeer.

Polisielede het die verdagte Dinsdagmiddag in ʼn voertuig op die M2 in Johannesburg opgespoor. Hy was saam met twee ander mense, een van hulle ʼn vrou met ʼn baba, in die motor.

Brig. Mathapelo Peters, Gautengse polisiewoordvoerder, sê die motorbestuurder en die vrou het hulle aan die polisie oorgegee toe hulle voorgekeer is, maar die vermeende rower het uitgespring en op die polisie losgebrand. Hy het in die rigting van hostelle in die omgewing gevlug.

“Die polisie het teruggevuur terwyl hulle die verdagte agternagesit het en hy is in die proses gewond. Hy is in hegtenis geneem en na ʼn hospitaal gehaas waar hy onder polisiebewaking behandel word,” het Peters gesê.

Die polisie het ʼn pistool in die man se besit gevind, asook plofstof in die voertuig. Nog twee vuurwapens en vermoedelik gesteelde juwele is tydens ʼn deursoeking van die verdagte se huis gevind. Die polisie het ook beslag gelê op ʼn BMW wat vroeër vandeesmaand tydens die rooftog van ʼn juwelierswinkel in Tableview in die Wes-Kaap gebruik is.

Peters sê die beseerde verdagte is reeds met verskeie rooftogte van juwelierswinkels tussen 2014 en verlede jaar verbind. Dit sluit in rooftogte by die Clearwater Mall, Cradlestone Mall, Westgate, Eastgate en ʼn winkelsentrum in Midrand.

Die man het in 2014 uit aanhouding ontsnap nadat hy destyds in verband met ʼn rooftog aangekeer is.

“Die ondersoek duur voort en die polisie glo die verdagte kan by selfs meer rooftogte van juwelierswinkels in ander provinsies betrek word. Die moontlikheid van sy betrokkenheid by transitorooftogte word ook ondersoek,” het Peters gesê.

Die tweede verdagte, die bestuurder van die motor waarop aanvanklik beslag gelê is, is ook in hegtenis geneem nadat die voorlopige ondersoek hom ook met sommige van die rooftogte verbind het.

Die drie vuurwapens waarop beslag gelê is, sal vir ballistiese toetse gestuur word.

Lt.genl. Elias Mawela, Gautengse polisiehoof, sê die polisie se samewerking met die private sektor om ernstige en geweldsmisdaad te verminder, werp vrugte af.

“Ons moet hierdie vennootskappe in die beste belang van die veiligheid en sekuriteit van Gauteng se inwoners en hul eiendom versterk,” het Mawela gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Francois Le Cochon ·

“He can run, but he can’t hide” – Joe Louis (bokser) 1934

Deon ·

Was dit intelligensie gedrewe of ook n per ongeluk situasie? Klink my na “per ongeluk was hy by toe ons n ander ding doen”. Ek is wel dankbaar nog n krimineel is aangekeer maar as dit per ongeluk is dan het ek nie juis baie hoop nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.