Rugbyliefhebbers vies oor Wiese se afwesigheid

Kobus Wiese (Foto verskaf deur AfriVriendelik)

Ontstoke Afrikaanse rugbyliefhebbers het hulself tot sosiale media gewend om hul misnoeë oor Kobus Wiese se afwesigheid op SuperSport se gewilde aktualiteitsprogram, SuperRugby, uit te spreek.

Die legendariese Wiese wat deel was van die Springbokspan wat die Webb Ellis-trofee in 1995 op Ellispark omhoog gehou het, is al byna 20 jaar op die program te siene en is waarskynlik een van die hoofredes vir die reeks se geweldige sukses.

Kwagga Boucher het op sosiale media gesê dat dit teleurstellend is dat SuperSport en kykNET nie die gehoor se vrae rakende Wiese se afwesigheid kon beantwoord nie.

“Die man het die program, SuperRugby, van episode 1 af gedra. Dis ons Afrikaanse mense se program,” het hy geskryf.

Ander kykers het weer gesê dat die program nie dieselfde sonder Wiese is nie. Die hutsmerk, #WaarIsKobus, is terstond van stapel gestuur.

SuperSport se produksiehoof, Alvin Naicker, is sonder sukses gekontak, maar die betaalsportkanaal se kommunikasiebestuurder, Clinton van der Berg, het wel gesê dat daar nie rede tot kommer is nie.

Wiese in die SuperSport-ateljee. Foto: Facebook.

“Hy was bloot net nie geskeduleer om gister op die lug te wees nie; daar is niks eienaardigs daaroor nie en dit gebeur op die meeste rugbyprogramme,” het hy gesê.

Toe hy gevra word wanneer Wiese weer op die kassie sal wees, het hy geantwoord dat die nuwe skedule nog nie beskikbaar is nie.

Volgens bronne het die betaalkanaal se programhoof al gesê dat Wiese die hartklop van SuperRugby is. Die program is ook die gewildste rugby-besprekingsprogram op SuperSport.

Wiese was nie beskikbaar vir kommentaar nie. Die program word Maandae om 21:00 op SuperSport 1 uitgesaai.

Die 55-jarige Wiese het 18 wedstryde vir die Springbokke gespeel en in 135 kragmetings vir die Goue Leeus uitgedraf.

Die Springbokke het nooit verloor wanneer hy in die beginspan was nie en hy het saam met Hannes Strydom in die lynstane vir die Springbokke in die 1995-Wêreldbekereindstryd teen die All Blacks in Johannesburg gerank. Die Bokke het dié epiese stryd met 15 – 12 gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Naas ·

Ek het jare gelede al opgehou om na hierdie program te kyk. Kobus is te ongeskik met mense wat inbel en het geen geloofwaardigheid meer nie.

twaalfboor ·

Neewat Naas. Ek dink jy is nou net “naasty”. Kobus het net ‘n sekere tyd om oproepe te neem. Dis juis die persone wat inskakel atteljee toe wat hulle nie steur aan hoe lank hulle praat nie. Kobus het geen keuse om die mense kort te knip nie. Ongeskik….. NEE. Op die man af…….VERSEKER.

Stink-Afrikaner'tjie ·

Oh my word, miskien het Wiese ander planne gehad, hy is tog mens en mag seker ook afwesig wees.

Scalla ·

dit is seker tyd dat die program vernuwe en jonger talent inbring, slegs vrae wat die paneel pas word geantwoord en bespreek, daar kom seker n tyd om te kom en te gaan.

Jims ·

Dit was seker altyd wat die haarkapper kon inpas om sy hare te doen.

Leon ·

Ek het 40 jaar gelede opgehou om sport te kyk want dit druk goeie programme van die TV af.

Jims ·

Huh? Daar is n swetterjoel kanale waar jou goeie programme gewys word. Sport word op spesifieke kanale vertoon en druk geen ander programme af nie. Jy kyk nie sport nie, maar tog lewer jy hier kommentaar?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.