Rusland-Oekraïne: Nelson Mandela-stigting bepleit vrede

Argieffoto van die konflik in Oekraïne. (1 Maart, Kharkiv) (Foto: Sergey BOBOK / AFP)

Die Nelson Mandela-stigting het Saterdag in ʼn verklaring gesê hy volg noukeurig die inval van Oekraïne deur Russiese militêre magte. “Ons treur saam met almal wat so baie verloor. Ons is besorg oor die ingewikkelde uitdaging in die wêreldorde, en die internasionale reëls oor ingryping.”

Mandlenkosi Dakada, woordvoerder van die stigting, sê hy kyk na die “onuitspreeklike gevaar van kernaanlegte wat onder skoot kom”. “Ons versoek dat alle vyandigheid gestaak word en dat vrede in die streek herstel sal word.”

Die stigting sê oudpres. Nelson Mandela het in 2003 openlik, en met mening, hom uitgespreek teen die tekortkomings in leierskap en die afwesigheid van geloofwaardige regverdiging toe die VSA en ander Westerse lande Irak binnegedring het. “In watter stadium is ʼn land geregverdig om ʼn ander in te val? Die soewereiniteit van lande en die reg van sulke state om in hul eie belang op te tree, kom ter sprake. Lande moet bewus wees van die omvang en beperkings van hul eie mag en die voorwaardes waarbinne daardie mag uitgeoefen mag word. Die stigting sien vandag ʼn beduidende mislukking van leierskap op verskeie vlakke tussen die betrokke lande, soos wat die krisis in Oekraïne ontvou.”

Volgens die stigting is dit ironies dat die VSA sy woede uitgespreek het oor die situasie. “[Die VSA] is ʼn land wat al ʼn geruime tyd die kuns van besetting, indringing en algehele verwerping van internasionale organisasies vervolmaak het. Natuurlik is letterlike besetting maar net een vorm van dié fenomeen. Die titel van ʼn nuwe boek deur Susan Williams wys op ʼn ander tipe besetting – White Malice: The CIA and the Neo Colonisation of Africa. Die beheer van welvaart, tegnologie, data, markte, tale en ander magstrukture definieer imperialisme in die 21ste eeu.”

Volgens Dakada is ʼn uiterste kragmeting rondom die idee “om te behoort aan” in die konteks van die invloedsfeer, onderliggend aan die gebeure in Oekraïne. “Vir pres. Poetin en sy kiesers, behoort Oekraïne aan Rusland se invloedsfeer. Oor maande en jare het ons nou al geluister na Poetin se verhale van Russiese en Europese geskiedenis om te regverdig waarom Oekraïne in dié sfeer moet bly. Wat ons ook al van dié logika mag dink, het dit beteken dat die VSA teen Kuba in die 1960’s opgetree het en teen Grenada in die 1980’s – omdat hulle ook in dié invloedsfeer was.

“As mens dié logika aanvaar wat betref die gedrag van die VSA, maar sy tersaaklikheid ontken in die huidige konflik oor Oekraïne, sal dit wees soos om jou hand oor een van jou oë te sit en te beweer jy sien alles.”

Volgens Dakada het die konflik in Oekraïne nog ʼn wêreldwye verskuiwingslyn uitgelig: rassisme. “Daar is ontstellende berigte van swart mense en mense van kleur wat nie sitplekke in busse kry wat vlugtelinge vervoer nie, en wat weggewys word van die grens met Pole. Dit wys weereens ʼn algemene wêreldwye fenomeen waar die lyding van wit mense in konfliksituasies meer aandag en sorg ontvang. Dit wil voorkom of wit lewens baie meer saak maak as ander mense sʼn. Rassisme bly so slu en alomteenwoordig as vantevore.

“Die gruwels wat onlangs in Mali, die Demokratiese Republiek van die Kongo, Ethiopië, Somalië, Suid-Soedan, Zimbabwe en Eswatini ontvou het, word gewoonlik deur wit mense beleef as ʼn verminderde mensewaarde van Afrikane, asof wit mense nie in staat is tot gruwels jeens die self nie. Twee Europese oorloë in die twintigste eeu, verkeerdelik genoem ‘Wêreldoorloë’, bevestig dat Europese mense nie slegter of beter is as die res van die mensdom nie. Dit lyk asof Europa altyd van mening is dat talle probleme in sy voormalige kolonies geen geskiedkundige Europese oorsprong het nie. Die ingewikkelde geskiedkundige verhouding tussen die twee vastelande eis egter ʼn verpligting van wedersydse respek. As ons ooit solidariteit in die wêreldgemeenskap wil bereik, dan moet ons ons gedeelde menslikheid erken en alle slagoffers van oorlog op gelyke vlak en sonder vooroordeel verdedig.

“Alle mense van die wêreld moet streef na ʼn geregverdigde, gelyke en sorgsame wêreldgemeenskap.”

Die stigting het die Suid-Afrikaanse regering gemaan om leierskap te toon in dié noodsaaklike oomblik en te pleit vir ʼn skietstilstand sodat onderhandelings oor die toekoms kan voortgaan. “Ons het vir die regering aangedui dat ons beskikbaar is om bystand in dié verband te lewer. ʼn Les wat weer geleer moet word, of ons nou oor Oekraïne of enige ander krisis wêreldwyd praat, is dat wanneer die reg tersyde gestel word en gewelddadige strategieë gevolg word, die uiteindelike smart ʼn baie groter impak het op kwesbare gemeenskappe. Dit is noodsaaklik dat kanale vir vrede, onderhandeling en dialoog dringend en onverpoosd nagejaag moet word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jr ·

NEE moenie pleit met Rusland, praat met jou kommunis govt om n amptelike stand te maak teen Rusland. Julle is net warm lig

Swerwer ·

Weereens kom rassime tevore wat ek nie kan sien wat rassisme met die hele saak te doen het nie.
In die hedendaagse tyd is en word rassisme deur die anderkleuriges gesien en gebruik as verskoning vir alles wat verkeerd is. Begrawe die woord rassime ‘n slag. Dit is deur en deur bewys dat die huidige Regering vir 20+ jare nie die mas kon opkom met die beheer en bestuur van hul broers/susters en bondgenote nie. Dit is juis hul wat rassisme aanvuur en opblaas. Hul moet ‘n slag hul oogklappe verwyder en die werklikheid aanvaar en sien.

Marius ·

Hulle kan nie eers vrede in hul eie land verkry nie dan wil hul ander lande voorskryf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.