Rwanda-voortvlugtige gou in die hof

Fulgence Kayishema (Foto verskaf deur die departement van korrektiewe dienste en justisie)

ʼn Rwandese voortvlugtige, wat Woensdag ná meer as twee dekades in die Paarl in die Wes-Kaap in hegtenis geneem is in verband met die Rwanda-volksmoord van 1994, sal gou in die hof verskyn.

Brig. Thandi Mbambo, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke, sê Fulgence Kayishema sal Vrydag in die Bellville-landdroshof vir die eerste keer in die hof verskyn. Hy bly in aanhouding hangende sy uitlewering aan Rwanda.

Maroela Media het vroeër berig die 61-jarige Kayishema is in hegtenis geneem tydens ʼn gesamentlike operasie tussen Suid-Afrikaanse owerhede, Interpol en ʼn span van die VN, wat getaak is om die oorblywende voortvlugtiges op te spoor. Hy is een van vier verdagtes wat owerhede al jare lank ontwyk.

Daar word beweer dat Kayishema destyds die moord van ongeveer 2 000 Tutsi-vlugtelinge, onder wie mans, vroue, kinders en bejaardes, by die Nyange Katolieke kerk georkestreer het. Hy is sedert 2001 voortvlugtig.

“Tydens sy inhegtenisneming op ʼn druiweplaas in die Paarl het hy onder ʼn vals identiteit (Donatien Nibashumba) geleef,” het Mbambo bygevoeg.

Hy sal Vrydag in die hof verskyn op aanklag vir die oortreding van immigrasiewette en die Interpol rooi kennisgewing wat vir sy inhegtenisneming uitgereik is.

Fulgence Kayishema (Foto: UNIRMCT/Twitter)

Die nasionale hoof van die Valke het die span geloof vir hul uitstekende werk en gesê dat die inhegtenisneming van die voortvlugtige ʼn aanduiding is van die krag en doeltreffendheid van internasionale samewerking tussen die polisie wêreldwyd.

Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, het ook die land se wetstoepassers geloof vir die inhegtenisneming.

“Met hierdie inhegtenisneming kan twee besliste verklarings nie weerlê word nie: dat die lang arm van die wet geen tydsgrense ken nie, en Suid-Afrika nie gewillig is om ‘n toevlugsoord vir voortvlugtiges te wees nie. Ons sal voortgaan om ander lande en internasionale liggame te help om voortvlugtiges op te spoor. Ons verwag dieselfde van ander lande,” het Lamola bygevoeg.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Papsak ·

Al die moordenaars loop nog vry rond regering te vrot om hulle te laat toe sluit verder se ek maar niks

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.