SA 3 000 werksgeleenthede in eerste kwartaal kwyt

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Suid-Afrika het in die eerste kwartaal vanjaar altesaam 3 000 werksgeleenthede ingeboet in sektore wat landbou uitsluit, het Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) Dinsdag gesê. Die werkloosheidsyfer staan boonop nou op 30,1% van die arbeidsmag.

Volgens StatsSA se kwartaallikse indiensnemingsopname is dié werkverliese tussen Desember en Maart hoofsaaklik deur die konstruksie-, vervaardigings- en handelsektor gely.

Daarteenoor het die vervoer-, sakedienste-, gemeenskapsdienste- en die mynbousektor effense groei in werksgeleenthede in die eerste kwartaal getoon.

Volgens StatsSA was daar jaar-op-jaar ʼn verlies van sowat 37 000 voltydse poste in alle sektore met uitsondering van die landbousektor. Dit is egter teengewerk deur ʼn toename van 40 000 deeltydse werkgeleenthede wat gelei het tot ʼn jaar-op-jaar toename van 3 000 werksgeleenthede.

StatsSA sê voorts die bruto totale verdienste wat aan werkers betaal is, het in die eerste kwartaal met R46,7 miljard (0,6%) afgeneem wat ’n daling in die meeste sektore weerspieël insluitend vervoer, elektrisiteit, sake- en gemeenskapsdienste, handel en konstruksie. Lone het egter in die mynbousektor toegeneem.

StatsSA se kwartaallikse indiensnemingsopname is gebaseer op ʼn steekproef van ongeveer 20 000 private ondernemings en openbare entiteite. Die resultate word gebruik vir ramings oor indiensneming en bruto verdienste wat dien as insette in die berekening van die bruto binnelandse produk (BBP) en ramings vir maandelikse verdienste wat help om die ekonomiese aanwysers in die SA ekonomie te monitor.

Die nasionale tesourie verwag dat die ekonomie in die huidige boekjaar met 7,2% kan inkrimp en dat werkverliese as gevolg van die Covid-19-pandemie tot soveel as 1,79 miljoen kan klim.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jaun ·

Maroela, hierdie is wraggies ‘n vrot artikel. 1) ‘n Volle berig oor net 3000? 2) Die opskrif sê “kwyt”, maar die artikel se inhoud verklaar effektief ‘n toename in werksgeleenthede …

Stefan ·

Ja, en tesame het werkloosheid van 25% tot oor die 30% gestyg volgens dieselfde artikel.
Vermoed 3000 moet eintlik 300000 wees.

Johanncb ·

As Grendelgreep opgehef word, sal werkloosheid afneem en die ekonomie herstel.

PieterP ·

STATS SA is so goed soos om na Ramaphosa te luister. Hulle totale en Covid totale kan nie geglo word nie

Jaco ·

Wat dan nou van regstellende aksie en BEE? Dis dan die wonderlike toorwoorde wat veronderstel is om alles reg te kry.

Marius ·

Wat verwag die mense ? Om twee van die grootste sektore in die land vir maande toe te maak , wat die soganaamde “Sin Taxes” is , gaan nie net oor die persoon aan die ander kant van die toonbank nie . Daar is baie meer poste betrokke as net dit .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.