SA banke geraak deur databreuk

Argieffoto (Foto: TheDigitalWay/Pixabay)

Die kredietburo Experian het ʼn databreuk beleef waar persoonlike inligting van tot soveel as 24 miljoen Suid-Afrikaners en 793 748 sake-entiteite uitgelek het.

Experian het bevestig die databreuk is by wetstoepassers en die betrokke regulatoriese owerhede aangemeld.

“Banke is in gesprek met Experian en die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) om te identifiseer wie van hul kliënte blootgestel is aan die databreuk en om hul persoonlike inligting te beskerm,” het Nischal Mewalall, uitvoerende hoof van Experian, in ʼn verklaring gesê.

Banke en Sabric werk ook met Experian saam in hul pogings om die data te beveilig en seker te maak die oortreders word vervolg.

“Suid-Afrikaanse banke beskou die veiligheid van kliënte se data in ʼn baie ernstige lig en het baie streng risikostrategieë in plek gestel om dadelik moontlike bedrog op rekeninge op te spoor en hul kliënte te beskerm. Banke sal met hul kliënte kontak maak oor hoe hulle moontlik deur die breuk geraak is en wat gedoen word om hulle te beskerm.”

Mewalall het gesê indien persoonlike inligting uitlek, skep dit geleenthede vir misdadigers om hulle voor te doen iemand anders, maar waarborg nie toegang tot die persoon se bankprofiel of -rekeninge nie. “Kriminele kan egter die inligting gebruik om jou om die bos te lei sodat jy dalk vertroulike bankbesonderhede aan hulle bekendmaak,” het Mewalall bygevoeg.

Indien jy vermoed dat jou identiteit blootgestel is, kan jy dadelik aansoek doen vir die gratis beskermingsdiens by die Suider-Afrikaanse Bedrogvoorkomingsdiens (SAFPS). Jou naam word dat in ʼn databasis opgeteken, wat sal beteken dat alle aansoeke om rekenings oop te maak en groot uitgawes aan te gaan, fyn bestudeer word. Kontak SAFPS per e-pos by [email protected] of besoek die webwerf https://www.safps.org.za/.

Sabric en SAFPS maan bankkliënte en ander verbruikers om goeie bestuurspraktyke te volg om te voorkom dat iemand jou identiteit steel en aansoeke in jou naam indien. “Dink aan jou identiteitsinligting op dieselfde manier as hoe jy aan kontant dink,” voeg Manie van Schalkwyk, uitvoerende hoof van SAFPS, by. “Hou dit altyd veilig want indien jy blootgestel word, kan enigiemand jou identiteit steel.”

Bankkliënte word ook aangeraai om die volgende voorsorgmaatreëls te tref:

  • Moenie enige persoonlike inligting soos wagwoorde of PIN-kodes oor die telefoon, faks, per teksboodskap of e-pos bekendmaak nie.
  • Verander jou wagwoord gereeld en moenie dit met enigiemand deel nie.
  • Verifieer alle versoeke vir persoonlike inligting en verskaf dit slegs wanneer daar ʼn geldige en wettige rede is om dit te doen.
  • Vir verdere raad, besoek sabric.co.za

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

koos10 ·

Jip, en so draai Sabric en SAFPS die verantwoordelikheid na gewone mense toe.
Ek wil julle, Sabric en SAFPS, maan om goeie bestuurspraktyke te volg, seker te maak my persoonlike inligting is veilig by die banke.
Publiseer ook die banke betrokke, dat ons kan weet waar ons veilig is!

B-Man ·

Databreuk? Sekerlik “databreek”. ‘n Breek is wanneer iets tog ge-“kraak” is en ‘n breuk bestaan uit tellers en noemers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.