SA beesvleis nou op winkelrakke in Saoedi-Arabië

(Foto: Facebook / Beefmaster Factory Shop)

Op winkelrakke in Saoedi-Arabië sal jy nou ook Suid-Afrikaanse beesvleis te koop kry.

Volgens die Beefmaster-groep is dit danksy die “suksesvolle afhandeling van ʼn 15 maande lange kontrakonderhandelingstydperk” wat spruit uit ʼn “baanbrekersooreenkoms” wat in Oktober 2022 tussen Suid-Afrika en Saoedi-Arabië aangegaan is.

“Ons is bly om moontlik die eerste Suid-Afrikaanse beesvleismaatskappy te wees wat in meer as 21 jaar amptelik met dié land handel dryf,” het Gert Blignaut, uitvoerende hoof van die Beefmaster-groep, gesê.

“Tans word 4% van Suid-Afrika se beesvleis uitgevoer. Die verhoging daarvan tot tussen 7% en 8% sal baie voordelig vir die landboubedryf wees. Die vooruitsig is dat die Saoedi-mark dít vir ons kan bewerkstellig.”

Volgens Blignaut het die maatskappy nou ʼn wye reeks produkte in Saoedi-Arabië beskikbaar. Dié aanbod sal mettertyd uitgebrei of verfyn word na gelang van verbruikers se voorkeur en aanvraag.

“Ons glo die gehalte van ons produk sal die vraag dryf, en wanneer gehalte en prys oorvleuel, sal daar ʼn gulde geleentheid wees om uitvoere na die land te verhoog.”

Beskikbare inligting dui daarop dat sowat 62% van Saoedi-Arabië se beesvleisinvoere bevrore  produkte is, en die res verkoelde of vars vleis. Voorste verskaffers aan Saoedi-Arabië sluit in Brasilië, Australië, Pakistan, die VSA, Nieu-Seeland en Kanada. Die Saoedi-beesvleisbedryf is glo na raming sowat R38 miljard werd.

“Sedert die uitvoer van ons produkte in 2008, het ons gesien dat elke mark waar deurgebreek is Suid-Afrikaanse beesvleis op hul rakke gevoeg het vanweë ons gehalte- en diensversekering, asook ons ​​mededingende beesvleispryse,” sê Blignaut.

Die Beefmaster-groep beskou Saoedi-Arabië as ʼn “strategiese mark” en is verder gemotiveerd om produkte na dié land uit te voer vanweë die land se planne om sy ekonomie uit te bou deur onder meer in ander sektore te belê.

Navorsing deur die Goldman Sachs-groep toon dat Saoedi-Arabië, wie se ekonomie grootliks op olie berus, waarskynlik meer as $1 triljoen (byna R20 triljoen) oor die volgende dekade in verskeie megaprojekte en sektore sal belê.

“Ons prioriteit is om nader aan die Midde-Oosterse mark en elders wêreldwyd te beweeg, gegewe die groeigeleenthede.”

Die groep het onlangs ook die bekende Gulfood-handelskou in Dubai bygewoon, waar verskeie produkte ten toon gestel is.

Benewens Saoedi-Arabië voer die Beefmaster-groep tans produkte na Egipte en Jordanië, asook die Midde-Ooste uit, insluitend die Verenigde Arabiese Emirate (VAE), Koeweit, Bahrein en Katar.

Blignaut sê egter die onlangse konflik in die Midde-Ooste het aansienlike logistieke uitdagings met lug- en skeepsvervoer geskep om Suid-Afrikaanse beesvleisprodukte by hierdie lande te kry. Dit het uiteraard ook pryse opgejaag.

“Ons het meer uitvoere nodig om die Suid-Afrikaanse beesvleisbedryf uit sy groef te lig.”

Volgens Blignaut sit Suid-Afrika met te veel produkte in die land, en is die ekonomie nie sterk genoeg om dié situasie te onderhou nie.

“Ons het nog ʼn ver pad om te stap om meer groei uit uitvoere te ontsluit.

“Hiervoor het ons die hulp en ondersteuning van die regering en ander rolspelers in die sektor nodig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

piet ·

Geen verrassing dat hulle met ‘n oorskot in SA sit nie. Die plaaslike mark kan dit nie bekostig nie.

Johan ·

Dis vir my intressant dat ons so baie uitvoer, en dan is die produkte wat vir óns beskikar is ingevoer :(

Kattebol ·

As hulle praat van Verenigde Arabiese Emirate bedoel hulle seker net Dubai want in Abu Dhabi kry jy geen SA vleis op die rak nie. Hulle kan gerus uitbrei na die ander Emirate want daar is duisende Suid-Afrikaners oral in UAE en ons almal verlang na ons bekende vleis.

Vrijburger ·

Het julle dank inligting aan watter spesifieke winkels of supermarkte Beefmaster se beesvleis in Saoedi-Arabië gelewer word?

Gaitsigubib ·

Tans word 4% uitgevoer volgens die berig, dit gaan dalk met nog 4% gelig kan word a.g.v die ooreenkoms. M.a.w n boer wat tans 100 bees het gaan nou 104 aanhou om die mark te akkommodeer, maar mense beweer as gelvolg hiervan gaan hulle nou lokaal meer moet betaal. Die hoer lone gaan afleggings tot gevolg he wat op sy beurt die belastingbetaler se probleem gaan word. Ek sal my eerder bekommer waar die staat meer fondse vir sassa gaan vind en hoe hulle die groeiende misdaad gaan takel.

Gaitsigubib ·

Ek sien die gewone groeppie is wel bekommerd dat boere n manier sal vind om te oorleef.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.