SA begin met dispuut teen EU oor swartvlek

(Foto: Unsplash)

Suid-Afrika het met ʼn dispuut teen die Europese Unie (EU) begin oor “onbillike” handelsregulasies en wetgewing wat op die plaaslike sitrusbedryf afgedwing word, veral met betrekking tot die vlakke van swartvlek op sitrus.

Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling en die departement van handel, nywerheid en mededinging sê samesprekings met die EU in die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) is reeds aangevra.

Dié stap het ten doel om ʼn blywende oplossing vir die swartvlekregulasies te vind ten einde tienduisende betrekkings in die plaaslike sitrusbedryf te beskerm. Dit word ook deur die Suid-Afrikaanse Sitruswerkersvereniging (CGA) ondersteun.

Maroela Media het vroeër berig dat die EU se streng vereistes onder meer behels dat kouebehandelingsregulasies afgedwing word weens die vlakke van swartvlek en vals kodlingmot op sitrus.

Swartvlek is volgens kenners in die sitrusbedryf bloot net ʼn kosmetiese kwessie wat boonop slegs ʼn klein persentasie sitrus raak wat uitgevoer word.

Ondanks bewyse dat sitrusvrugte sonder blare nie ʼn groter kans het om swartvlek te versprei nie, gaan die EU egter voort om sy “onredelike maatreëls” af te dwing. Die EU is boonop die enigste oorsese mark wat hierdie posisie oor swartvlek inneem.

Ander markte erken dat die risiko van die verspreiding van die siekte deur handel in vars vrugte heeltemal weglaatbaar is.

Argieffoto (Foto: Susbany, Pixabay)

Deon Joubert, spesiale gesant oor marktoegang en EU-sake by die CGA, het vroeër aan Maroela Media gesê dat die sitrus wat na die EU uitgevoer word, Suid-Afrikaanse boere in staat stel om vir sowat 70 000 mense werk te bied. Dit genereer boonop ook R15 miljard aan buitelandse valuta.

Plaaslike sitrusboere het egter reeds miljoene, en selfs miljarde, rande bestee sodat hulle aan die EU se streng vereistes vir sitrus voldoen. Die geld wat hiervoor opgedok moet word, is egter nie lewensvatbaar nie.

“Landelike ekonomieë in die land is afhanklik van die uitvoer van sitrus vir hul inkomste. Die bedryf kan nie die nagenoeg R2 miljard bekostig wat nodig is om aan die EU se handelsbeperkende regulasies te voldoen nie,” het Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Maandag gesê.

Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, benadruk dat die EU-mark eenderde van alle sitrusuitvoere uit Suid-Afrika uitmaak, en sê dit is sentraal tot die winsgewendheid van die sitrusbedryf.

“Die EU se volumes kan nie deur ander markte geabsorbeer word nie. Die samesprekings is ʼn kritieke stap in die WHO om ʼn doeltreffende oplossing vir Suid-Afrika se bekommernisse te vind.

“Die stap volg op jare lange pogings deur Suid-Afrika om in goeie trou met die EU te onderhandel. Dit is ons siening dat die maatreëls deur die EU nie geregverdig, proporsioneel of toepaslik is nie.”

Justin Chadwick, uitvoerende hoof van die CGA, het die regering se stap verwelkom. Hy sê die bedryf hoop vir doeltreffende oplossings aangesien dit nou die begin van vanjaar se sitrusuitvoerseisoen is.

Vooruitskouings wys indien alle bedryfsbelanghebbendes bymekaarkom, sal die bedryf ʼn bykomende 100 miljoen 15 kg-kartonne (sitrus) oor die volgende agt jaar kan produseer.

“Dit kan 100 000 meer werkgeleenthede skep en ʼn bykomende R20 miljard in jaarlikse inkomste genereer. Hierdie potensiaal sal egter sekerlik verlore gaan as die EU-mark vernou,” het Chadwick gesê.

(Foto: Unsplash)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Grassie ·

Miskien moet die sitrusboere meer vrugte plaaslik bemark en minder uitvoer. Ek kon hierdie seisoen nog nie ‘n enkele sakkie lekker lemoene raakloop nie, almal is lig van kleur, nie sappig nie en beslis nie soet nie. Dit lyk vir my alles wat van goeie kwaliteit is word uitgevoer en die oorskiet plaaslik aan ons afgesmeer.

Henry ·

@Grassie, plaaslik word ons R2500/ton aangebied. Oorsee is dit R7000/ton. Natuurlik kan jy vir beter kwaliteit vrugte vra as jy daai prys betaal.

Manie ·

Jy is reg Grassie, die hantering van vrugte by vrugte verkopers is in baie gevalle van so ‘n aard dat dit binne 2-3 dae nadat dit gekoop is, vrot is. Ek weier om varksool te koop en boonop duur daarvoor te betaal.

Marous ·

As daar nie aan die standaarde voldoen kan word nie moet daar nie gegil word nie .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.