SA ekonomie ‘na aan breekpunt’

Argieffoto (Foto: Pexels/Pixabay)

ʼn Verwagte styging in die prys van brandstof, hoër kragtariewe en nou weer ʼn styging in die rentekoers is ons voorland. Kenners waarsku swaar tye lê voor vir Suid-Afrikaanse verbruikers – veral vir diegene met skuld.

Die Reserwebank se monetêre beleidskomitee het Donderdag ʼn verhoging van 25 basispunte aangekondig wat die repokoers op 7,25% te staan bring. Die verhoging sal Vrydag in werking tree.

Hoewel die styging minder is as die konsensusvoorspelling van 50 basispunte, is kenners steeds bekommerd oor die uitwerking daarvan.

“As ekonomie is ons naby aan breekpunt. Die vermoë om te spaar is nou buite die bereik van die meeste Suid-Afrikaners wat – as hulle gelukkig is – net met hul salaris kan oorleef om al hul uitgawes te dek,” sê Greg Dart, direkteur van High Street Auctions.

Volgens Dart daal salarisse in werklikheid terwyl lewenskoste aanhou styg.

“Volgens syfers wat enkele dae gelede in BankservAfrica se Take Home Pay-indeks vrygestel is, het gemiddelde salarisse in reële terme verlede jaar met 6,9% gedaal.”

Die vakbond Uasa moedig Suid-Afrikaners met huis- en ander lenings aan om elke sent om te draai.

“Doen jou bes om jou behoeftes en begeertes met jou besteebare inkomste te balanseer. Kom ons wees geldslim, dink twee keer voor ons bestee en hou kop bo water,” sê Abigail Moyo, woordvoerder van Uasa.

Eiendom

Wat eiendom betref, meen sommige kenners daar is ʼn silwer randjie aan die baie donker wolk.

Die repokoers kan dalk tot op ʼn hoogtepunt van 7,5% van rigting verander en ʼn koersverlaging kan moontlik selfs voor Desember aangekondig word, sê Dart.

“Voornemende kopers sal tot later vanjaar wag – tot die repokoers tot 7,5% beperk word – voor hulle koop,” sê Yael Geffen, uitvoerende hoof van Lew Geffen Sotheby’s International Realty.

“Die eerste helfte van die jaar gaan egter taai wees vir die eiendomsbedryf.”

Dit is nou ʼn goeie tyd vir kopers wat byvoorbeeld ʼn huis kontant wil koop, meen Geffen.

“Met baie huishoudings wat wil verkoop om te verhuis of af te skaal, sal verkopers gewillig wees om oor die prys te onderhandel.”

Nick Pearson, uitvoerende hoof van Tyson-eiendom, is van mening dat daar nie minder transaksies in die eiendomsmark gaan wees nie.

“Verkopers sal nou net gedwing word om twee keer te dink oor hul eiendomspryse, en kopers sal moet dink oor die aanbod wat hulle op ʼn eiendom wil maak,” sê Pearson.

Pearson sê ʼn rentekoersverhoging kan ook meer huise op die mark laat beland – veral dié wat onder R3,5 miljoen geprys is.

“Terselfdertyd gaan die aantal kopers wat die eiendomsmark die eerste keer wil betree, verminder. Die huurmark sal lewendiger word met meer mense wat kies om te huur eerder as om te koop. Dit is in duidelike teenstelling met ʼn toename in die aantal nuwe huiseienaars toe rentekoerse laag was, aangesien meer mense dit kon bekostig om huislenings terug te betaal.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Phillip ·

Ek het nie meer om te beplan nie . Hoe beplan jy as jy net R 43 .00 in die bank het na als betaal is mmm my d/dag het aan gebreek gouer as wat ek gedink het . Brand stof is nog nie af nie huishoudelike iet tems is ook nog uitstaande . gaan my kar versekering kanselleer kan daar R 1232.65 bespaar gaan n adviseer gaan sien en kyk waar ek nog kan bespaar. Gelukkig is my huis lening gaan van my se laars af elke maand

Republikein in die Wes Kaap ·

Maak ‘n lys van jou vaardighede en oorweeg ‘n tweede job totdat dinge beter gaan. Afriforum kan kenners vra om te help met voorstelle hoe om dit te doen. Deeltydse werk kan geadverteer word.

Steyn ·

Nou hoekom moet jy jouself ooreis net om te kan asem haal? en buitendien, waar kry ‘n blanke man 40+ nog werk in hierdie ekonomie? Wat van as Phillip op pensioen is? Of dalk skete het wat hom verhinder het om te doen wat hy altyd gedoen het.

Punt bly staan, dit gaan og erger raak voor dit eendag beter gaan raak, hopelik

Republikein in die Wes Kaap ·

Steyn, dis hoe die middelklas Amerikaners al vir baie dekades oorleef, ongeag ouderdom of skete. Daar word jy voor middag ete afgelê indien die ekonomie sleg lyk. Ons moet almal ‘n plan B, C en D hê. Wat doen jy om vir een maand te oorleef indien jy jou werk vandag verloor? Of vir 3 maande of vir 12 maande. Families en vriende maak saam planne en gooi hulpbronne bymekaar. Niks ongewoon om mense te sien met drie jobs nie. Ooreising is nie ‘n faktor nie. Ons het nog nie daai kultuur nie. Ons suffer eerder in stilte as om hulp te vra. Maar dit sal moet verander, want dit gaan inderdaad erger word. Ek sê weer, gemeenskaps organisasies met hulpbronne moet betrokke raak deur mense en geleenthede bymekaar uit te bring. Dan kan ons van mekaar leer oor wat en hoe om dinge te doen.

Samuel ·

Ons het nie kenners nodig om vir ons te sê ons is ekonomiese en finansiële moeilikheid nie. Die domste onder ons sien dit raak. Net die cANCer sien dit nie raak nie. Alles deel van die internasionale chaos plan. Voedsel, energie en finansieël.

Truman Burbank ·

cANCer sien dit wel raak. Dit is deel van hul opdragte. Mense wat dink hulle regeer bly in lala land.

Jacobus ·

Hierdie opdrag is eenvoudig van n kommunitiese ANC regering. Maak almal armer en later afhanklik van n SASSA toelae en so beheer die kommuniste die armes.

Truman Burbank ·

Wel. Die WEF het aan begin lockdown gese dit is eintlik n ekonomiese reset. Maar dit begin al hoe meer lyk na n “grand reset”

Republikein in die Wes Kaap ·

Die middelklas in Brittanje en die VSA is ook onder enorme finansiële druk. Êrens gaan iets knak. Gelukkig vir hulle kan politici uitgestem word. Ongelukkig gaan resessies daar die res van die wêreld nadelig raak.

Papsak ·

Alles deel van hulle plan dink ons is eenvoudig maar kyk deur hulle planne solank hulle alles opneuk sal die ekonomie breekpunt bereik

Wielspore ·

Partykeer is dit nodig om jou blomme tuin heeltemal om te spit om die onkruid uit te haal en dan nuwe plante in te sit om die plek weer mooi en aanloklik te maak.
Ekonomiese val is die enigte manier om die ANC te ontsetel, sonder geld is die ANC niks, 2024 se verkiesing is die val van die ANC.

Republikein in die Wes Kaap ·

Afrikaners moet doelbewus voorberei vir daai scenario. Om kort-kort hof toe te hardloop vir alles en nog wat stel die pyn net uit. Laat die ekonomie val en begin van voor af.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.