SA man skuldig na hy Alaska-vrou vermoor, dit verfilm

Argieffoto van Brian Steven Smith. (Foto: Loren Holmes/Anchorage Daily News via AP)

Die Suid-Afrikaner Brian Steven Smith is in ’n hof in Alaska daaraan skuldig bevind dat hy ’n vrou in 2019 vermoor en die grusame moord op sy selfoon verfilm het.

Hy is ook skuldig bevind aan die moord op ’n tweede vrou van Alaska wie se liggaam vroeër gevind is, maar aanvanklik verkeerd geïdentifiseer is.

The Independent berig ’n jurie in Anchorage het Donderdag ná ’n drie week lange verhoor, vir minder as twee ure beraadslaag voordat hulle eenparig op Smith se lot besluit het. Smith is eindelik skuldig bevind aan 14 aanklagte, waaronder die moord op Kathleen Henry in 2019, die moord op Veronica Abouchuk in 2018 óf 2019, asook verskeie aanklagte van seksuele aanranding.

Die 52-jarige man van Suid-Afrika het Donderdag geen reaksie in die hof in Anchorage getoon nie en voor hom uitgestaar terwyl die regter die jurie se uitspraak voorgelees het. Aangesien die doodstraf nie in Alaska toegepas word nie, sal Smith waarskynlik lewenslange tronkstraf opgelê word.

Hy word in Julie gevonnis.

Smith is in 2019 in hegtenis geneem nadat ʼn vrou sy selfoon uit sy vragmotor gesteel en die grusame beeldmateriaal van 2019 daarop ontdek het.

Valerie Casler, ʼn sekswerker wat later ʼn sleutelgetuie in die verhoor sou word, het destyds die grusame beeldmateriaal na ʼn geheuekaart gekopieer en aan die polisie oorhandig. Casler het egter oor die jare haar storie aangepas oor hoe sy in besit van die materiaal gekom het.

Veronica Abouchuk (links) en Kathleen Henry (regs). 

Sy het aanvanklik beweer sy het die kaart, gemerk “Murder at the Midtown Marriott” met verwysing na Henry se moord in ’n hotel wat deur Marriott International bestuur word, opgetel. Later het sy aangevoer sy het die kaart uit Smith se bakkie gesteel tydens wat sy as ’n “afspraak” beskryf het. Die hof sou egter later hoor dat Casler die foon uit Smith se vragmotor gesteel het.

Dit is toe sy die selfoon herlaai, dat sy die 46 foto’s en een video van Henry se grusame moord daarop gevind het. Casler het die beeldmateriaal oorgeplaas na ʼn geheuekaart wat sy by ʼn afdelingswinkel gesteel het en het die kaart gemerk.

Die grafiese beeldmateriaal is tydens die verhoor slegs aan die jurie gewys. Die klank van die video, waarin daar onder meer gehoor kan word hoe Henry voor haar dood na haar asem snak, kon egter in die hofgalery gehoor word.

Smith se gesig verskyn nie op die video nie, maar sy Brits-klinkende aksent kan op die opname gehoor word.

Die toneel waar Kathleen Henry se oorskot gevind is. (Foto: Bill Roth/Anchorage Daily News via AP)

Volgens die aanklaers het Smith destyds vir twee dae lank met Henry se liggaam agterin sy bakkie rondgery voordat hy haar liggaam eindelik langs ’n snelweg suid van Anchorage gestort het.

Smith het met sy inhegtenisneming aan die polisie beken dat hy ook vir Abouchuk vermoor het.

Smith het haar in Anchorage opgelaai terwyl sy vrou nie tuis was nie. Hy het gesê sy het sleg geruik, maar Abouchuk het geweier om te stort toe hy gevra het. Hy het ontsteld geraak, ʼn pistool uit die motorhuis gaan gehaal en haar in die kop geskiet voordat hy haar liggaam noord van Anchorage gestort het.

Smith se vrou, Stephanie Bissland van Anchorage, het die drie week lange verhoor bygewoon.

“Hy was baie goed vir my, maar hy het ʼn ander lewe gehad, dink ek,” het sy gesê en bygevoeg sy probleme is waarskynlik vererger deur alkoholmisbruik.

Bissland het verder vertel dat haar man ná sy inhegtenisneming in ʼn baie donker plek was. “Hy het beter geword,” hou sy egter vol. Sy beplan om gereeld vir hom te skryf en hom te besoek wanneer hy na ʼn tronk oorgeplaas word. Egskeiding word nie tans oorweeg nie. “Ek het my belofte gemaak,” het sy ná die uitspraak verduidelik.

Maroela Media het vroeër berig Smith het in 2014 na Anchorage verhuis en is oorspronklik van Queenstown in die Oos-Kaap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Anel ·

Wonder hoekom hy in daardie koue plek gaan wegkruip het! Wat het hy hier agter gelaat. Moord is moord! Laat hy sit.

Anon ·

Jy behou nie ‘n belofte aan so ‘n persoon nie. Hy is ‘n verleentheid vir sy geboorteland en ‘n afsku in die samelewing. Nie net een moord nie maar twee waarvan owerhede weet. Lewenslank is te genadig.

Amelia ·

Goed dat hy daar gevonnis is – hulle deel gewoonlik ‘n baie kwaaier straf uit vir moord as wat ons hier doen.

madels ·

hmmmm, ek wonder nou net hoeveel slagoffers is in SA.. as dit is war hy daar gedoen het, wat het hy hier gedoen en verdoesel? Hulle moet sommer baie meer en dieper delf in hierdie moordenaar se lewe.

Cassie Carstens ·

Ek weet nie hoe ‘n nugter denkende vrou nog by so iemand kan staan na wat hy aangevang het nie. Sulke persone is onrehabiliteerbaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.