Donald Nyoni en Solomon Zitha, albei van Johannesburg, het in die Francistown-landdroshof verskyn. Volgens die berig het Nyoni en Zitha saamgewerk en ʼn man genaamd Menje Phiri “in hegtenis geneem”.
Nyoni het in die hof aangevoer dat hulle ʼn Tanzaniër, wat glo sy suster as ʼn dwelmmuil gebruik het, agtervolg het. Nyoni het aangevoer sy suster is dood nadat sy dwelms ingesluk het. Volgens Nyoni het hulle Phiri na ʼn polisiestasie gevat vir ondervraging.
Nyoni en Zitha is met hul aankoms by die polisie in hegtenis geneem en aangekla. “Wat kan ons by hom vat? Al wat ek wil hê is inligting oor my suster se dood,” het Nyoni tydens sy borgaansoek gesê. Zitha het gesê hy het bloot sy vriend bygestaan.
Die staatsaanklaer het borg teengestaan. Landdros Dumisani Basupi het Nyoni en Zitha borg geweier en gesê hulle is ʼn vlugrisiko. Die saak is tot 27 Februarie uitgestel.