SA navorsing deel van nuwe WGO-riglyne

Foto ter illustrasie. (Foto: iStock)

Danksy baanbrekerswerk wat in Suid-Afrika gedoen is om ’n korter, meer doeltreffende behandelingsprotokol vir middelweerstandige tuberkulose (ook bekend as DR-TB) te ontwikkel, het die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) sy riglyne vir die behandeling van dié potensieel dodelike siekte verander.

Volgens die WGO is TB steeds een van die aansteeklike siektes wat die meeste sterftes wêreldwyd veroorsaak. In 2020 het meer as tien miljoen mense TB ontwikkel en 1,5 miljoen het aan dié siekte gesterf. Die WGO verwag dat die voorkoms van TB weens die uitwerking van Covid-19 drasties kan toeneem.

Die WGO se sleutelveranderinge aan die behandeling van DR-TB is ’n noemenswaardige stap wat pasiënte met DR-TB oor die hele wêreld sal bevoordeel. Behandelingstyd is van 18 maande tot ses maande verkort, die aantal pille is van 23 per dag tot 23 per week verminder, pynlike inspuitings is iets van die verlede en die newe-effekte is drasties verminder.

Die navorsing is deur die Universiteit van die Witwatersrand en die Kliniese MIV-navorsingseenheid (CHRU) gedoen as deel van kliniese proewe, waaronder die Nix-TB- en ZeNix-studies wat deur die Global TB Alliance uitgevoer is. Die navorsing het bevind dat nege uit elke tien pasiënte wat ingevolge die nuwe riglyne behandel word, genees kan word.

“Suid-Afrika bring met dié grensverskuiwende navorsing nuwe hoop vir mense met DR-TB, nie net in Suid-Afrika nie maar wêreldwyd, het dr. Norbert Ndjeka, wat onlangs deur die departement van gesondheid as hoofdirekteur van TB aangestel is, gesê.

“Die nuwe WGO-riglyne bepaal dat byna alle vorme van DR-TB met óf BPaLM (’n kombinasie van bedakwilien, pretomanied, linezolid en moksifloksasien) óf BPaL (bedakwilien, pretomanied en linezolid) behandel kan word. Ons verwelkom die WGO-aankondiging wat die vinnige instelling van die nuwe behandelingsprotokol vergemaklik,” het Ndjeka gesê.

Pretomanied het in Augustus 2019 regulatoriese goedkeuring ontvang vir die behandeling van sekere vorme van hoogs middelweerstandige TB. BPaL is onlangs in TB Alliance se ZeNix-navorsing geëvalueer, terwyl die BPaLM-regime op sy beurt in die suksesvolle TB-PRACTECAL-navorsing getoets is.

Volgens dr. Francesca Conradie, ’n navorser in aansteeklike siektes aan die Skool vir Kliniese Geneeskunde by Wits, was die tydsberekening blitsvinnig vanaf die bevindinge van die kliniese proewe tot die aanvaarding deur die WGO. “Hierdie prestasie spreek boekdele vir Suid-Afrika se TB-program en dr. Ndjeka se visioenêre benadering om TB op die vasteland aan te pak.”

Conradie verduidelik dat die bywerkings wat deur die WGO aangekondig is, ’n veel korter tydperk van ses maande se orale behandeling insluit. “Daarbenewens, gegrond op data van Suid-Afrika se nasionale TB-program, het die WGO ook ’n alternatiewe orale behandelingsplan van nege maande aanbeveel. In laasgenoemde is ’n ouer middel, genaamd etionamied, met ’n nuwe middel, linezolid, vervang. Etionamied het baie newe-effekte wat pasiënte dikwels daarvan weerhou om hul behandeling te voltooi.”

Prof. Shabir Mahdi, dekaan van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe en professor in entstof by Wits, het op sy beurt gesê dié universiteit vier nie net sy eeufees nie, maar sy navorsers gaan ook voort om baanbrekende navorsing van internasionale belang te lewer.

“Die bevindings van hierdie studie raak behandelingsprogramme reg oor die wêreld. Dit maak nie net die behandeling van die dodelike TB-plaag meer verdraagsaam vir pasiënte nie, maar hul lewensverwagting verbeter én dit verlig die druk op gesondheidstelsels,” aldus Mahdi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.