SA rockreus sterf

Kobus de Kock Jnr (voor) saam met André Kriel (regs) en Casey Rothman en Gareth Bunge van The Black Cat Bones. (Foto: The Black Cat Bones/Facebook)

Huldeblyke stroom sedert Donderdag op sosiale media in ná die nuus van Kobus de Kock Jnr. se afsterwe gister bekendgemaak is. Kobus (41) was die voorsanger van die blues-rockgroep The Black Cat Bones, wat reeds sedert 2007 Suid-Afrika platgetoer het. Die groep was ook ʼn gereelde instelling by musiekfeeste.

Volgens André Kriel, kitaarspeler van die groep, sukkel hulle nog om die nuus wat Donderdagoggend aan die groep bekendgemaak, is te verwerk.

“Ons sal hom onthou  vir sy opregtheid, sy liefde vir sy medemens en sy absolute passie vir musiek,” het hy aan Maroela Media gesê.

André sê die groeplede sal vanaand by ʼn kroeg bymekaarkom om stories te vertel, ʼn bier te drink en Kobus se lewe te vier.

Huldeblyke stroom in vir Kobus de Kock sedert sy afsterwe Donderdag bekendgemaak is. (Foto: Facebook)

“Ek sal nooit vergeet hoe Kobus altyd speelgoed, sweeties en tandeborsels vir die kinders in die klein dorpies in Mosambiek met die STRAB-musiekfees saamgevat het nie. Hy was iets om te aanskou met sy baard, plakkies en bokskitaar waar hy tussen hulle gestap het, maar dit was vir my ʼn bewys van sy sagtheid vir mense.”

André vertel ook dat terwyl die res van die groep ná vertonings genetwerk het met soveel mense as wat hulle kon, het Kobus altyd een mens gekies om by te gaan sit en dit was dikwels iemand uit die gehoor.

“Jy het hom daar gekry waar hy by hulle sit en gesels. Hy het hulle beter leer ken en teen die einde presies geweet wat hulle laat tick.”

Willim Welsyn het op sy Facebook-blad gesê Kobus se afsterwe is ʼn skok en ʼn enorme verlies, terwyl Conrad Jamneck geskry het: “My bra, jy vat ʼn iets van ons almal saam met jou. Pas dit asseblief mooi op, hou dit veilig vir wanneer ons jou weer sien.”

“Dankie vir alles wat jy vir ons gegee het, waarvoor ons jou nooit genoeg bedank het nie,” het Die Wasgoedlyn op Facebook geskryf.

The Black Cat Bones by OppiKoppi musiekfees in 2015. (Foto: Kobus de Kock Jnr se Facebook-blad/ Louise Pieterse)

Kobus laat sy tweeling, Kobus Jnr. en Leah, sy pa en ma, sy broer, Malan, agter.

ʼn Amptelike roudiens is nog nie vir hom beplan nie, maar André het gesê daar sal waarskynlik ʼn geleentheid ter wille van sy familie en ook nog een vir die bedryf gehou word.

“Dit sal waarskynlik ook in ʼn kroeg wees, waar ons saam iets sal eet en drink, en stories oor Kobus en sy musiek vertel.”

Dewald Pretorius, ‘n digitale inhoudskepper en eienaar van Kolab Kreativ, het hierdie huldeblyk vir Kobus en The Black Cat Bones gemaak. Die lied in die video is “Be the Lion”, geskryf deur Southern Gypsey Queens en opgevoer deur die groep saam met Kobus en André. Dit is opgeneem as deel van die STRAB Colab-album en vervaardig en opgeneem deur Dewald en Conrad.

Kyk hier na die video:

Die gedig wat André vir Kobus geskryf het op The Black Cat Bones se Facebook-blad:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.