SA se 4×400-manne kwalifiseer vir Spele

Die Suid-Afrikaanse 4×400 m-span het hul kaartjie na die Olimpiese Spele in Parys bespreek. (Foto: Wayde van Niekerk/ Instagram)

Wayde van Niekerk en sy sterbelaaide Suid-Afrikaanse 4×400 m-span het hul kaartjie na die Olimpiese Spele in Parys bespreek toe hulle Sondag (vroeg Maandagoggend SA tyd) in Nassau in die Bahamas tweede geëindig het in hul uitdun by die Wêreldaflosbyeenkoms in die Bahamas.

Botswana het goud gewen in ʼn tyd van 2:59.11 – ook die vinnigste tyd nog vanjaar.

Suid-Afrika se Lythe Pillay het vanuit die vyfde plek deurgestorm om aan Suid-Afrika ʼn silwermedalje en ʼn tyd van 3:00.75 te gee. Botswana en Suid-Afrika is gevolg deur België, Japan en Italië.

Gardeo Isaacs, Zakithi Nene, Matt Nortjé en die blitsige Pillay was ʼn uitstekende kombinasie en die span het Suid-Afrika se eerste aflosmedalje sedert Yokohama in 2019 gewen, toe die 4×400 m-mans silwer huis toe gebring het.

Dit was ook Van Niekerk se eerste internasionale medalje sedert die 2017-Wêreldkampioenskap in Londen waar hy goud in die 400 m en silwer in die 200 m gewen het. Hy het kort daarna sy regterknie in raakrugby beseer.

Van Niekerk, wat kort voor die Parys-spele 32 jaar oud word, het die afgelope ruk geveg om weer op dieselfde plek te kom as waar hy was toe hy die wêreldrekord van 43.03 in Rio 2016 opgestel het.

Hy was vyfde by die Wêreldkampioenskap in Eugene in 2022 en sewende by verlede jaar se byeenkoms in Boedapest. Verlede jaar het hy ook sy vinnigste 400 m-tyd (44.08) sedert die besering gehardloop.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Laeik ·

Geluk

Jammer dat Wayde nie sy potensiaal kon bereik nie, sy tyd is verby

Wildemien ·

Lekker!
Daar is min dinge so mooi soos ‘n 4×400 aflos.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.