Soorte resepte:

SA sjef se restaurant smul weer aan Michelin-sukses

Thinus en sy span by die 99 Sushi Bar. Foto: Verskaf)

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

Thinus van der Westhuizen, ‘n Suid-Afrikaanse Michelin-ster-sjef, se restaurant, die 99 Sushi Bar in Abu Dhabi, spog vir ʼn tweede jaar met smullende Michelin-sterstatus.

Dié gesogte Japannese restaurant, waarvan Van der Westhuizen die afgelope agt jaar die hoofsjefhoed dra, is vanjaar met een Michelin-ster bekroon.

Van der Westhuizen het verlede jaar by Jan-Hendrik van der Westhuizen, Connor Toomey en Jean Delport aangesluit as een van slegs vier Suid-Afrikaanse sjefs wat al met dié status bekroon is.

Van der Westhuizen, ʼn Pretoria-gebore sjef, het voorheen aan Maroela Media gesê dat 99 glo dat “elke liewe maaltyd voorberei moet word asof dit vir ʼn Michelin-inspekteur bedien gaan word.”

Volgens die 34-jarige is dít wat hy en sy span as die norm in hul restaurant beskou, goed genoeg is om die “wêreldbeker-trofee van kookkuns omhoog te hou”.

Die Michelin-gids is ʼn reeks uiters goed nagevorste gidse wat sedert 1900 deur die Franse Michelin-bandemaatskappy uitgegee word.

Tot drie Michelin-sterre kan toegeken word vir uitnemendheid.

Dit is slegs die tweede jaar wat restaurante in die Midde-Ooste in die Michelin-stergids opgeneem word.

“Dit is ʼn eer vir die 99-span om in 2023 met een Michelin-ster bekroon te word. Met hierdie groot erkenning het ons ook ʼn groot verantwoordelikheid: ons plig om onsself te handhaaf in die sterrewedloop na die gastronomiese hemele,” het Jaime Castaneda, uitvoerende hoof van 99 SB Investment, in ʼn Facebook-plasing oor die restaurant se prestasie gesê.

Volgens Castaneda gaan dié restaurant ook uitbrei en takke in onder meer Londen en Monaco open.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.