SA skoonheid se tiener geopereer weens breinbloeding

Die Suid-Afrikaanse model en aktrise, Lorna Greyling en haar gesin. (Foto: Verskaf)

Geskryf deur: Alet Engelbrecht

Die Suid-Afrikaanse aktrise, model en TV-aanbieder, Lorna Greyling, se dogter is tans in die waakeenheid van ʼn Amerikaanse hospitaal nadat sy weens bloeding op die brein geopereer moes word. Die bloeding is veroorsaak deur ʼn geboortedefek. Die 17-jarige Tenieka het intussen haar spraak verloor en die een kant van haar lyf is verlam.

Greyling is in 2016 as Mev. Afrika en in 2017 as Mrs TCP Universe aangewys. Sy en haar man, Nick, en hul drie dogters het twee jaar gelede na Florida, Amerika, geëmigreer nadat die toenemende misdaad en ekonomiese druk weens die Covid-19-pandemie die einde van hul ondernemings in Suid-Afrika beteken het.

Lorna vertel dat haar middelste dogter drie weke gelede erge hoofpyne ontwikkel het terwyl sy by die skool was. Hulle het haar na die noodkliniek geneem waar toetse op haar gedoen is vir onder meer breinvliesontsteking. Die toetse kon nie die erge hoofpyne verklaar nie en hulle is huis toe gestuur met sterk hoofpynmedikasie. Die hoofpyne het aangehou en Tenieka het net sieker geword. Vyf dae later is hulle terug na ʼn ander noodkliniek vir toetse en het uiteindelik by die Orlando Health Medical Centre beland, nadat die mediese personeel Tenieka eers na Miami wou laat vlieg.

Lorna vertel dat die hospitaal in Orlando ʼn bestiering was omdat dr. Jay Vechani, ʼn neuroloog wat spesialiseer in gevalle soos Tenieka s’n, dadelik by haar behandeling betrokke geraak het.

Lorna Greyling se dogter, Tenieka, het bloeding op die brein gekry. (Foto: Verskaf)

Ná vele skanderings en toetse is AVM (arteriovenous malformation, oftewel arterioveneuse wanvorming) gediagnoseer, ʼn seldsame toestand wat die abnormale verbinding, vorming en samestelling (formasie) van bloedvate veroorsaak. Die toestand ontstaan weens ʼn geboortedefek.

Dié bloedvate het gebars wat die bloeding op Tenieka se brein veroorsaak het en tot die erge hoofpyne gelei het. Die formasie moes verwyder word omdat daar ʼn 80%-kans was dat die bloeding weer kon begin. Lorna vertel dat sy ʼn uur gehad het om met kenners, familie en met Tenieka te praat oor die mediese gevolge as die operasie nie ʼn sukses was nie. Tenieka kon uitbloei tydens die operasie, ʼn beroerte kry of erge breinskade opdoen. Die gesin het saam besluit dat ʼn operasie hul enigste uitweg is en Tenieka is Maandag 30 Oktober geopereer.

Die nege uur lange operasie was ʼn sukses en haar toestand het ná vier dae begin stabiliseer. Sy het Vrydag ʼn opvolgoperasie ondergaan.

Tenieka het wel haar spraak verloor ná afloop van die operasie, die een kant van haar liggaam is verlam en haar gesig is erg geswel. ʼn Lang pad van rehabilitasie lê nou voor, maar die familie glo dat sy heeltemal sal herstel.

Lorna Greyling is in 2017 as mev. Afrika gekroon. (Foto: Verskaf)

Lorna het groot lof vir die neuroloog en die hospitaalpersoneel van die Orlando Health Medical Centre. “Hulle is net wonderlik. Dis asof hulle saam met jou veg vir jou kind se lewe. Van die susters het vars aarbeie vir Tenieka gaan koop, net omdat hulle gehoor het sy hou daarvan.”

Tenieka is tans nog in die neuro-intensiewesorgeenheid. Die gesin is dankbaar vir elke boodskap, onderskraging en finansiële hulp wat hulle ontvang van mense in Amerika en Suid-Afrika.

Die Greylings het twee jaar gelede besluit om na Amerika te emigreer nadat hulle twee keer in hul huis, eers in Melville en toe in ʼn kompleks in Hartbeespoortdam, deur gewapende rowers aangeval en besteel is. Nick Greyling is boonop in 2010 in Nigerië tydens ʼn produksie vir Supersport uit die spanbussie ontvoer en tien dae lank aangehou en gemartel voordat hy bevry is. Hy het destyds as klankingenieur vir Supersport gewerk.

“Ons is die afgelope paar jaar deur hel en het uiteindelik ses maande gelede ons groen kaarte gekry om in Amerika te kan werk. Ons moes onder begin soos die meeste mense wat emigreer en ons bly in ʼn tweeslaapkamerwoonstel, maar dinge begin nou beter gaan met ons as gesin. Die hospitaal se mense is net so goed vir ons. Ek en Nick maak beurte om op ʼn bankie in die hospitaal te slaap, want ons moet daar wees ingeval daar ʼn noodgeval ontstaan. Ons is so dankbaar vir elke gebed en boodskap; daar is soveel engele wat op ons pad geplaas word om ons deur hierdie tyd te dra. Ons wil net baie dankie sê vir al die ondersteuning.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Casper ·

Sy is nog so jonk en die familie us deur hel hier in bananaland maar gebed is beter as medikasie.Julle sal veilig deur die storms wat om julle woed vaar en terug kyk en wonder hoe dit moontlik was.

Oujongvrou ·

Dankie tog julle was daar. Hier twyfel ek of sy gehelp sou kon word. Ek hou julle kind in my gebede.

Mariska ·

Baie sterkte vir julle as ouers en vir haar. Ek is nou 38 en het ook dieselfde paadjie geloop met ‘n AVM toe ek 15 was. Ek hou haar in my gebede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.