Rosatom, Rusland se kernkragprodusent, het aangekondig dat hy teen 2023 agt kernreaktors aan Suid-Afrika sal verskaf as deel van ʼn strategiese vennootskap tussen die twee lande ter waarde van $50 miljard (nagenoeg R560 miljard).
Sergey Krienko, direkteur-generaal van Rosatom, het volgens die Itar-Tass-nuusagentskap gesê een reaktor kos sowat $5 miljard. Die vennootskapsooreenkoms, wat tydens die Internasionale Atoomenergieagentskap se konferensie in Wene onderteken is, behels ook dat Rusland Suid-Afrika sal help om infrastruktuur te bou sowel as die opleiding van kenners by Russiese-universiteite.
Rosatom sal duisende werksgeleenthede in Suid-Afrika skep as deel van die ooreenkoms ter waarde van “minstens $10 miljard”, het Kirienko in ʼn verklaring gesê.
Tina Joemat-Pettersson, Suid-Afrika se minister van energie, het gesê die land beskou kernkrag as ʼn “belangrike drywer vir nasionale ekonomiese groei”.
“Ek is seker dat samewerking met Rusland ons sal toelaat om teen 2030 ʼn opwekkingsvermoë van 9,6 GW te skep wat gebaseer is op moderne en veilige tegnologie,” het sy in ‘n verklaring gesê.
Suid-Afrika het tans net een kernkragsentrale.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
12 Kommentare
Het Suid-Afrika dan nie die vermoe om die goed self te bou nie? Of is die kundigheid ook landuit gejaag as gevolg van pigmentasie probleme? Ek is egter bly Suid-Afrika het kernkrag as deel van hulle strategie vir elektrisiteitsopwekking in teenstelling met sommige ander mal lande…
Wat ‘n klomp lawwigheid – is hulle regtig ernstig?! Bou asb. die eerste een digby Nkandla en stel Prof JJ aan as hoof-ingenieur.
Het Rusland Chernobil in die Ukraine gebou ? n Stad daar naby ,nogal Pripyat ,Pretoriat? Die son en wind is gratis , NET , niemand maak dan so lekker Roebels daaruit nie . As Koeberg lek , lek hy nie olie nie !
Nou is die vraag wat gaan Rusland vanaf Suid-Afrika in die toekoms vereis? So ‘n enorme bedrag moet tog een of ander gevolg dra. As daar eendag kant gekies moet word tussen Rusland en ‘n ander land bv. VSA, gaan ons Rusland moet ondersteun? Voel vir my of vriendskap of lojaliteit moontlik gekoop word hier. Hopenlik is dit nie die geval nie en dan moet ons sê baie dankie Rusland, ons het dit nodig!
Ek wil nou nie negatief klink nie, maar ek wonder nogal hoeveel korrupsie gaan hierdie deal veroorsaak… Eish tog…