SA soldaat in DRK dood na skietery op helikopter

Lede van Monusco in Kitshanga in die DRK (Foto: Guerchom Ndebo/AFP)

ʼn Lid van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) is in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) dood en nog een beseer nadat daar op die Oryx-helikopter waarin hulle gevlieg het, geskiet is.

Die voorval het Sondag in Goma plaasgevind. Volgens Siphiwe Dlamini, woordvoerder van die SANW, kon die beseerde lid daarin slaag om die helikopter veilig by die Goma-lughawe te land. Sy medelid is noodlottig gewond.

Die weermag is besig om die betrokke soldate se familielede van die gebeure in te lig en verdere besonderhede sal mettertyd bekend gemaak word.

Thandi Modise, minister van verdediging en militêre veterane, Thabang Makwetla, adjunkminister, dr. Thobekile Gamede, waarnemende sekretaris van verdediging, en genl. Rudzani Maphwanya, hoof van die SANW, het hul medelye met die oorledene se familie betuig en die beseerde soldaat ʼn spoedige herstel toegewens.

Die betrokke soldate is deel van die Verenigde Nasies (VN) se vredesmag, Monusco, in die DRK.

Die presiese omstandighede van die voorval is nog nie duidelik nie, het Amadou Ba, ’n woordvoerder van die VN-sending in die DRK, gesê.

Bintou Keita, hoof van Monusco, het die “lafhartige aanval” ten sterkste veroordeel en bygevoeg dat “aanvalle teen vredesmagte ’n oorlogsmisdaad kan uitmaak”.

Antonio Guterres, die VN se sekretaris-generaal, het ’n beroep op die Kongolese owerhede gedoen “om hierdie gruwelike aanval te ondersoek en diegene wat verantwoordelik is vinnig voor stok te kry”.

Agt lede van die VN se vredesmagte is in Maart verlede jaar dood toe hul helikopter oor ’n gevegsone tussen die Kongolese weermag en M23-rebelle neergestort het.

ʼn Suid-Afrikaanse soldaat verbonde aan Monusco is in Junie 2021 tydens ʼn militêre operasie in Kilia in die ooste van die DRK doodgeskiet.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Harley Davidson ·

Dan stel ek dit so dit is nie my regering of weermag nie en ek voel nie ‘n duit wat hulle doen of met hulle gebeur nie.

Veritas ·

Ek stem in beginsel saam, maar onthou asseblief dat die soldaat ‘n vrou, miskien kinders of ouers gehad het. Die soldaat is nou dood. Ek het familie en vriende daar in die SANW, so wees asb ‘n bietjie meer sensitief. As mens nou nie omgee wat met hulle gebeur nie, is dit seker u reg, wag dan maar gerus todat die naam publiek gemaak word en die naastebetsaandes ingelig is.

My siening ·

Ja wat maak ons daar is hier nie grense wat bewaak moet word teen mafias maar aan die anderkant het ons n weermag?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.