SA soldaat skiet ander, toe homself in DRK

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: ANA)

Twee Suid-Afrikaanse soldate is in die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK) dood nadat die een die ander doodgeskiet en toe sy dienswapen op homself gedraai het.

Dié voorval het hom Donderdag in dié oorloggeteisterde land afgespeel te midde van omstredenheid oor die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) se ontplooiing in die DRK as deel van die Verenigde Nasies se Monusco-vredesmag.

Die twee soldate se liggame sal na Suid-Afrika gerepatrieer word.

Die SANW het intussen ’n raad van ondersoek byeengeroep om die voorval sowel as die omstandighede wat daartoe gelei het, saam met die Monusco-bevel te ondersoek.

Thandi Modise, minister van verdediging en militêre veterane, het haar skok met die voorval uitgespreek.

Die voorval volg enkele weke nadat ’n mortierbom in die ooste van die DRK die lewe van twee weermaglede geëis het toe dit binne-in een van die weermagbasisse van die kontingent geland het.

Dié gestorwe soldate is geïdentifiseer as kapt. Simon Mkhulu Bobe en o.kpl. Irven Thabang Semono.

Maroela Media het vroeër berig dié sterftes was die eerste aangetekende sterftes sedert 2 900 Suid-Afrikaanse troepe in Desember as deel van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se sending, genaamd SAMIDRC, in die ooste van die DRK ontplooi is om die M23-rebellegroep te beveg.

Twee lede van die Suid-Afrikaanse vredesmagte is sedertdien beseer toe meer as 40 skote op die SANW se enigste ontplooibare Oryx-helikopter afgevuur is.

Krygskenners sê al geruime tyd dat die besluit om troepe tot die SAOG se mag in die DRK by te dra, ʼn fout is wat lewens kan kos.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.