SA stuur af op ernstige waterkrisis – verslag

Uit 140 getoetste rioolafvalwaterbehandelingswerke in die land, voldoen slegs 19% aan die minimum standaarde. (Foto: AfriForum)

Uit die uitvloei van 140 getoetste rioolafvalwaterbehandelingswerke (RAWBW’e) in Suid-Afrika, voldoen ʼn skamele 19% aan die minimum standaarde, het AfriForum Woensdag in sy jaarlikse blou- en groendruppelverslag bekend gemaak.

Volgens dié burgerregteorganisasie staan die land – veral ten opsigte van behandelde rioolafvalwater – op die rand van ʼn ernstige waterkrisis.

Vanjaar se verslag bevat die uitslae van watergehaltemonsters wat AfriForum se netwerk van 161 takke landwyd in Augustus van munisipale drinkwater (bloudruppel) en die uitvloei van verwerkte rioolwater (groendruppel) by plaaslike RAWBW’e geneem het.

Die uitslae toon dat Suid-Afrika se drinkwater steeds in ’n groot mate aan die minimum vereistes voldoen. Uit die 193 monsters drinkwater wat getoets is, was dit in agt gevalle onveilig vir menslike gebruik.

Die meeste water (81%) wat RAWBW’e in riviere stort, voldoen egter nie aan die minimum standaarde nie.

Dit beteken dat die water wat RAWBW’e in riviere – insluitend die Vaalrivier – stort, in ’n kommerwekkende 81% van gevalle nie voldoende behandel is nie.

Vanjaar se toetse het die teenwoordigheid of afwesigheid van verskeie chemiese en bakteriologiese komponente ondersoek. Dié toetse bepaal onder meer die teenwoordigheid van die bakterie E. coli, wat diarree, naarheid, braking en selfs nierversaking tot gevolg kan hê, en fekale kolivorme bakterieë, wat siektes soos ingewandskoors (oftewel buiktifus), lewerontsteking en disenterie kan veroorsaak.

Die provinsies wat luidens die verslag die beste gevaar het en waar alle toetse aangedui het drinkwater veilig is, lyk soos volg:

  • Limpopo (13 toetse)
  • Noordwes (24 toetse)
  • Noord-Kaap (14 toetse)
  • Oos-Kaap (9 toetse)
  • Wes-Kaap (35 toetse)
  • Gauteng (24 toetse)

Die Noord-Kaap se uitslae het ’n verbetering teenoor 2022 getoon, terwyl Mpumalanga slegter as verlede jaar gevaar het.

Dorpe in Mpumalanga waar die drinkwater onveilig is, lyk soos volg:

  • Amersfoort (Pixley Ka Seme-munisipaliteit)
  • Barberton (Mbombela-munisipaliteit)
  • Breyten (Msukaligwa-munisipaliteit)
  • Morgenzon (Lekwa-munisipaliteit)
  • Sabie (Thaba Chweu- plaaslike munisipaliteit)

In die Vrystaat het twee uit 27 toetse onveilige drinkwater aangedui, naamlik in Koppies (Ngwathe-munisipaliteit) en Parys (Ngwathe-munisipaliteit).

In KwaZulu-Natal het een van AfriForum se toetse aangedui dat Vryheid se drinkwater onveilig is.

“Die uitslae van vanjaar se toetse is rede tot ernstige kommer oor die algehele toestand van die bestuur van die volledige watervoorsieningsketting in Suid-Afrika,” het Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir omgewingsake, gesê.

“Hoewel watertoetse net gedoen word op plekke waar AfriForum takke het, en die uitslae net geld ten opsigte van die tydstip waarop die watermonsters geneem is, skets die resultate ’n prentjie van hoe gesond, of ongesond, Suid-Afrika se water in die geheel is.”

Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder vir omgewingsake, sê sowat 90% van dorpe landwyd onttrek drinkwater uit watermassas waarin rioolaanlegte (on)behandelde riool stort.

“Die wanbestuur van RAWBW’e veroorsaak dus ’n bose kringloop wat ook die gehalte van drinkwater kan beïnvloed.

“Ons betaal nog relatief min vir drinkwater, maar dit gaan al hoe duurder word om water te suiwer en daarom gaan die prys van drinkwater opgaan.”

De Klerk waarsku ook dat indien die regering nie nou dringend ingryp om die wanbestuur van RAWBW’e te pak nie, aanlegte se beheer en bestuur sal verbrokkel en dit tot lewensgevaarlike situasies kan lei soos wat vroeër vanjaar met die cholera-uitbreking die geval was.

Lees die volledige verslag hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

annie ·

Hoeveel watertorings en damme is die afgelope 30 jaar gebou en hoeveel damme is weer gesleep om modder te verwyder. Orals is damme met groot kapasiteit maar dit is vol slyk en modder. Hierdie kwessie moes al lankal deur die DA opgeblaas gewees het want die ANC gooi water net soms by…

SjN ·

SA se oorlog gaan kom oor water, let wel drinbare water, mark my words.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.