SA veearts internasionaal vereer

Dr. Gideon Brückner (Foto: Faculty of Veterinary Science, Onderstepoort, Facebook)

Dr. Gideon Brückner, ʼn veeartsenykundige alumni van die Universiteit van Pretoria (UP), is deur die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (OIE) met ʼn goue medalje vir sy uitstaande veeartsenykundige diens vereer.

Hy het die medalje by ʼn toekenningsgeleentheid in Kaapstad, gefasiliteer deur die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, ontvang.

Volgens die UP se fakulteit vir veeartsenykunde is Brückner die tweede Suid-Afrikaner wat nog ooit hierdie gesogte toekenning ontvang het. Dr. Roy Bengis, ook ʼn veeartsenykundige alumni van die UP, was in 2015 die eerste Suid-Afrikaner om dié goue medalje te ontvang.

Hierdie toekenning word as een van die hoogste internasionale eerbewyse beskou. Met dié toekenning onderskei veeartse hulself deur hul uitstaande diens op die gebied van veeartsenykunde en hul beduidende bydrae tot die tegnologiese en wetenskaplike ontwikkeling van aktiwiteite wat verband hou met die doelwitte van die OIE.

Brückner sê hy is geëerd om hierdie gesogte toekenning en erkenning te ontvang.

“Ek wil graag my familie en kollegas vir hul ondersteuning bedank en dat hulle sy aan sy met my gewerk het. Sonder hul ondersteuning sou hierdie prestasie nie moontlik gewees het nie. Ek is ook dankbaar dat Suid-Afrika erkenning sal ontvang deur hierdie toekenning,” sê Brückner in ʼn verklaring wat deur die fakulteit uitgereik is.

Brückner het in 1972 sy graad in veeartsenykunde ontvang en het sy loopbaan van 47 jaar in provinsiale, nasionale en internasionale veeartsenydienste deurgebring. Gedurende hierdie tyd het hy onderskeidelik as direkteur van veterinêre openbare gesondheid, direkteur van dieregesondheid en direkteur van veeartsenydienste van die nasionale departement van landbou gedien, asook as hoofdirekteur van veeartsenydienste in die Wes-Kaap.

Luidens die verklaring is hy ook ʼn voormalige adjunk-direkteur-generaal van die OIE en hoof van die wetenskaplike en tegniese departement in Parys, Frankryk; die eerste en enigste Suid-Afrikaner wat hierdie pos tot dusver beklee het.

Hy was die president van die OIE se wetenskaplike kommissie vir dieresiektes tot sy aftrede in 2018.

“Brückner se groot prestasies sluit ook in sy rol in die beheer van bek-en-klouseer – waar hy onder meer betrokke was by verskeie veldtogte om uitbrekings van bek-en-klouseer in Suid-Afrika te beheer. Hy beskou sy rol in die uitskakeling van bek-en-klouseer in Suid-Amerika as een van sy grootste prestasies,” lui die verklaring.

“Hy dien steeds as ʼn geakkrediteerde OIE-sendingdeskundige wat dieresiektebeheer, veral bek-en-klouseer, in lidlande beoordeel, en namens en op versoek van die organisasie meer as 70 lande op konsultasiebasis besoek.”

Brückner het Suid-Afrika al op verskeie maniere in die buiteland verteenwoordig en verskeie afvaardigings gelei om die toekenning of herinstelling van internasionaal erkende status van vryheid van dieresiektes vir Suid-Afrika te beding. Hy was ook aktief in ʼn deskundige raadgewende hoedanigheid vir ander internasionale organisasies, waaronder die Verenigde Nasies se voedsel- en landbou-organisasie, die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) en die Wêreldhandelsorganisasie (WHO).

Hy was die eerste Suid-Afrikaanse veearts wat as ʼn genomineerde kenner in die WHO se regsgeskilpanele vir dieregesondheid gedien het, en was voorsitter van talle ad hoc-OIE-kundigheidsgroepe.

Volgens die verklaring het Brückner 12 jaar lank as lid van die OIE se wetenskaplike kommissie vir dieresiektes gedien. “Gedurende hierdie tydperk het hy ʼn beduidende rol gespeel in die ontwikkeling en formalisering van OIE-standaarde oor die beheer van groot dieresiektes, en die assessering en monitering van die toekenning en instandhouding van vryheidstatus van OIE-gelyste siektes deur OIE-lidlande.”

In 2005 het die Suid-Afrikaanse Veeartsenykundige Vereniging die presidentstoekenning en medalje aan hom toegeken as erkenning vir sy uitsonderlike diens in die bevordering van veeartsenykunde in Suid-Afrika.

In 2008 het hy die Arnold Theiler-gedenklesing gelewer wat destyds deel gevorm het van die Fakulteit Veeartsenykunde se bydrae tot UP se eeufeesvieringe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Burgermeester ·

Dit is nou ‘n toekenning om op trots te wees. Baie geluk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.