SA weer gesogte reisbestemming

Plaaslik het die prys van vliegkaartjies die afgelope ruk skerp gestyg. (Foto: Maroela Media)

Ná twee jaar van chaos is die toerisme- en gasvryheidsbedryf in Suid-Afrika besig om weer mooi kop op te tel. Buitelandse besoekers val ook omtrent oor hul voete om reise na Suid-Afrika te bespreek, met Suid-Afrikaners wat deesdae self graag weer ʼn tas pak en in die pad val.

Luidens navorsing van Sojern, ʼn digitale bemarker van die reisbedryf, was vlugbesprekings in Suid-Afrika in Mei vanjaar reeds ʼn kwart meer as wat dit ʼn jaar gelede was.

Boonop herstel sommige bestemmings veel vinniger as ander. Besprekings na stede soos Kimberley en Bloemfontein is op ʼn jaargrondslag hoër, hoewel besprekings daarheen en soektogte daarna steeds veel laer is as in 2019.

Johannesburg is boaan die lys van Suid-Afrikaanse metro’s van waar vlugte bespreek word, gevolg deur Kaapstad.

Plaaslik het die prys van vliegkaartjies die afgelope ruk skerp gestyg en ʼn retoervlug tussen Johannesburg en Kaapstad kan jou lag-lag nagenoeg R6 000 uit die sak jaag. Desmond Latham, ʼn lugvaartkenner, het die afgelope week in ʼn onderhoud met eNCA gesê verskeie faktore dra by tot die stygings. Dit sluit in diegene wat dringend kaartjies wil koop en hoe nader aan jou vertrekdatum die kaartjie gekoop word, hoe duurder word dit.

Reisiger vlieg graag na Kaapstad en Johannesburg. (Foto: Maroela Media)

Boonop het die prys van brandstof, rederye se grootste uitgawe, die afgelope ruk skerp gestyg. Volgens Latham was daar ook ʼn styging in bedryfskoste – én die vraag na kaartjies het gestyg. Hy sê “almal wil vlieg” ná die Covid-19-pandemie en dit het dus tot die styging bygedra.

Dis ook nie net op tuisbodem waar reisigers meer moet opdok nie. Sojern se navorsing wys die koste verbonde aan internasionale reise het ná die uitbreking van die Covid-19-pandemie aanvanklik skerp gedaal, maar dit is in hierdie stadium selfs hoër as wat dit voor die uitbreking van die koronavirus was.

Die navorsing wys ook hoe belangrik plaaslike reisigers vir die toerisme- en gasvryheidsbedryf bly. Suid-Afrikaners bespreek net minder as die helfte van alle vliegkaartjies na bestemmings in die land, gevolg deur lande soos Engeland en die VSA.

ʼn Groot gedeelte van vlugte wat vanjaar bespreek word (wanneer dit met 2019 vergelyk word), is heen-en-weer-vlugte wat ʼn enkele dag of selfs minder duur.

In Januarie en Februarie was die duur van die reise volgens die navorsing langer en tussen 50% en 60% van reise – gegrond op die vlugbesprekings – was langer as ʼn week.

Suid-Afrikaners bespreek hul vliegkaartjies boonop al hoe nader aan hul vertrekdatum – in teenstelling met besprekingspatrone voor Covid-19 – terwyl Sojern se data wys dat internasionale reisigers uit onder meer Europa reeds besig is om hul besoeke aan Suid-Afrika oor die Kerstyd te reël.

Die data wys internasionale reisigers se besprekings word deesdae veel verder vooruit gedoen as wat die neiging in 2019 was.

“Covid-19 het Suid-Afrika swaarder getref as talle ander lande en die reisbedryf is veral op sy knieë gedwing. In die nadraai van die Omikron-variant laat verlede jaar, is die land nou in ʼn fantastiese posisie om munt te slaan uit ʼn herstel in internasionale reis,” sê Steward Smith, Sojern se besturende direkteur vir die Midde-Ooste en Afrika.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

SjN ·

Beurtkrag en water probleem is n Groot demper en syfers sou beter gewees het.

Snowball ·

Sterkte aan dié wat dink hierdie elektrisiteitslose misdaadhool is ‘n gesogte reisbestemming…

Swerwer ·

Met al die moorde,roof en plundering gaan dit beslis nie lank hou nie. Geen “mens” is meer sy lewe veilig in hierdie Kommunistiese land nie. Met die beweerde dreigende oorlog tussen Zimbabwe en Suid Afrika gaan daar defenitief ‘n drastiese wending plaasvind.

piet ·

Dreigende oorlog tussen SA en Zimbabwe? Ek moes iets gemis het, lig ons asseblief in.

Republikein in die Wes Kaap ·

Buitelanders hier raak meer paraat. Hulle is gereed vir haataanvalle. Moet ook nie verbaas wees indien Zim en Botswana hul burgers hier sal beskerm nie. En daar is niks wat die SANDF en SAPS sal kan doen nie.

Cathy ·

Die reisigers leef duidelik in lala-land en is saliglik onbewus van die ware toedrag van sake in die land of hulle druk hul koppe in die sand soos volstruise!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.