Sadie, Msomi dra SA se vlag by Statebondspele

Bongi Msomi, Suid-Afrika se Netbalkaptein. (Foto: TeamSA)

Die kaptein van die Proteas-netbalspan, Bongi Msomi, en die Paralimpiese swemmer Christian Sadie sal Donderdag die land se vlag dra by die openingseremonie van vanjaar se Statebondspele in Birmingham, Engeland.

“Ons is trots daarop om aan Bongi en Christian die eer te gee om die vlag te dra by so ʼn heuglike geleentheid soos die openingseremonie,” sê Lwandile Simelane, Span Suid-Afrika se hoofspanbestuurder (chef de mission) by die Statebondspele.

“Albei is ʼn verpersoonliking van die gees van die Spele, asook toegewyde en hoëprestasie-atlete,” sê sy.

Die Statebondspele is die enigste multi-sportbyeenkoms van sy soort waar sport- én parasportbyeenkomste gelykwaardige aansien geniet. Dit is ook die grootste parasportprogram tot nog, terwyl daar vir die eerste keer in die geskiedenis meer medaljegeleenthede vir vroue (135) as vir mans (133) is.

Msomi en Sadie het albei in 2018 aan die Spele deelgeneem en het hulself en Suid-Afrika die afgelope paar jaar by verskeie geleenthede trots gemaak.

Sadie het onlangs ʼn silwer medalje by die Paralimpiese swemwêreldkampioenskap verower.

Span SA se netbalspelers is in Groep A geloot waar hul teenstanders Australië, Jamaika, Skotland, Wallis en Barbados sal wees. Die twee toplande uit elke groep sal deurdring na die halfeindronde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.