Sahpra bevestig tweede entstof-sterfte

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die Suid-Afrikaanse Gesondheidsproduktebeheerraad (Sahpra) het Maandag ʼn tweede noodlottige geval van Guillain-Barré-sindroom (GBS) bevestig. Sahpra het op 4 Augustus vanjaar die eerste GBS-sterfte aangemeld ná die pasiënt Johnson & Johnson se entstof teen Covid-19 ontvang het.

Dr Boitumelo Semete-Makokotlela, uitvoerende hoof van Sahpra, sê die assessering van die geval is behartig deur Nisec, die nasionale deskundige komitee oor immuniseringsveiligheid deur van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se metodologie gebruik te maak. “Die geval is geklassifiseer as ʼn entstofprodukverwante voorval.”

Die gebeure strook met die definisie van GBS en geen ander moontlike oorsaak van GBS kon geïdentifiseer word nie.

Dié uiters seldsame sindroom vernietig die beskermende skede (miëlien) om die aksone van ʼn pasiënt se senuweeselliggame (neurone). Die neurone kan dan nie meer boodskappe van die brein na die ledemate gelei nie en verlamming volg. Die verlamming begin by die buitenste ledemate, soos tone, vingers, voete en hande en beweeg dan na binne. Pasiënte se asemhalingspiere word ook aangetas en pasiënte kan later nie meer self asemhaal nie.

GBS kan veroorsaak word deur sommige bakteriële of virale infeksies, insluitend SARS-CoV-2.

“Reguleringsowerhede het vroeër berigte ondersoek van GBS wat met Covid-19-entstowwe verbind word. Hulle het bepaal dat Johnson & Johnson se entstof die risiko vir GBS kan verhoog. GBS word dus aangedui as ʼn uiters seldsame negatiewe geval in die professionele inligting vir die betrokke entstof.”

Semete-Makokotlela sê ondersoeke en oorsaak-assessering van alle ernstige negatiewe gevolge wat met die betrokke entstof verband hou, duur voort. “Die uitslag van dié ondersoeke sal met die publiek gedeel word sodra dit afgehandel is.”

Sahpra hou vol die voordele verbonde aan die Covid-19-entstof weeg veel swaarder as die risiko daaraan verbonde. Meer as 37 miljoen entstofdosisse waaronder nege miljoen dosisse van Johnson & Johnson se entstof is teen Augustus 2022 in Suid-Afrika toegedien.

Sahpra moedig ook die publiek aan om enige vermoedelik negatiewe gevolge ná die gebruik van enige medikasie of entstowwe aan te meld. Meld die gebeure aan by enige gesondheidsorgfasiliteit of laai die Med Safety-app af (https://medsafety.sahpra.org.za/) – beskikbaar op die Google Play Store en Apple App Store. Jy kan ook die Covid-19-hulplyn kontak by 0800 029 999.

Om enige spesifieke gevolge van die Covid-19-entstof aan te meld, besoek Sahpra se webwerf: https://aefi-reporting.sahpra.org.za/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.