Sakeliga hof toe oor Eskom se ‘sluierregulasies’

(Foto: Dirk Hermann/Facebook)

Sakeliga wil weet presies hoe die nasionale tesourie beplan het om aan Eskom en ander staatsentiteite vrystelling rakende hul finansiële verslagdoening toe te staan, en het die hof genader om dié antwoorde te bekom.

Sakeliga se jongste aansoek volg nadat die tesourie in Maart besluit het om Eskom vry te stel van sekere bepalings in die Wet op Openbare Finansiële Bestuur – ʼn besluit wat gou ná hewige teenkanting teruggetrek is. Volgens die organisasie maak dié soort vrystellings die deur vir korrupsie en verdoeseling wawyd oop.

Die vrystelling sou beteken dat Eskom nie sy verkwiste uitgawes op sy openbare finansiële state hoef te verklaar nie, maar dit slegs in sy eie jaarverslae aandui. Kritici was egter van mening dat die vrystelling ʼn direkte invloed op grondbeginsels soos aanspreeklikheid en deursigtigheid sou hê en die kans op korrupsie verder bevorder.

Nadat die kwytskelding herroep is, het Sakeliga ʼn aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting by die hof ingedien om te bepaal of ander entiteite soortgelyke vrystellings ontvang het.

Tian Alberts, regs-en-skakelbeampte by Sakeliga, sê die organisasie het egter nooit behoorlike antwoorde op hierdie versoeke ontvang nie.

“Ná etlike maande se gesloer deur die nasionale tesourie het Sakeliga nou hofstukke by die hooggeregshof in Pretoria ingedien vir toegang tot al die rekords wat met Eskom se teruggetrekte vrystelling verband hou. Ons wil ook hê dat die hof moet gelas dat rekords wat met allerlei staatsinstellings se soortgelyke vrystellings verband hou, openbaar gemaak word.”

Sakeliga meen dat vrystellings soos dié maatskappye in staatsbesit in staat stel om korrupsie en onreëlmatighede te verduister.

“Sodanige verdoeseling stel die onvermydelike proses uit waardeur ondoeltreffende maatskappye in staatsbesit hul kunsmatige monopolie oor byvoorbeeld elektrisiteitsverspreiding verbeur.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Papsak ·

Vat hulle aan waar dit seerste gaan maak sakeliga bou voort bravo vir julle !!!!!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.