Sakeliga se strategie oor ramptoestand

(Foto: VF Plus Siyancuma/Facebook)

Die verklaring van ʼn nasionale ramptoestand hou ernstige gevare maar ook geleenthede in om elektrisiteitsvoorsiening te denasionaliseer en desentraliseer. Só sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga.

“Die ernstige gevare lê in die bykomende diskresie wat die regering bekom om regulasies en direktiewe met wydlopende gevolge vir die hele samelewing uit te vaardig. Met meer as twee jaar se voorheen ondenkbare magsvergrype, korrupsie en ekonomiese vernietiging ʼn baie onlangse herinnering, het ondernemings en die publiek tereg geen vertroue in die oordeel van die einste regering wat die Covid-19- nasionale ramptoestand verklaar en bestuur het nie en wat boonop die oorsaak is van die energiekrisis wat dit nou na bewering wil oplos.”

Sakeliga het behoorlike aandag en oorweging aan die moontlikheid van regsaksie teen die nasionale ramptoestand geskenk. “Gegewe ons opsies en die litigasie vandeesweek aangekondig deur ander organisasies, gaan ons as volg voort,” sê Le Roux.

  • Sakeliga het sy prokureurs opdrag gegee om sy hangende hofsaak, om dele van die Wet op Rampbestuur ongrondwetlik te laat verklaar, te versnel. “Die saak is oorspronklik in Februarie 2022 gebring om verdere hernuwing van die Covid-19- nasionale ramptoestand te voorkom, maar ons het voorsien dat die regering in die versoeking sal kom om toekomstige ramptoestandverklarings te gebruik om sy eie mislukkings te bestuur of standaard bestedingsoorsig te omseil. Hoewel die regsaksie reeds bygedra het tot die opheffing van daardie nasionale ramptoestand, bly die deel wat op die grondwetlikheid van die Wet op Rampbestuur betrekking het voor die hof.” Lees hier meer oor die saak.
  • Sakeliga sal alle komende regulasies en direktiewe wat ingevolge die nasionale ramptoestand uitgevaardig word oorweeg, met voorbehoud van sy regte om regsaksie te bring teen enige aspek van die rampklassifikasie, die nasionale ramptoestandverklaring en enige regulasies of direktiewe daaruit voortspruitend. “Waar regulasies of direktiewe inbraak maak op die vermoë van besighede en verbruikers om vryelik alle vorme van energie te verhandel, of op ander wyses inmeng met eiendom en handelsvryheid, sal ons dit teenstaan, insluitende met litigasie waar toepaslik.”

Terselfdertyd vereis die benarde elektrisiteitsituasie dat ondernemings alle hefbome behoort te benut, insluitende die staat se erkenning van sy eie mislukkings, ten einde verdere desentralisering en denasionalisering van elektrisiteitsverskaffing te bevorder, voeg Le Roux by.

“Van kernbelang, is dat president Cyril Ramaphosa se aankondiging van ʼn ramptoestand oor elektrisiteit neerkom op ʼn amptelike regeringsverklaring dat die publiek ʼn ramp beleef waarvan die staat self die oorsaak is. Die energiekrisis verteenwoordig ʼn werklike, mensgemaakte probleem met ʼn duidelike oorsprong: die staat se elektrisiteitsmonopolie (Eskom) en die staat se energiebeleid.”

Le Roux sê die bestaan van ʼn ramp wat die samelewing op so ʼn ernstige en omvattende skaal bedreig, regverdig buitengewone stappe om die ramp te verlig en die oorsprong daarvan aan te pak.

“In teenstelling met Ramaphosa se oënskynlike geloof in gesentraliseerde energiebestuur deur die staat, soos blyk uit sy rede Donderdagaand, lê die oplossing van die energiekrisis in groter desentralisering in die hande van entrepreneurs, ingenieurs, beleggers en verbruikers. Ondernemings, burgerlike organisasies en die publiek behoort die regering se amptelike verklaring oor die staat se energiemislukking ten volle te benut om hul eie, nie-staatlike noodmaatreëls te regverdig.”

Te midde van voortgesette staatsmislukking, behoort besighede, verbruikers en gekoördineerde gemeenskappe op plaaslike vlak maniere te soek om noodmaatreëls te implementeer wat wissel van eie elektrisiteitsopwekking tot die onafhanklike vestiging of instandhouding van transmissie- en verspreidingsinfrastruktuur. Hierdie nie-staatsinstansies doen reeds byna 15 jaar buitengewone stappe en behoort nou des te meer stoutmoedig te strewe na vryelik beskikbare en bekostigbare energie wat gedesentraliseerd en staatsbestand is, meen Le Roux.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.