Sakeman sterf in Nelspruit-vliegongeluk

Jeff Mabuza (Foto: Glen Glenzito/Facebook)

Jeff Mabuza, ʼn sakeman van Steelpoort in Limpopo, is geïdentifiseer as die persoon wat dood is tydens die ligte vliegtuigongeluk naby die ou Nelspruit-lughawe.

Die vliegtuig het Maandag omstreeks 15:30 neergestort en Mabuza was die enigste persoon aan boord.

Mabuza was hoof- uitvoerende beampte van die aanleg-en-toerusting-verhuringsmaatskappy Mbojomane Plant and Transport Hire, wat in Steelpoort geleë is. Die maatskappy is in 2004 deur Mabuza en sy broer, Allan, gestig.

Volgens die maatskappy se webwerf het albei broers meer as 17 jaar ondervinding in die vervoer-, aanleghuur- en myndienstesektore.

Skermgreep uit die video (Video: Emer-G-Med)

ʼn Oudwerknemer van Mabuza het op voorwaarde van anonimiteit aan Maroela Media gesê Mabuza was ʼn passievolle vlieënier met ʼn groot liefde vir vlieg.

“Sy dood is ʼn groot verlies vir die lugvaartbedryf en ook die sakewêreld. Hy was ʼn wonderlike sakeman. Ons het ʼn groot man verloor en sy afwesigheid sal nog lank gevoel word,” sê die werknemer.

Volgens die werknemer was Mabuza ʼn baie goeie en vriendelike mens wat werk geskep het vir plaaslike en buitelandse burgers.

Maroela Media het verneem Mabuza was getroud en het kinders gehad, maar dis nie presies duidelik hoeveel kinders nie.

Maroela Media het vroeër berig paramedici het die vliegtuig in stukke aangetref.

Mabuza is op die toneel dood verklaar.

Die Burgerlike Lugvaartowerheid en die polisie ondersoek die oorsaak van die ongeluk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.