Sakeman sterf ná aanranding in kuierplek

Hannes van Dyk (Foto: Hannes van Dyk/Facebook)

Die gemeenskap van Phalaborwa, Limpopo, is geruk deur die dood van Hannes van Dyk (59), ʼn bekende sakeman op die dorp. Van Dyk is Saterdag in ’n kuierplek op die dorp aangerand.

Die 19-jarige Eugene Mulder is ná Van Dyk se dood in hegtenis geneem en het Maandag in die landdroshof op die dorp verskyn op aanklag van moord.

Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media bevestig dat die aanranding tussen 01:00 en 02:00 in die kuierplek Royal Bliss Bar plaasgevind het.

“Die polisie is na die kuierplek ontbied waar hulle ʼn man (Van Dyk) bebloed op die grond aangetref het. Ambulansdienste is na die toneel ontbied om die man na die naaste hospitaal te neem vir mediese behandeling,” sê Mojapelo.

Van Dyk het in die hospitaal aan sy beserings beswyk.

Eugene Mulder (Foto: TrotsAfrikaans/Facebook)

Die polisie se voorlopige ondersoek dui daarop dat Van Dyk saam met ʼn vriend by die kuierplek was toe Mulder hulle genader het.

Van Dyk is volgens inligting geslaan en het as gevolg van die hou op die grond neergeval.

“ʼn Saak van moord is aanhangig gemaak en Mulder is kort daarna in hegtenis geneem.”

Die beskuldigde sal na verwagting weer Donderdag in die hof verskyn.

Royal Bliss Club het op Facebook ʼn inskrywing gemaak waarin die “Mulder-familie” die kuierplek met onmiddellike effek verbied word.

“Julle sal nooit weer hier toegelaat word nie,” lui die inskrywing.

Die kuierplek het ook sy medelye met Van Dyk se familie en vriende betuig.

Maroela Media het navraag aan die eienaar van die kuierplek gerig, maar wag nog vir terugvoer.

Op Facebook is Van Dyk as ʼn goeie sakeman en mens beskryf. Hy was die mede-eienaar van die onderneming Multitech.

Hy word oorleef deur sy drie volwasse seuns.

Volgens Mojapelo veroordeel die polisie enige kriminele dade wat in kuierplekke, kroeë en drankwinkels plaasvind.

“Dit bly die verantwoordelikheid van die eienaars van die kuierplekke, kroeë of drinkplekke om seker te maak dat hul persele nie ʼn broeiplek vir kriminele aktiwiteite word nie.”

Die polisie doen ʼn beroep op gemeenskappe om alkohol verantwoordelik te gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

ES ·

Sjoe… 19 jaar oud. Sy lewe het nog nie eers begin nie, en as hy skuldig bevind word gaan hy tronk toe vir moord…

Want vandag se jongmanne moet mos als met die vuis regslaan. Jammer boetie, dis duur skoolgeld daai.

Koen ·

Dit was nog altyd so. Die mense hier sal jou vertel dat dit manne van hulle gemaak het.

Stofdonkie ·

Dis nou jammer dat die polisie net kriminele dade in kuierplekke, kroeë en drankwinkels veroordeel, en nie ook kriminele dade op plase ook kan veroordeel nie

Koen ·

As jy daardie tyd van die nag by sulke plekke uithang, soek jy mos vir moeilikheid. En natuurlik het drank geen rol gespeel nie. ,…..Mos.

Republikein in die Wes Kaap ·

Daar is baie van hierdie gevalle. Maar die sake vorder nie juis nie.

Nadia ·

Hoe kan so klein mannetjie so n ou slaan, ek was nie daar nie maar die gedagte dat so n nannetjie so n groot ou dood slaan.

FJ ·

Moet nooit die maer mannetjies onderskat nie. Met ‘n motorkaping so 3 doorpe van my het die maer bestuurder die hand met die pistool gegryp en die kaper in die bakkie getrek. Die kaper is gedurende ‘n noodoperasie dood. Ribbe het deur longe gesteek.

Gogga ·

Ja nee, soos almal sien ek ook nou net die laaste deel van die berig raak. Die polisie veroordeel enige kriminele dade wat in kuierplekke, kroeë en drankwinkels plaasvind…
Hier in Fochville is daar nogsteeds n saak aan die gang waar n vrou deur 6 mense by n kroeg dood geslaan is, en die saak word keer op keer uitgestel.
En snaaks dat dit in meeste sulke gevalle die jonger mense is wat skoorsoekerig is met ouer mense. Is dit oor hulle iets moet bewys?

Sobymykoolkop ·

Nou waarom sal die hele familie verbied word? Veral as hulle nie eers daar of betrokke was nie?

TruthDealer ·

Sommige van hulle het dalk ook al moeilikheid veroorsaak daar?

koos ·

Kuier eerder by jou huis saam met jou vrou, kinders en vriende. Dis veiliger en heelwat goedkoper.

melaney ·

Elders gelees hy het eers vertel hy is 25 jaar oud. Later het hy erken hy is maar 19. Sjoe!

George ·

Tyd dat die mannetjies wat hulself braaf hou in bars goed gestraf word. Lewenslank asb.

Koen ·

Miskien het die ouer persoon moeilikheid gesoek. Gedink hy kan sy lyf rondgooi met die maar mannetjie. Toe val hy?

Skappie ·

Ai, kan maar net se jammer aan die gesin en vriende van hierdie man. Mag onse Liewe Heer julle deur hierdie moeilike tyd dra wat vir julle voorle. Dit is so onnodig.

JohanR ·

In SA gebeur die daad in 2023, en loop eers tot sy einde in 2028.

Leona ·

Ek kan net simpatie betoon aan beide families. Daar is baie vrae. Ek bid dat daar berusting by beide families kan kom. Kuier liewer by jou huis en jy bly die veiligste.

Rooikoos ·

Hannes was my beste vriend in die weermag. Almal het hom Ouboet genoem. Hy het ‘n baie sagte persoonlikheid gehad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.